Categories: News, WheelsPublished On: 27th November 2015

BMW se X6M is Superman se keuse.

By 3 min read
585 words

OHP_1492

BMW se X6 is al ‘n tydjie saam met ons en steeds sukkel menige petrolkop om aan die ongewone stilering gewoond te raak. Dit is ‘n groot kar, wat BMW ‘n SAV noem, oftewel dan “Sportiewe Aktiwiteitsvoertuig”. Daar is ook net twee sitplekke agter en die koepeedak maak dat lang ouens soos ek maar koes-koes sit. Ek het ook maar aanvanklik skepties my kop geskud en gewonder of BeeEm se witjasse die spoor byster geraak het. Tot ek een dag een vir ‘n week moes toetsbestuur – daarna was die X6 my gunsteling in die BMW-stal. Vir ‘n groot kar was die hantering en paddinamika uitstekend. Ja, die X6 was groot en swaar, maar ook luuks en indrukwekkend. Die regte ryding vir ‘n kapitalistiese hart.

BMW se manne by M-divisie het daarna die X6 onderhande gehad en die eerste X6M was nagenoeg die padweergawe van ‘n geleide missiel. Die tweede geslag X6M is vroeër vanjaar hier bekendgestel en ek het so ‘n pragtige Estoril-blou model met ‘n bruin leerbeklede binneruim vir sewe dae se leeuplesier onder hande gehad.

Nou kyk, vir R1,7miljoen kan jy baie goeters koop, selfs ‘n gerieflike huisie by die see. Jy kan ook vir jou en jou lewensmaat en twee kinders elkeen ‘n netjiese  Hilux 30d 4×4 dubbelkajuit Dakar weergawe bakkie koop as jy dan so spartaans wil wees.

X6M Rear view

Of jy kan vir al die groenes ‘n middelvinger wys en vir jou BMW se nuwe X6M gaan aanskaf. Dit brul, knetter en blaf soos Beëlsebul met sy stert in die deur vasgeknyp as jy jou voet plant. Die 4,4liter V8 TwinPower turbo-enjin voor in die X6M se neus bulder ‘n ontsaglike 423kW se piekkrag teen 6 000 toere na die wiele waar 750Nm wringkrag dan die reuse 20” wiele op papierdun rubber na die teerpad brand! Plant jy jou voet in die hoek, versnel die meer as 2 ton monster van stilstaan to 100kpu in ‘n nekrukvinnige 4,2 sekondes! Hou jy voet geplant sal die elektroniese beperker die missiel by 250kpu in toom probeer hou. Nou dit is sommer nog so onlangs as drie jaar gelede verrigtingsyfers van peperduur en baie plat supermotors.

Die witjasse by BMW se M-afdeling, daar waar BeeEm se verrigtingmotors uitgetoor word, het dit egter reggekry om die groot swaar voertuig soos ‘n rasegte sportmotor om draaie en deur swiepe te laat hanteer. As ek my eers in daardie luukse groot en diep sportsitplekke vasgegordel het en die klein sportstuurwiel met alkantara leer oorgetrek (sodat sweterige palms beter kan vasklou, my kind!) in my hande het, is daar net een begeerte – druk sy neus in die pad en ry hom bloots!

Dit is waarvoor die X6M ontwerp is, nie grondpaaie of katvoet-agter-die-lykstoet aankruie nie, maar platvoet terwyl die monster hier onder jou sidder en tril terwyl jy al brullende die monster op die swart spoor onder jou probeer hou, en jy kort-kort probeer sluk deur ‘n kurkdroë keel!

OHP_1772

Dit is waarvoor jy bereid is om digby R2-miljoen te betaal en steeds te voel jy het ‘n winskoop gekoop. Want om ‘n monster bloots te ry sit nie in enige een se broek nie.

Daar is geen rede wat die aankoop van die X6M regverdig nie, behalwe geesdriftigheid en die begeerte na die irrasionele en om weer ‘n keer ‘n prettige, uitdagende tango met die noodlot te gaan dans elke keer wanneer jy die aansitterknop druk en jy die monster se diep geroggel hoor.   

 Ultimate Drive

Artikel geskryf deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive.

 

 

0
Tags: ,

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0