Categories: NewsPublished On: 5th October 2015

Boere koop effens minder trekkers; baie minder stropers

By 1 min read
252 words

 Boere het vir die jaar tot op datum 8,5% minder trekkers gekoop as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar, maar 40,4% minder stropers, sê mnr Wynn Dedwith, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie. 

Trekkerverkope van 449 eenhede in Junie is effens meer as die 438 eenhede wat in Junie verlede jaar aangemeld is. Vir die jaar tot dusver is verkope 8,5% laer as verlede jaar. 

Net 16 stropers is in Junie verkoop teenoor die 29 eenhede wat verlede Junie verkoop is. Vir die jaar tot dusver is stroperverkope 40,4% laer as verkope verlede jaar. 

Die trekkermark was steeds redelik lewendig in Junie, hoewel dit baie mededingend bly. Somergewasboere in sekere dele van die land oes nog hulle gewasse. Boere wat reeds geoes het, weet nou wat die werklike opbrengs en gehalte van die oes was. In gebiede waar gewasse laat geplant is, of waar die oes uitgestel moes word weens laat reën, heers daar nog onsekerheid. 

Sodra alle somergewasse geoes is, behoort daar meer duidelikheid in die bedryf te wees oor verkoopneigings wat vir die res van die jaar verwag kan word.

 Volgens ramings in die bedryf, sal trekkerverkope in 2015 ongeveer 10% laer wees as verkope verlede jaar. Stroperverkope sal na verwagting ongeveer 25% laer wees. 

Verkope vir die bedryf wat SALMA aankondig, hou verband met die volgende maatskappye: Argo Industrial (Landini, Kioti en McCormick), Bell Equipment (Bell), Dicla (Farmtrac en Chery), Eqstra Agri Equipment (Deutz Fahr en Same), John Deere South Africa (John Deere), Kempston Agri (Claas), Michigan Equipment (Tafe), New Holland Suid-Afrika (New Holland), Northmec (Case IH) en Valtrac (Valtra). 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0