Broer en suster put waarde uit turksvyplante

bianca 2
deur Tisha Steyn
Die nederige turksvy het ՚n besondere band tussen ՚n broer en suster en tussen landbou en die skoonheidswêreld geskep.
Bianca en Abel Grobbelaar het op die plaas Wolweplaat in die Luckhoff-omgewing in die Suid-Vrystaat grootgeword.
“Ons Grobbelaars is sterk gewortel in landbou,” vertel Bianca, wat in 2018 met Duran Alberts getroud is. “Ons het sterk waardes en is trots op ons herkoms.”
Albei het aan die Hoër Landbouskool Jacobsdal matrikuleer voor Abel B. Agric in Gemengde Boerdery aan die Universiteit van die Vrystaat (UOVS) in Bloemfontein gaan studeer het.

Twee turksvykultivars wat nie gelyk ryp word nie, is aangeplant vir die blaaie, maar ook vir die vrugte wat verwerk en ten volle benut word.
Aanvanklik het Bianca ook landbou as studierigting oorweeg, maar uiteindelik Drama en Teaterkunde by UOVS gaan studeer waar veral grimeerkuns haar aandag getrek het. Sy het in 2017 haar eie klein skoonheidspraktyk in ՚n klein kamertjie in Oos-Londen begin. Vandag bedryf sy Beautiful by Bea Welstandsentrum vanuit haar eie perseel waar sy en ՚n span skoonheidsterapeute fokus op velsorg.
Dit is waar die boerdery ՚n belangrike rol speel.

Die vrugte van die turksvye word einde Februarie, begin Maart ryp.
Die Turksvy-verbinding
“Boerdery was nog altyd in my bloed en ek het van kleins af saam met my pa Roelf geboer,” vertel Abel. Hy en sy vrou Wanda woon op Wolweplaat waar hy mielies en koring plant en met wild, beeste en skape boer.
Hy het as student turksvye as wintervoer vir die wild en vee aangeplant en lewer self die turksvypitte vir die olie. Die mark vereis egter meer as wat hulle self kan lewer en hulle koop nog aan van ander plase wat aan hulle streng standaarde voldoen.
Abel verskaf die turksvypitte waaruit die kosbare olie gepars word wat Bianca se vlagskipproduk is en hy is ՚n vennoot in Petrichor Naturals.

Die turksvypitte word op siwwe in die son gedroog voordat die olie deur middel van ՚n koueparsmetode onttrek word.
“Tydens die Covid-19-pandemie in 2022 was my vrou baie siek en ons was in kwarantyn,” vertel Abel. “Dis toe dat ek begin wonder het wat ՚n mens met die turksvye kan doen sodat die vrugte nie verlore gaan nie: ՚n Boer hou nie van vermorsing nie.”
Die vrugte, wat maklik kneus, is nie geskik vir die varsproduktemark nie. Sy navorsing het getoon dat die hele plant hoë voedingswaarde het – van die blaaie wat hy oes en heel vir die wild en beeste voer of opkap vir die skape, tot die vrugte wat ՚n hoë sui-kerinhoud het, en die pitte waaruit olie gepars kan word.
“Abel het my op ՚n dag gebel en vertel van die turksvy-olie se besondere eienskappe,” vertel Bianca. Haar eie navorsing het getoon dat die olie in suiwer vorm onder meer ryk is aan anti-oksidante en Vitamien E, wat helende eienskappe vir die vel het.

Petrichor Naturals se pragtig verpakte turksvysaadolie is die duurste olie ter wêreld en dit is ՚n unieke produk wat deur ՚n broer en suster, Abel Grobbelaar en Bianca Alberts, ontwikkel is.
Petrichor Naturals
“Ek het jare gelede uitgevind die term petrichor verwys na die ‘reuk van grond na reën’, vertel Bianca. ”Ek het dit met my broer gedeel want die reuk laat my altyd na hom, my pa en die plaas verlang.”
En so het die naam Petrichor Naturals ontstaan: Net soos die broer en suster se noue band met die aarde en met mekaar, is die produk ՚n verbond tussen Abel se boerdery en Bianca se skoonheidsbedryf.
- Bianca Alberts, direkteur van Petrichor Naturals.
- Abel Grobbelaar in sy turksvyboord op die familieplaas Wolweplaat in die Vrystaat.
Turksvye die veeboer se spens
“Turksvye is al die jare nog ՚n belang-rike voerbron vir ՚n veeboer. Daar is nie ՚n ou plaasopstal waaraan ek kan dink sonder ՚n turksvybos nie, want in die winter is turksvye die diere se voerspens, dit was die oumense se koöperasie. Ons is in vandag se lewe baie gerieflik en gemaklik, ons gaan koop voer as dit nodig is. Die vorige geslagte het nie daardie luukshede gehad nie; hulle het gebruik wat tot hulle beskikking was, soos turksvyblare. Dit is vandag nog ՚n uitstekende voer; ek dink net ons het bederf geraak met die aankoop van voer,” vertel Abel.
Twee turksvykultivars, naamlik Meyer en Morado, word aangeplant sodat nie al die vrugte gelyk ryp word nie.
Turksvye plant maklik voort van blaaie wat afgesny en effens uitgedroog word voordat dit vroeg in Oktober, wanneer die gevaar van swart-ryp verby is, in die goedgedreineerde, sanderige grond van die Suid-Vrystaat aangeplant word. Die plante is nie kieskeurig, groei in enige grondtipe en het nie bykomende water nodig nie.

