Brandstofprysstygings in Mei verwag

brandstof
Deur Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-Ekonoom
Die pryse van brandstof sal na verwagting in Mei skerp styg. Volgens die jongste inligting van die Departement van Energie wat vanoggend bekend gemaak is, kan die prys van petrol 93 (ULP & LRP) in Gauteng op Woensdag, 3 Mei 2017 moontlik met 45,4c per liter en die prys van diesel met ‘n 0,005% swaelinhoud moontlik met 32,6c per liter styg.
Die belangrikste redes vir hierdie verwagte prysstygings kan hoofsaaklik aan die verswakking in die gemiddelde R/$-wisselkoers oor die tydperk van 31 Maart tot 24 April 2017 toegeskryf word. Hoewel die daaglikse wisselkoers sedert die middel van April aansienlik tot om en by R/$13 versterk het, het die gemiddelde wisselkoers oor dieselfde tydperk net tot R/$13,53 verbeter. Dit is gevolglik nog heelwat swakker as die gemiddelde wisselkoers van R/$12,90 waarop die prysveranderings vir April bereken was. Hierdie verswakking in die gemiddelde R/$-wisselkoers het ‘n styging van 26,1c per liter in die petrolprys en 25,6c per liter in die dieselprys vir volgende maand veroorsaak.
Die styging in die gemiddelde internasionale pryse van petroleumprodukte as gevolg van die hoër ru-olieprys oor die afgelope maand het verdere stygings van 19,3c per liter in die petrolprys en 7,0c per liter in die dieselprys veroorsaak.
Die finale prysveranderings sal op Vrydag, 28 April 2017 deur die Minister van Energie bekend gemaak word.
Bron: Departement van Energie