Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 26th November 2021

Chemiese skade aan jong plante

By 3 min read
494 words

pioneer 1

Figuur 1: Mieliesaailing wat asetamiedskade vertoon.

deur AJ Steyn, Pioneer veldagronoom

 Wanneer planttyd vir somergewasse aanbreek, weet ons nie wat die seisoen gaan inhou ten opsigte van klimaatstoestande nie.

Die gebruik van chemiese onkruiddoders het so deel van produksiepraktyke geword dat daar natuurlik uitdagings in terme van toedieningsmetodes en dosisse ontstaan, omdat omgewingsfaktore en gronde wissel.

Dit bly belangrik om by die etiket­aanbevelings te hou om doeltreffend­heid van onkruiddoders te optimali­seer. Skadesimptome kom egter elke seisoen voor, en korrekte identifikasie van simptome bly van belang asook om risiko’s so ver moontlik te systap.

Diagnose van abnormaliteite

Wanneer chemiese skade op saailinge vermoed word, is ՚n sistematiese ondersoek na die oorsaak van die skade nodig op drie vlakke, naamlik:

  • Voorkoms van die land
  • Simptome op aangetaste plante
  • Simptome op plantdele, byvoorbeeld blare of stamme

Daar moet ook bepaal word of die simptome in die land herhalend van aard of lukraak is. Gereelde patrone kom dikwels voor as gevolg van:

  • Oorvleueling van spuittoediening
  • Grondverdigting
  • Spuittenkbesmetting
  • Mengfoute van chemiese middels
  • Toedieningsfoute
  • Winddrywing

Lukraak patrone as gevolg van omgewingsfaktore sluit dikwels die volgende in:

  • Onkruiddoderoordrag vanaf die vo­rige seisoen (byvoorbeeld atrasien na droë seisoen)
  • Spuitdrywing
  • Topografie (byvoorbeeld sywaartse watersyfering)
  • Weerstoestande (koue en nat)
  • Plantspanning (koue / hitte)
  • Grondvogtoestande (dikwels uiter­stes)
  • Klei-inhoud / Organiese materiaal

 Plantstrukture verskaf dikwels leidrade ten opsigte van die tyd en bron van die skade, byvoorbeeld:

  • Saailinge of groter plante
  • Wortelskade
  • Onderste of boonste blare
  • Koppe of pitte
  • Kombinasies van bogenoemde

Dit is nodig om te bepaal wanneer die besering plaasgevind het, naamlik:

  • Gedurende of net na saailingver­skyning
  • Goeie aanvanklike stand en groei, en daarna die besering
Figuur 2: Butilaatskade aan ‘n mieliesaailing.

Grasdoders

Vir die doel van geheueverfrissing word die grasdodergroep van vooropkoms-onkruiddoders uitgelig. Hierdie che­miese groep sluit die asetamiede, chlo­ro-asetamiede en oksie-asetamiede in, met aktiewe bestanddele soos alachlor, acetochlor en metolachlor. Die werking van hierdie groep grasdoders vertraag die vorming van selmembrane en inhi­beer so onkruidgroei.

Omdat die mielieplant ook aan die grasfamilie behoort, word beveiligers by hierdie chemie gevoeg om veilige gebruik in mielies te verseker.

Die grond se kleipersentasie word in ag geneem om die korrekte dosis grasdoder te bepaal. Probleme duik gewoonlik op wanneer (veral met vroeg plant) die nagtemperature laag daal. Die mieliesaailing se koleoptiel druk dan stadiger deur die onkruiddodersone as normaalweg en neem in die proses meer grasdoder op as wat dit moet.

Figuur 1 vertoon asetamiedskade en hier kan die tipiese grasdoderskade (verwronge saailing) gesien word.

Figuur 2 dui butilaatskade aan — dit kan voorkom as onkruiddoder sonder beveiliger toegedien word of as die opkoms vertraag word as gevolg van koel, nat grond.

Boere wat vroeg wil plant moet die weervoorspellings goed dophou om die kanse van ՚n laat koue na planttyd so ver as moontlik uit te skakel en hierdie gepaardgaande probleme te systap.

 Verwysings:

Bernards, Mark L, Herbicide Injury Symptoms in Corn, University of Nebraska, 2009.

Clay, Sharon A. Herbicide Injury to Corn. Chapter 42, I Grow corn. SDSU Extension.

Vir meer inligting, gaan na www.pioneer.com/za of stuur ՚n e-pos na info.rsa@pioneer.com

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0