Categories: NewsPublished On: 29th March 2017

Brandstofpryse is laer in April

By 3 min read
536 words
brandstof

brandstof

Brandstofpryse in April sal laer wees as in Maart, selfs al is die 39c per liter in brandstofbelasting bygetel. Dit is volgens die Automobiel Assosiasie (AA) wat kommentaar lewer op die brandstofdata wat deur die Sentrale Energiefonds vrygestel is.

“Internasionale petroleumpryse het voortgegaan om gedurende Maart verligting te bring. Oor dieselfde tydperk was die Rand sterk teen die Amerikaanse Dollar,” sê die AA.

Die AA sê daar word verwag dat petrol met 24c per liter, diesel met 9c per liter en paraffien met 10c sal daal. “Onsekerheid duur voort rondom sleutel politieke figure in die ministerie van Finansies. Die publiek wat ‘n lae inkomste verdien word regstreeks geraak deur brandstofpryse wat weer geraak word deur die Rand se swakheid,” sê die AA.

Verdere politieke skokke wat die Rand verswak sal ook regstreeks ‘n uitwerking hê op verhoogde vervoerkostes asook hoër huishoudelike kostes vir die wat paraffien gebruik vir kook en beligting.

Fanie Brink, ‘n onafhanklike landbou-ekonoom, bevestig ook dat die pryse gaan daal. Hy sê alle inligting dui daarop dat laer brandstofpryse in Aprilmaand verwag kan word. Volgens die jongste inligting van die Departement van Energie wat bekend gemaak is, kan die prys van petrol 93 (ULP & LRP) in Gauteng op Woensdag, 5 April 2017 moontlik met 62,8 sent per liter en die prys van diesel met ‘n 0,005% swaelinhoud met moontlik 48,8 sent per liter daal.

Die belangrikste redes vir hierdie verwagte prysverlagings kan hoofsaaklik aan die laer internasionale ru-olieprys toegeskryf word ten spyte van die ooreenkoms wat die lede en nie-lede van die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande (OPUL) in Desember 2016 bereik het om hulle produksie van ru-olie met 1,8 miljoen vate per dag te verminder. Die ooreenkoms het op 1 Januarie 2017 vir 6 maande lank in werking getree. Terselfdertyd het die VSA se ru-olievoorraad die afgelope maand nuwe rekordvlakke bereik wat ook druk op ru-olieprys geplaas het wat tot die laagste vlak hierdie jaar gedaal het.

“Die gevolglike laer internasionale pryse van petroleumprodukte die afgelope maand het sover dalings van bykans 60,2 sent per liter in die plaaslike petrolprys en 46,2 sent per liter in die dieselprys veroorsaak. Die versterking van die gemiddelde R/$-wisselkoers oor die afgelope maand het egter ook ‘n verlaging in beide die plaaslike petrol- en dieselprys van 2,6 sent per liter tot gevolg gehad. Die skerp verswakking in die R/$-wisselkoers oor die laaste paar dae van die maand sal nie ‘n noemenswaardige invloed op die gemiddelde wisselkoers vir die maand veroorsaak nie,” sê Fanie.

Die minister van Finansies het tydens sy begrotingsrede in die Parlement op 22 Februarie 2017 aangekondig dat die brandstofheffing met 9 sent per liter en die heffing vir Padongeluksfonds met 30 sent per liter in April 2017 verhoog sal word wanneer die normale maandelikse veranderings in die brandstofpryse in werking tree. Hierdie verhogings beteken dat die verwagte prys van petrol met moontlik net 23,8 sent per liter en die dieselprys met moontlik net 9,8 sent per liter op 5 April 2017 sal daal.

Die finale prysveranderings sal op Vrydag, 31 Maart 2017 deur die minister van Energie bekend gemaak word en op 1 April sal ‘n bykomende 30c bygevoeg word tot die algemene brandstofheffing, wat dan R3,15 per liter sal wees en ‘n bykomende 9c sal bygesit word vir die Padongelukkefonds(POF) wat dit verhoog na R1,63 per liter.

Bron: Departement van Energie en AA

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0