Categories: NewsPublished On: 27th July 2016

Boere: Meld tog veediefstalsake aan!

By 2 min read
358 words

skape

Die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum (NVVK) was die afgelope tyd betrokke by baie vergaderings regoor die land en dit is duidelik dat die syfers oor die nie-aanmelding van veediefstalsake nie oordryf word nie. Daar is ‘n groot toename in veediefstal, maar die syfers wys dit nie.

Statistieke Suid-Afrika het aangedui dat 36,3% van veediefstalsake in 2011 nie deur die slagoffers aangemeld is nie. Dié syfer het in 2012 na 40,1% gestyg en in 2013 het dit drasties gestyg tot 63%. Die verskynsel is nie in die 2014-opname geëvalueer nie, maar navorsing, Lombaard (2014), het bevind dat 75% van skaapdiefstalsake in die Vrystaat nie aangemeld word nie. Selfs dié syfers word bevraagteken, aangesien inligting wat deur die provinsies verskaf is, daarop dui dat die nie-aanmelding van veediefstalsake in so ‘n mate toeneem dat dit  in sommige distrikte so hoog as tussen 80% en 85% is. Statistieke Suid-Afrika het in 2015 bevestig dat die nie-aanmeldingskoers tot 67,7% gestyg het.

Dié statistieke is aan alle rolspelers in die bedryf beskikbaar gestel en ‘n pleidooi is gelewer vir die aanmelding van veediefstalsake. Daar word sedert Mei 2016 opgemerk dat die aantal veediefstalsake konstant styg en dit is twyfelagtig of meer veediefstalsake aangemeld word en of meer veediefstalmisdade gepleeg word.

Sedert Mei 2016 was baie veeboere in die veediefstalbrandpunte die slagoffers van hierdie misdaad. Die gebiede wat tans geteiken word, is die Gauteng-provinsie met spesifieke verwysing na Nigel, Devon, Heildelberg, Vereeniging, Barrage en Fochville. In die Noordwes word gebiede soos Lindequedrift, Potchefstroom en Ventersdorp geteiken en in die Vrystaat word Heilbron, Edenville, Koppies, Kroonstad en Parys geteiken. Dit is glad nie vreemd om te sien dat groot getalle skape en beeste by boere gesteel word nie, byvoorbeeld  45 skape in Edenville en 35 skape in Nigel/Devon. In die Nigel/Devon-gebiede word daar snags tussen 3 tot 12 beeste geslag en in die weste van Gauteng en die Noordwes-Provinsie, is dit nie vreemd dat beeste gesteel word en oor groot afstande vervoer word nie.

Die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum doen ‘n beroep op veeboere om aan al die betrokke wetgewing te voldoen en hulle vee gereeld te tel. In die brandpunt-gebiede moet vee selfs meer as een keer per dag getel word. Meld asseblief alle veediefstalsake onmiddellik by die naaste polisiekantoor aan.

Bron: RPO

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0