Agt ton vrugte is nodig vir 30 kg saad/pitte, waaruit net een liter olie gepars word.
Al pes wat die plant aanval is cochineal (Dactylopius confuses), ՚n wasagtige plantluis wat net op sekere kaktusspesies voed. Abel verwyder besmette blaaie en enige ander kaktusspesies, soos litjieskaktus, wat op die plaas voorkom om verspreiding deur voëls te voorkom.
Die blaaie word afgesny en net so heel vir die wild en beeste gevoer. Vir die skape word dit op ՚n seiltjie neergesit en met ՚n graaf in blokkies gekap.
Die vrugte, wat einde Februarie, begin Maart ryp word, word met die hand geoes deur werkers in beskermende klere, met ՚n bril en dik rubberhandskoene wat teen die fyn dorinkies beskerm. Dit skep werksgeleenthede vir plaaslike mense; twintig mense kan sowat een hektaar per dag oes.
Agt ton vrugte is nodig vir 30 kg saad/pitte, waaruit een liter olie gepars word!

Die bedryf is baie arbeidsintensief want die vrugte word met die hand gepluk deur werkers wat beskermende klere en dik rubberhandskoene dra.
Parsproses
Abel het ՚n masjien gebou wat die skil, sap en pitte van die vrugte skei. Die skille word veevoer en die sap word soos melasse oor droë voer gegooi om die voedingswaarde te verhoog.
Die pitte word op siwwe in die son gedroog voordat dit in sakke na ՚n fabriek geneem word waar die olie met ՚n koueparsproses onttrek word.
Die koueparsproses verseker dat die olie ՚n langer rakleeftyd het en geen vreemde reuke of galsterigheid ontwikkel nie.
Die olie word deur ՚n laboratorium getoets vir suiwerheid voordat dit verpak, verseël en van ՚n kode van herkoms voorsien word.
Die suiwer olie word na Oos-Londen vervoer waar dit in Petrichor Naturals se produkte gebruik word. Uiteindelik gaan niks van die turksvy verlore nie; selfs die houtagtige oorblyfsels van die pitte word as skropmiddel in die skoonheidsbedryf gebruik.

Die pitte word in ՚n spesiale ma-sjien van die skille en sap geskei, gesondroog en in sakke na die fabriek vervoer waar die olie met behulp van ՚n koueparsmetode onttrek word.
Spesiale verpakking
Volgens Bianca en Abel is baie moeite gedoen om ՚n stylvolle verpakking te ontwerp wat reg laat geskied aan die honderd present suiwer, goue, ryk olie met die neutagtige reuk van grond.
Bianca sê: “Turksvy-olie is die duurste ter wêreld en dit kan met reg die koningin van olies genoem word; en ՚n koningin moet in ՚n koets ry! Die proses en die produk is te waardevol om in sommer enige verpakking bemark te word.”
Wonderolie
Volgens Bianca is dit verrassend dat die nederige turksvy wat eintlik ՚n woestynkaktus is, sulke waardevolle olie kan lewer. “Wie sou dit nou kon dink? Mens kyk vas teen die vaalgroen blare en die dorings. Tog oorleef dit in die uiterste omstandighede en dra pragtige blomme. Dit is moeilik om te pluk en te skil en die droog van die pitte in die vars vrug is lastig. Tog verskaf die pitte, wat kurkdroog moet wees voordat dit gepars word, die suiwerste olie wat geen toevoegings nodig het om ՚n puik velsorgproduk te wees nie.”
Buiten die laboratorium-gewaarborgde hoë standaard van die onverdunde olie, is die doeltreffende gebruik daarvan deur persoonlike gevallestu-dies bevestig. “Die produk is geskik vir die gevorderde behandeling van selfs ernstige veltoestande, “ sê Bianca.
Die olie word ook gebruik as velsorgmiddel wat die elastisiteit van ՚n normale vel verbeter en dit jong en soepel laat lyk. Die natuurlike komponente is anti-inflammatories en dit help met pigmentasie. Dit behandel en voorkom verskeie ongewenste veltoestande.
“Dit is geskik vir enige veltipe en word suksesvol gebruik in die behandeling van aknee, ekseem, roos en selfs vir brandwonde en babas se brandboudjies.” Tot dusver kon nog geen allergiese reaksie waargeneem word nie.
Volgens Bianca word beplan om mettertyd nog produkte te ontwikkel. “Ons wil vroue aanmoedig om hulleself goed te versorg sodat hulle op hulle beste voel om te skyn vir almal rondom hulle.”

Velspesialis Brenda Nell doen ՚n dermaplane-velbehandeling op Christine Langheim met Petrichor-turksvy-olie.
Die produkte kan aanlyn op die webtuiste bestel word of is beskikbaar by Beautiful by Bea Welstandsentrum in Oos-Londen. Petrichor is beskikbaar om in skoonheidsklinieke en in die groothandel verkoop te word. Aflewe-ring in Suid-Afrika is gratis. Wanneer die produk na ander lande gestuur word sal daar versendingskoste bykom.
Kontak Petrichor Naturals by 065-7238-252 of info@petrichornaturals.com. Vir produkte, kontak Bianca Alberts by bianca@petrichornaturals.com. Vir aankope van turksvye vir aanplantings, kontak Abel Grobbelaar by 082-431-8971 of abel@petrichornaturals.com. Besoek die webtuiste by www.petrichornaturals.com.


Julle is besig met baie interresante dinge!
Kan mens die turksvy olie in jou Kos ook gebruik?
Hi Nada
Die beste sal wees om self by die suster of broer uit te vind by: Petrichor Naturals by 065-7238-252 of info@petrichornaturals.com. Bianca Alberts by bianca@petrichornaturals.com. Vir aankope van turksvye vir aanplantings, kontak Abel Grobbelaar by 082-431-8971 of abel@petrichornaturals.com. Besoek die webtuiste by http://www.petrichornaturals.com.