Die Jakaranda Landbouskou bied ’n fees van landbou…en help Boere in Nood

jacaranda landbouskou aug
Die Jakaranda Landbouskou, wat vanaf 24 tot 28 Augustus 2016 by die Tshwane Events Centre gehou word, gaan vanjaar ’n fees van landbou, wildboerdery, landboumasjinerie, lewendehawe, landbousake-ontwikkeling, tegnologie en organiese boerdery aanbied.
Perde-, beeste-, pluimvee en sierduif-aktiwiteite is op die program. Daar is ook ’n Internasionale Afrikanerbees-ekspo, ’n werksessie vir die wildbedryf met die tema ‘Ranching with buck in these modern times’, en nuttige inligting soos wenke vir die motivering van vuurwapenlisensies en die herlaaiding van patrone. Die Capital City Business Chamber en AgriAllAfrica bied handels- en netwerksessies vir sake- en boerdery-ontwikkeling in Afrika aan, in die AfriFem™-saal is aanbiedings spesiaal vir die dames, soos ’n hoedwedstryd, en daar is ’n jeugskou.
Boere in Nood
Die skoubestuurder, Petro Ferreira, nooi alle Pretorianers uit om die konserte by te woon ten bate van boere wat swaarkry as gevolg van die voortdurende droogte.
Die konsertprys is ingesluit by die R70-toegangsgeld en vind die Vrydag- en Saterdagaand plaas.
“Ons Boere in Nood-verhoog gaan gasheer speel vir die room van Suid-Afrikaanse kunstenaars, soos Kurt Darren, Matthys Roets, Andriëtte Norman, Rinel Day, Ricus Nel, Heinz Winckler, Arno Jordaan, Jay, Armand Hofmeyr en Dewald Dippenaar. Ons bied ook op die Sondag ’n gospelkonsert met die kunstenaars Danie Botha en Piet Smit aan. Hierdie vertonings is by die hekgeld ingesluit en ons nooi die publiek om piekniekkomberse en stoele te bring en om die lente saam met ons te verwelkom terwyl ons saamluister na goeie musiek ten bate van ons boere.”
Die jeug is belangrik
Die skou bied drie projekte vir die jeug aan. Eerstens, as deel van die Interprovinsiale Jeugskou, ding leerlinge in 15 afdelings mee, wat die hantering van beeste, perde, pluimvee, konyne, wolskape, bokke, varke en duiwe insluit. Gedurende hierdie kompetisie word die dier glad nie beoordeel nie, slegs die skoumanskap en kennis van die deelnemer.
Tweedens begin die Landbounavorsingsraad (LNR) in vennootskap met die Jakaranda Skou die LNR-Landboujeugskouskool van die Jaar-toekenning 2016. Hierdie toekenning is gemik op skole wat betrokke is by landbou en dit gee aan leerlinge die geleentheid om plakkate te ontwerp wat die verskeie dissiplines van diereproduksie uitbeeld.
Derdens, vir die eerste maal op hierdie interprovinsiale vlak, word daar jeugskoubeoordelaars- en ringgidskursusse aangebied. Hierdie kursusse is oop vir mense wat daarin belangstel om betrokke te raak by die beoordeling van jeugskoukompetisies.
Beeste
Agt beesrasse sal aan vanjaar se skou deelneem, naamlik Brahman, Braunvieh, Limousin, Pinzgauer, PinZ²yl, Simmentaler, Simbra en natuurlik die Afrikaners wat ook ’n veiling hou. Die Beesinterraskompetisie word op Saterdag, 27 Augustus, aangebied.
Perde
Die perdeskou begin op Saterdag, 20 Augustus, en strek oor ’n tydperk van nege dae. Hand-, ry- en tuigklasse word beoordeel. Die pragtige Friesperde, miniatuurperde, Star Stallions en suiwer Arabierperde beloof om groot trekpleisters op die program te wees.
Die skouspelagtige Star Stallion word op Donderdag 25 Augustus om 17:00 in die Hoofarena gehou. Van die land se mooiste Friesperde kan tydens die aand se Friesperdvertoning gesien word. Die miniatuurperde se skou vind op Vrydag 26 en Saterdag 27 Augustus plaas. Hierdie pragtige en baie sosiale perde is altyd ‘n gunsteling onder die besoekers
Geveerde vriende
Saal B word gewy aan geveerde vriende, wat Australorps, Bramas, Orpingtons en Leghorns, sowel as sierduiwe insluit.
Hekke is oop van 08:00 tot laat (na die konserte). Sale is oop van 09:00 tot 18:00
Kaartjiepryse: Volwassenes R70 per persoon, skoliere R50 per persoon, voorskoolse kinders gratis. Parkering beskikbaar by die Kerkstraat-ingang teen R20 per voertuig. Vir meer inligting besoek www.jacarandashow.co.za.
