Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 17th July 2018

Bogballe-strooiers nou nog vinniger, sterker en slimmer

By 5 min read
1031 words

valtrac 1

Die Bogballe M35W is ’n gevorderde, akkurate, maklik-om-te werk kunsmisstrooier wat ten volle outomaties gekalibreer en beheer word met ’n Isobus GPS-stelsel.

Kunsmis kos baie geld en daarom moet elke korrel tel. Die Deense maatskappy, Bogballe, spesialiseer in die ontwikkeling en vervaardiging van strooiers wat vir die boer elke kriesel waarde uit sy kunsmisrekening put. Valtrac versprei die strooiers in Suid-Afrika en baie boere pluk al die vrugte van die akkurate presisietoediening van bemestingstowwe deur Bogballe se uitstekende reeks masjiene.

By NAMPO kon boere hulle ook verkyk aan die nuttige nuwe eienskappe van Bogballe se M-reeks. Die strooiers se elegante lyne word nou afgerond met netjiese, afslaanbare weerkaatsingstroke en waterdigte LUD-ligte wat kan wegvou sodat die strooier oral deeglik gewas kan word sodat geen kunsmisstof agterbly nie. Die raamwerk word ook nou nog stewiger gemaak om seker te maak jy en jou Bogballe word saam oud.

Nog ’n nuwigheid is die vermoë om die toediening aan te pas van ’n paar honderd gram per hektaar tot ’n ongelooflike 3 ton per hektaar deur ’n werpskyfverstelling. Die ligter toedienings is veral nuttig vir die vestiging van groenbemesting. Die hoëvolumetoediening, wat ook teen hoë spoed plaasvind, is die prefekte oplossing vir boere wat deesdae organiese verpilde bemesting gebruik. Bogballe se tegnologie voer presisiestrooiwerk so ver dat jy selfs jou land in dele van 30 x 30 meter kan opdeel as jy regtig wil!

Bogballe spog met die onderskeiding dat die maatskappy die wêreld se grootste en tweedegrootste driepuntstrooiers vervaardig, naamlik die M6 van 5 500 liter en die M45 van 4 500 liter. Dit is wel moontlik vir boere wat nie die nodige trekker- of hyserkrag et nie, om ’n Bogballe-strooier van 4 000 liter op ’n pasgemaakte onderstel met hoëflotasiebande te plaas en dan met ’n trekker van so min as 70 kW te sleep.

Egalige toediening

Al die eienskappe dra by dat Bogballe internasionaal op die voorpunt van strooiertegnologie bly, maar die kern van die strooiers se sukses bly steeds die ongeëwenaarde egaligheid en volledige dekking van Bogballe se kunsmisverspreiding. Een van die redes vir die perfekte kunsmisverspreiding en -plasing is dat die Bogballe se skywe inwaarts, anders as konvensionele strooiers s’n, kan draai. Dit maak die Bogballe meer veelsydig en stel hom daartoe in staat om die some van die land akkuraat en sonder vermorsing of onnodige oorvleueling te bestrooi.

Kies jou beheerstelsel

Daar is drie beheerstelsels waaruit die boer kan kies. Jy kan met basiese beheer begin en dan jou strooier opgradeer soos jy aangaan.

Standaard: Die standaardstrooier wat deur die trekker se kragaftakker aangedryf word en wat sy sluis hidroulies oop- en toemaak.

Grondspoed-onafhanklik: Iconbeheerder, stilstaande kalibrasie, elektriese oop- en toemaak, strooiaanpassing by trekkerspoed om teen enige spoed steeds presies dieselfde hoeveelheid kunsmis per hektaar te plaas. Geen GPS-stelsel is nodig vir die opsie nie. Trekkerspoed kan direk van die ratkas af bepaal word, andersins kan ’n wielspoedsensor vir ouer trekkers gebruik word.

Vol presisie: Wisselende toediening volgens jou GPS-kaarte; sluit self binne die land aan en af om nie verby die wenakker te strooi nie; kan seksiebeheer toepas om oorvleueling te voorkom; ten volle outomatiese kalibrasie met behulp van ’n ingeboude skaal en elektriese oop- en toemaak van sluise.

