Categories: NewsPublished On: 22nd June 2017

Bo-Karoo-boere ding mee vir die beste jongooiklub

By 1 min read
234 words

DSC_1290

“Hierdie jaar se interskou tussen jongooiklubs gaan nog meer suksesvol wees as verlede jaar,” sê Diederik Vermeulen, koördineerder van die interskoukompetisie. Die dag word beplan vir Vrydag, 21 Julie 2017 op Diederik se plaas Vrede in die Phillipstown-distrik.

Daar was groot verbasing toe daar verlede jaar meer as 400 boere, ram- en ooitelers, skoliere en sakelui van omliggende dorpe en sover as Bloemfontein op Vrede toegesak het. Die skoudag word voorafgegaan deur ‘n weidingsbestuurkursus deur dr Lorraine van den Berg die Woensdag en ‘n beoordelaarskursus die Donderdag, wat deur Eddie Prinsloo van Merino SA aangebied sal word. Gawie van Wyk, Noordkaap NWKV se produksie-adviseur gaan bystaan met die beoordelaarskursus en hy tree ook op as beoordelaar by die skou.

Die klubs wat deelneem is Modern Merino, Phillipstown, Kraankuil, Britstown, Noupoort en Middelburg.

Daar is ook praatjies oor grondhervorming en tegnologie, en Louis de Beer van Cape Wools gaan boere kom toespreek oor die nuwigheid van wol op die JSE.  ‘n Welbekende veearts, dr Frans Jooste, gaan ‘n demonstrasie hou van embriospoeling. Bekende ramtelers gaan ook hulle ramme uitstal. Franna Benade, geliefde sanger en predikant gaan die dames toejuig met sy stem.

Noordkaap NWKV gebruik ook die geleentheid om hulle streeksvergadering te hou.

Hooffoto: Op verlede jaar se interskou is ‘n springbokkopkursus ook op Vrede aangebied. Hier oorhandig Leon de Beer (hoofbestuurder, NWKV) ‘n springbokkopsertifikaat aan Eduard Prinsloo van Heuningkrans, Smithfield saam met Diederik Vermeulen.

Bron: NWKV

0
Views: 492Comments Off on Bo-Karoo-boere ding mee vir die beste jongooiklub

Deel hierdie artikel.

0