Boere stroom na 55ste NAMPO

DSC_0128-1536×1024
Alle paaie het weer na vanjaar se NAMPO gelei! Al wat leef en beef het NAMPO platgestap en telkens in verwondering gaan staan by die aanskoue van die voortreflike tegnologie wat daar tentooongestel is. Vanjaar se tema was vernuwende landbou.
Met altesaam 81 945 besoekers vanjaar was dit weer ‘n voorbeeld van vernuwing deur die graanwaardeketting, maar ook die hele Suid-Afrikaanse landbousektor. Uitstallers kon nie wag om hulle nuwe produkte bekend te stel of om met bestaande spogwerktui ete spog nie. Die menigte boere wat van vroegdag af deur die hekke gestroom het is ՚n bewys dat die gemoed net reg was. Genoeg geleentheid is gebied vir gesprek, interaksie met die 823 uitstallers en ‘n geleentheid vir gesinne om landbou in ‘n veilige, gasvrye omgewing te geniet.
Nagenoeg 200 vliegtuie en 75 helikopters het gedurende die week op NAMPO-park se aanloopbaan geland. “Dit is vir ons ՚n groot voorreg om weer ՚n suksesvolle NAMPO-oesdag te kon aanbied,” sê Dirk Strydom van Graan SA.
“Ons hoofsaaklike doel met NAMPO is om te kyk na graanprodusente se belange. Die uiteindelik doel van die skou is om te kyk of ons al die tegnologie, onderdele en landbouprodukte op een plek kan neersit, waar boere na een plek toe kan kom om te sien wat nuut op die mark is, wat is die nuwe tegnologie daar buite om sodoende boere te help om meer produktief en effektief te boer. As ons boere produktief en effektief kan boer, kan ons kos vir die land voorsien.
“Die tweede doel van NAMPO is ook die netwerkgeleentheid. Ons sien dit as ՚n groot strategiese sessie, waar almal bymekaarkom en kan praat, koppe bymekaar sit en idees uitruil. Dit bied ook die geleentheid vir boere om hulle uitdagings met verskaffers te deel om sodoende nuwe oplossings te vind.
“Die derde doel is die beeld van landbou. Landbou is nie net meer ՚n ou trekker wat ՚n ploeg agterna sleep nie. Landbou is aan die voorpunt van tegnologie met soveel segmente. NAMPO bied juis daardie geleentheid aan verskaffers om hulle jongste tegnologie bekend te stel aan boere en hulle ook te help om innoverend te bly boer en nie agtergelaat te word nie,” sluit Dirk af
Dirk deel ook ՚n paar vinnige feite oor NAMPO:
• Die totale oppervlak van NAMPO, insluitend die parkering, strek oor 100 ha, waarvan 40 ha vir die uitstalruimte benut word.
• Grootste uitstaller vanjaar was John Deere (hulle standplaas was ՚n indrukwekkende 4 000 vierkante meter).
• Indien jy deur al die stalletjies wou loop en besoek, moes jy ongeveer 22 sekondes by elke stalletjie spandeer.
• Vir waardevolle tyd op die park, is twee dae voldoende.
• Daar is ՚n volledige gastehuis op die park, met 85 beddens.
• Die gastehuis en NAMPO-park is beskikbaar vir ander funksies, geleenthede en skoue.
• Dit is die eerste jaar na die bek-en-klou-uitbraak en die Covid-19-pandemie wat alle genootskappe weer betrokke was NAMPO 2023.
• Altesaam 250 groot- en kleinvee is by NAMPO 2023 vertoon.


Graan SA beoog om aandag aan die volgende sake te gee:
• Verbetering van die vloei van toegangsbeheer by die hekke in terme van die kaartjiestelsel.
• ‘n Nuwe fokus om te verseker dat uitstallers en besoekers se NAMPO-ervaring verbeter deur die verdere gebruik van tegnologie en die verbetering van die park se infrastruktuur.
• Graan SA is tevrede met die huidige aantal uitstallers en sal eerder deurlopend verseker dat die verskeidenheid uitstallers toepaslik bly.
• Bevorder die gebruik van NAMPO-park se geboue en geriewe as ‘n sakepark regdeur die jaar.
NAMPO is propvol nuwe werktuie
Verskaffers het vanjaar met talle nuwe werktuie by NAMPO gespog. New Holland Landbou se indrukwekkende uitstalling het verskeie opwindende nuwe aanbiedinge ingesluit, waaronder vanjaar se grootste trekpleister: Die nuwe TH7.32-teleskopiese hanteerder, ‘n nuwe toevoeging tot die maatskappy se uitgebreide reeks landboutoerusting.
Die nuwe TH7.32 is geskik vir enige taak op die plaas. Die TH7.32 kan voorwerpe tot 7 meter hoog lig en het ՚n kapasiteit van 3,2 ton. Die nuwe ontwerp het uit en uit operateursgemak in gedagte gehou. Die TH7.32 het ruim en oop vensters wat die operateur toelaat om 360° om hom te sien.

Jupidex se enorme, goudgeel Degelman Pro-Till 40 12-meter hoëspoeddis het ՚n indrukwekkende teenwoordigheid by NAMPO gehad. Die Degelman-hoëspoeddis is nie die enigste nuwe toevoeging in die Jupidex-stal nie – daar is vele meer.


՚n Groot hoogtepunt wat die koppe behoorlik laat draai het by John Deere se NAMPO-standplaas, was die bekendstelling van die wêreld se eerste outonome spuit, GUSS (Global Unmanned Spray System). Northmec Implemente het ook vanjaar groot nuus by NAMPO aangekondig. Hulle is die nuwe, trotse Suid-Afrikaanse agente vir die Kelly Tillage se bewerkingstoerusting.




Shane Kelly, uitvoerende direkteur van Kelly Tillage.
Die Kelly 3009 diamant-eg het baie aandag getrek by NMI se standplaas. LEMKEN spog met hulle nuwe reeks werktuie, die Müthing-kerwers (mulchers). Die Müthing-reeks kom, net soos LEMKEN se bekende blou werktuie, van Duitsland af. Die werktuie kan gebruik word om massas plantreste fyn te kap, vir ontbossing, die fynkap van blare en gesnoeide takke in wingerde en boorde, soos onder neutbome, en die skoonhou van munisipale parke. By NAMPO kon boere kyk na die Müthing se 3-meter MU Vario- en die 6,7-meter MU Farmer-kerwer.


Die volgende NAMPO-skoue wat in 2023 onder die vaandel van Graan SA aangebied word, is NAMPO Kaap (13 tot 16 September in Bredasdorp) met ‘n wintergraanfokus; NAMPO ALFA (12 tot 14 Oktober op NAMPO-park) met ‘n fokus op vee, jag en buitelug; en die OFM NAMPO-park Kersmark (1 tot 2 Desember op NAMPO-park).
Vir meer inligting besoek gerus NAMPO se webwerf by nampo.co.za