Categories: NewsPublished On: 25th July 2016

Boere moet paraat wees langs Lesothogrens

By 4 min read
829 words

Vrystaat-Landbou-logo-275×275

Binne ’n kwessie van vier dae het twee plaasaanvalle in die Clocolan-distrik voorgekom. Die eerste voorval het Sondagaand, 17 Julie 2016, op die plaas Blydskap plaasgevind. Carl du Randt, sy vrou Lydia, en hulle agtjarige seun, Carl jnr, is deur vier mans ingewag toe hulle omstreeks 18:00 by die huis gekom het.

Die gesin is aangerand en die rowers het geld van hulle geëis. Die groep het met die gesin se bakkie op die vlug geslaan. Carl het hulp ontbied, en danksy vinnige reaksie van sy bure is die voertuig voorgekeer. Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se inligting was sewe mans in die bakkie. Hulle het te voet op die vlug geslaan, en al die gesteelde items buiten die geld is teruggevind.

In die tweede voorval is Henry Minnaar Donderdagaand, 21 Julie 2016, op die plaas Vlakbult, deur drie mans aangeval. Henry is ook aangerand, en die aanvallers het geld van hom geëis. Hulle het hom gedwing om hulle naby die dorp langs die pad te gaan aflaai. Hy is gevind na die plaaslike veiligheidstruktuur hom nie tydens skakeling in die hande kon kry nie. Die plaaswag struktuur is geaktiveer. Die aanvallers se bewegings kon deur die informele nedersetting gevolg word met behulp van opkomende boere wat deel vorm van die struktuur. Die aanvallers is egter steeds soek.

“Dit is vir ons verblydend dat die opkomende boere van hierdie gemeenskap by die veiligheidstruktuur betrokke is,” sê Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Wet en Orde Komitee. Die komitee is reeds bewus van boere wie se werkers by veiligheidstrukture inskakel, en hulle wil graag meer betrokkenheid in dié verband binne plaaswagte aanmoedig.

Dit wil voorkom asof beide die aanvalle deur Lesotho burgers gepleeg was, wat in groepe van 3 tot 7 opereer. Volgens die lessenaar bestaan die moontlikheid van ’n tendens waar Lesotho burgers toenemend Suid-Afrikaanse boere langs die Lesothogrens kan teiken. ’n Bydraende faktor tot die situasie is die impak van droogte ook op Lesotho. Luidens ’n onlangse verslag deur die Wêreld Voedsel Organisasie (WFO) bestaan erge voedselonsekerheid in dié buurland, en die droogte veroorsaak dat voldoende voer en weiding ook nie daar beskikbaar is nie.

Tommie sê die moontlikheid van ’n toename word gekoppel aan ’n toename in voorvalle wat in 2011 en 2012 langs die grens voorgekom het. “Na meeste van dié voorvalle het die verdagtes vermoedelik oor die grens gevlug. Die lessenaar het reeds met die Polisie in kontak getree hieroor as deel van pogings om ’n herhaling daarvan te probeer voorkom.”

“Ons wil boere langs die grens versoek om hulle paraatheid ernstig op te skerp. Ons wil hulle ook sterk aanmoedig om nie met kontant op hulle plase te werk nie. Kort voor die mees onlangse voorval die week, is voer kontant op die plaas verkoop, en die aanvallers het geld geëis,” sê Tommie. Die vermoede bestaan dat inligting oor kontant op plase maklik versprei word, en Tommie stel voor dat boere eerder elektroniese transaksies moet aangaan, ook vir hulle eie veiligheid. Verder moet boere nie mense op hulle grond toelaat wat nie die plaasprotokol vir afsprake volg nie.

VL deel graag die veiligheidswenke wat die lessenaar al voorheen in verklarings gedeel het:

  • Boere moet gedurig in kontak wees met hul bure, die Polisie en die gemeenskap
  • Hulle moet inskakel by ‘n plaaswag wat gereeld patrollies ry
  • Hulle moet deel word van kommunikasie strukture (soos WhatsApp groepe) ten opsigte van skakeling van vooraf inligting ten opsigte van verdagte voertuie/persone;
  • Goeie verhoudings met plaaswerkers is noodsaaklik en moet bevorder word waar werkers ook inligting verskaf rakende moontlike verdagte persone en voertuie;
  • Hou klein hondjies binne die huis, veral snags;
  • Slegs een toegangsroete tot plaashuise;
  • Slaapkamers moet met ‘n veiligheidshek van die res van die huis geskei word;
  • Slagoffers moet tydens ‘n aanval probeer kalm bly sodat hul prakties/realisties kan dink;
  • Oefen deurentyd jou persoonlike gebeurlikheidsplan in jou huis met jou familie (bepaal byvoorbeeld wie is verantwoordelik vir wat tydens ’n aanval);
  • Onthou die karaktertrekke en littekens, tatoeërmerke, bou en lengte van aanvallers asook die taal wat hul praat om hulle sodoende uitkenbaar te maak vir ondersoekdoeleindes;
  • Deurlopende opleiding van boere en inoefening van optrede saam met die Polisie rakende plaasaanvalle moet plaasvind;
  • Vestiging van radionetwerke en kommunikasie met mede boere en Polisie,
  • Opstel van kameras in en om die woning om vooraf inligting rakende beweging op te tel;
  • Hou werkersprofiele by en stel toegangsbeheer in ten opsigte van bewoners en besoekers aan plase;
  • Moenie onwettige immigrante in diens neem nie;
  • Veiligheid/sekuriteit naamlik diefwering om die huis moet aangebring word;
  • Wees altyd oplettend, waaksaam en paraat;
  • Moenie kontant by die woning aanhou nie;
  • Wees opgelei in hantering van vuurwapens;
  • Identifiseer ’n vertrek binne die huis wat goed beveilig is, waar die nodige kommunikasie kan plaasvind en vuurwapens gehou word sodat u daar kan skuil tot hulp opdaag;
  • Hou selfone gelaai en versteek addisionele selfone elders in die woning;
  • Hou ’n lys van belangrike nommers altyd byderhand; en
  • Probeer roetine sover moontlik vermy.

Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0