Die jongste oesskatting: 25,9% minder mielies geplant

DSC_0248
Die hersiene skatting van die oppervlakte onder mielies beloop 1,966 miljoen ha, wat 25,90% of 687 100 ha minder is as die 2,653 miljoen ha wat verlede seisoen aangeplant is, en ook 1,47% of 29 400 ha minder as die voorlopige oppervlakteskatting van 1,995 miljoen ha soos vrygestel in Januarie 2016.
Die verwagte kommersiële mielie-oes is 7,256 miljoen ton wat 27,11% of 2,699 miljoen ton minder is as die 9,955 miljoen ton van die vorige seisoen (2015), wat ook ’n droogte jaar was. Die huidige oes van 7,256 miljoen ton is ongeveer die helfte van die 2014-oes, toe dit 14,250 miljoen ton was!
Die syfers is hoofsaaklik verkry vanaf die Produsente Onafhanklike Oesskattingstelsel (PICES), soos deur die Nasionale Oesskattingskonsortium gerapporteer vir die somergraanstreke.
Neem kennis dat inligting van die objektiewe opbrengs-opname van die Konsortium vir die Mpumalanga-provinsie, in April 2016 gerapporteer word en vir die Vrystaat en Noordwes in Mei 2016. Die huidige opbrengssyfers is hoofsaaklik verkry vanaf produsente in die verskillende provinsies.
Die oppervlak onder witmielies is 1,021 miljoen ha, wat ’n afname van 29,51% of 427 300 ha verteenwoordig vergeleke met die 1,448 miljoen ha die vorige seisoen. In die geval van geelmielies is die oppervlakteskatting 945 000 ha, wat ook 21,56% of 259 800 ha minder is as die 1,205 miljoen ha geplant die vorige seisoen.
Die produksieskatting van witmielies is 3,196 miljoen ton, 32,51% of 1,539 miljoen ton minder is as die 4,735 miljoen ton van die vorige seisoen. Die opbrengs van witmielies is 3,13 t/ha. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 4,060 miljoen ton, wat 22,22% of 1,160 miljoen ton minder is as die 5,220 miljoen ton van die vorige seisoen. Die opbrengs van geelmielies is 4,30 t/ha.
Ander somergewasse:
Sonneblomsaad: Die voorlopige oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 687 500 ha, wat omtrent 19,36% of 111 500 ha meer is as die 576 000 ha aangeplant die vorige seisoen. Die produksieskatting vir sonneblomsaad is 687 150 ton, wat 3,64% of 24 150 ton meer is as die 663 000 ton van die vorige seisoen. Die verwagte opbrengs is 1,00 t/ha.
Ander gewasse: Die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 519 800 ha, wat ’n afname van 24,37% of 167 500 ha verteenwoordig vergeleke met die 687 300 ha geplant die vorige seisoen. Die produksieskatting is 724 600 ton, wat 32,28% of 345 400 ton minder is as die 1,070 milj. ton van die vorige seisoen. Die verwagte opbrengs is 1,39 t/ha.
Vir grondbone is die oppervlakteskatting 23 100 ha, wat 60,17% of 34 900 ha minder is as die 58 000 ha geplant vir die vorige seisoen. Die verwagte grondbone-oes is 34 120 ton – 45,23% of 28 180 ton minder as die 62 300 ton van die vorige seisoen. Die verwagte opbrengs is 1,48 t/ha.
Die oppervlakteskatting vir sorghum het afgeneem met 31,21% of 22 000 ha, van 70 500 ha tot 48 500 ha teenoor die vorige seisoen. Die produksieskatting van sorghum is 93 400 ton – 22,49% of 27 100 ton minder as die 120 500 ton van die vorige seisoen. Die verwagte opbrengs is 1,93 t/ha.
Vir droëbone is die geskatte oppervlakte beplant 36 400 ha, wat 43,13% of 27 600 ha minder is as die 64 000 ha geplant vir die vorige seisoen. Die produksieskatting is 44 095 ton, wat 39,92% of 29 295 ton minder is as die 73 390 ton van die vorige seisoen. Die verwagte opbrengs is 1,21 t/ha.
Neem asseblief kennis dat die derde produksieskatting vir somergewasse vir 2016, op 30 Maart 2016 vrygestel sal word.
Wintergewasse – 2015 produksie-seisoen
Koring: Die verwagte kommersiële produksie vir koring is 1,457 miljoen ton, wat 2,94% of 44 175 ton minder is as die 1,501 miljoen ton van die vorige skatting, met ‘n verwagte opbrengs van 3,02 t/ha.
Gedurende die huidige (2015) produksie seisoen, is die grootste gedeelte van die land se koring-oes in die Wes-Kaap (697 500 ton of 48%) geproduseer, gevolg deur die Noord-Kaap (259 200 ton of 18%) en die Vrystaat (184 000 ton of 13%) provinsies.
Die oppervlakteskatting vir koring is 482 150 ha.
Ander gewasse: Die produksieskatting vir moutgars is 333 373 ton, wat 2,34% of 8 000 ton minder is as die vorige skatting van 341 373 ton. Die oppervlakte beplant is beraam op 93 730 ha, terwyl die verwagte opbrengs 3,56 t/ha beloop.
Die verwagte kanola-oes is onveranderd gelaat op 97 600 ton. Die oppervlakteskatting vir kanola is 78 050 ha, met ʼn verwagte opbrengs van 1,25 t/ha.
Neem asseblief kennis dat die voorneme om wintergewasse te plant vir 2016 op 26 April 2016 vrygestel sal word.
Meer inligting en grafieke is beskikbaar op die internet by: http://www.daff.gov.za/statistics
Bron: Oesskattingskomitee