Boere in Nood en TLU SA vat hande

boere in nood 8
TLU SA en Boere in Nood gaan saamwerk in die droogtetyd. Albei organisasies glo dat boere in produksie moet bly en wil daarom graag saam die boere help.
TLU SA sê in ‘n verklaring dit gaan oor daardie boere wat voedsel produseer vir ongeveer 68% van die land se inwoners wat verstedelik is. Die droogteramp wat Suid-Afrika getref het, is nog lank nie verby nie en gaan nog vir ‘n baie lang ruk soos ‘n donkerwolk hang.
Boere in Nood, ‘n nie-winsgewende organisasie, het hulle al mooi gevestig in die land en alle boere is deeglik bewus van die hulp wat hulle bied. Boere in nood help boere om voer en finansiële ondersteuning by boere uit te kry. TLU SA het ook voer aan boere verskaf. Die twee organisasies gaan nou saamwerk om te koördineer ten einde te verseker dat daar so kostedoeltreffend as moontlik te werk gegaan word.
Gemeenskappe word versoek om op grondvlak ‘n Gesamentlike Operasionele Sentrum (GOS) in te stel waarby alle rolspelers wat sou wou inskakel, betrek kan word. Daar is alreeds baie mense wat hulp in hulle gemeenskappe aangebied het. Hoe meer mense betrek word hoe beter. Daar word ook spesifiek gedink aan georganiseerde landboustrukture, die onderskeie kerke en ander burgerlike organisasies wat konstruktief kan help. Die fokus is voertekorte, water- en voedselnood vir die boer en al die afhanklikes op die plaas.
Indien die GOS nie die boere in hulle omgewing self kan help nie, kan hulle dan met Boere in Nood en TLU SA in verbinding tree. So kan daar beter bepaal word waar die grootste nood is. Dit belangrik dat daar na alle boere uitgereik sal word, maak nie saak wie of wat hy is nie.
Daar is reeds baie skenkings deur mense gedoen wat opreg waardeer word en daar is ‘n groot kommer oor die regering nie die boere help nie. Boere in Nood en TLU SA stap die pad in geloof saam en glo dat hulle ‘n verskil saam maak.
Bron: TLU SA