Categories: NewsPublished On: 20th November 2017

Boere vra vir nugtere denke

By 3 min read
522 words

Agri SA logo Kleur NUWE

Suid-Afrikaners is keelvol vir misdaad en dít raak toenemend sigbaar omdat gemeenskappe opstaan en aan protesaksies deelneem. Dan Kriek, president van Agri SA, sê dit is uiters belangrik dat misdaadbestryding ‘n inklusiewe proses moet wees, omdat dit ‘n probleem is wat álle Suid-Afrikaners raak.

Kriek sê Agri SA is genader om deel te neem aan ‘n protesoptrede na die Uniegebou in Pretoria wat op Saterdag, 25 November, gaan plaasvind. Agri SA het sy lede-organisasies (wat nege provinsiale-, 25 bedryfsorganisasies en 21 korporatiewe lede insluit) tydens ‘n uitgebreide konsultasieproses hieroor geraadpleeg. Verteenwoordigers van lede-organisasies het Agri SA op 13 November by die vergadering van Agri SA se landelike beveligingskomitee in Centurion versoek om nie aan die protesoptrede deel te neem nie.

Agri SA het na raming 28 500 boerelede en dra die belange van bykans 800 000 plaaswerkers op die hart. Sonder uitsondering het verteenwoordigers tydens die vergadering besluit dat dit nie nou die regte tyd is om by verdere protesoptredes betrokke te raak nie, omdat Swart Maandag die boodskap reeds baie duidelik aan die regering oorgedra het dat sy burgers nou genoeg gehad het van misdaad. Die gevoel onder ons lede is dat die inklusiewe karakter van Swart Maandag nou verpolitiseer kan word en dat politieke ondertone ons nie nader aan ‘n oplossing sal bring nie.

“Voedselsekerheid is die uitkoms van ‘n gesamentlike poging tussen kommersiële en opkomende boere en plaaswerkers en daarom is dit belangrik om inklusiewe oplossings vir die misdaadkwessie te vind,” sê Kriek. “Ons fokus is nou om oplossingsgedrewe te werk. Dis nou die tyd vir nugtere leierskap en kalmte. Landsburgers, boere en plaaswerkers moet hande vat en misdaad op grondvlak in ons eie gemeenskappe blootlê.”

Boere wil inklusief deelneem aan die proses om oplossings vir die reusagtige misdaadprobleem te vind en om die boodskap by die regering tuis te bring dat hulle ontevrede is met die manier waarop misdaad tans bestry word, sê Kriek.

“Agri SA veroordeel ten sterkste alle vorme van plaasgeweld en sal steeds die regering bly beïnvloed om dit effektief te bekamp,” sê hy. “Ons en die polisie is tans besig om oplossings te vind vir effektiewe implementering van strategie en beleid om landelike veiligheid te verbeter. Ons beskou hierdie proses, asook die oplossings wat dit kan bied, as ‘n prioriteit.”

Kriek sê boere dink deurgaans kreatief oor hulle eie veiligheid en maak ál meer van tegnologie gebruik om misdaad te bestry.

Die Agri Securitas-trustfonds is die enigste en unieke vorm van praktiese hulp aan boerderygemeenskappe en is al jare lank reeds betrokke by die finansiering van radiokommunikasiestelsels, kameras, hommeltuie en toerusting wat tydens veiligheidsoptredes gebruik word. Duisende boere en plaaswerkers is reeds binne gemeenskapsverband deur Agri Securitas bygestaan om hulle veiligheid te verbeter.

Agri SA verstaan dat boerderygemeenskappe gefrustreerd is, maar dit is nou die tyd om saam te staan om die misdaadeuwel inklusief te beveg. Misdaad kan ons verdeel, maar ons moet dit eerder as ‘n geleentheid gebruik om aan gesprekke deel te neem waarby almal betrokke is.

Agri SA wil die klem plaas op werklike grondvlakhulp aan alle boere en plaaswerkers. “Agri SA sal boerderygemeenskappe en plaaswerkers op praktiese vlak aanhou bystaan,” sê Kriek.

Bron: Agri SA

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0