Kies jou model

Daar is twee reekse strooiers in Suid-Afrika beskikbaar, naamlik die L- en die M-reeks. Die tenkgroottes wissel van 775 tot 4 500 liter. In die L-reeks is die gewildste intreevlakstrooier met variërende toediening, die L2W Plus wat 2 050 liter of 2 000 kg kunsmis hou en tot 24 meter wyd strooi. Dit is ook moontlik om van die strooiers in die reeks in te stel vir boorde en wingerde. In die M-reeks het die M35W (3 000 liter) en die M45W (4 500 liter) pas deur die vernuwingsproses gegaan. Hulle albei strooi 42 meter wyd.

Bogballe-kunsmisstrooiers bied die boer talle nuttige voordele, wat hulleself almal uiteindelik in sy bankrekening laat geld:

  • Bogballe lewer regoor die land die mees akkurate, mees eenvormige kunsmisverspreiding, ook by die wenakkers en aan die kante.
  • Die Bogballe se outomatiese luike sorg dat die kunsmis strykdeur in die regte posisie op die skyf beland vir ’n perfekte verspreidingspatroon teen enige spoed, kunsmisvloei of werkwydte.
  • Die werpers is van mangaanstaal gemaak om ’n lang lewe te verseker en is so ontwerp dat dit nie korrelkunsmis verpoeier nie.
  • Dit is baie maklik om die Bogballe te kalibreer en daar is byna geen risiko van verkeerde kalibrasie nie. Die Bogballe met skaal en intelligente beheer vereis net een verstelling van die kantelhoek om die regte strooiwydte te kies. Verder sorg die masjien vir deurlopende perfekte toediening.
  • Almal weet hoe vernielend kunsmis metaal kan vreet, maar Bogballe se poeierdeklaag met “Flexi Coat”-afwerking verseker ’n lang lewe. Bogballe spog met een van die wêreld se gevorderdste poeierdeklaagaanlegte. Die strooiers gaan almal deur ’n 7-stap verfproses voor dit aanmekaargesit word. Die strooiskywe, skerms en tenkbasis is van vlekvry staal gemaak.
  • Die Bogballe se roerder begelei die kunsmis sagkens na die uitlaatopening sonder om dit te beskadig.
  • Onder in die saadbak, bo die roerder, is ’n kegel wat verseker dat die gewig van die kunsmis nie verpoeiering veroorsaak nie.
  • Die Bogballe se kragoordragstelsel verg geen onderhoud nie en word deur ’n glipkoppelaar teen oorlading beskerm.

Suid-Afrika se boere weet reeds dat Valtrac net werktuie van die hoogste gehalte, uitgeknip vir ons boere se behoeftes en toestande, verskaf. Boere regoor die land getuig van Valtrac se flink diens, wat verseker dat alle Valtrac-werktuie volstoom en met die absolute minimum staantyd vir die boer werk. Dit geld ook vir Bogballekunsmisstrooiers. George Cilliers van Valtrac verseker boere dat al die onderdele, tegniese vaardigheid en kundigheid wat nodig is om Bogballe se uitstekende werkverrigting te verseker, gereed is sodat boere maar kan weet dat hulle op Bogballe se strooiers kan reken.

bagbelle

Agter in die bak is ’n gleuf vir ’n tuinslang en ’n plaat wat die waswater tot op die raamwerk stuur. Let ook op die weerkaatsingstroke wat afslaan sodat die water orals kan bykom wanneer die strooier gewas word.

Vir meer inligting oor Valtrac se nuttige Bogballe-kunsmisstrooiers, praat met Attie de Villiers by by 083-261-9863 of 056-817-7308 of attiedev@valtrac.co.za. Besoek ook www.valtrac.co.za vir meer inligting oor Valtrac se volledige reeks werktuie en Valtra-trekkers.

As jy nog nie ’n Valtra-trekker het nie, maar jy wil graag akkuraat en vinnig kunsmis strooi, kan jy vra vir die Bogballe-wielonderstel.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0