Beste praktyke vir roofdierbestuur in Suid-Afrika: Deel 2

jakkals
Veeboere het die grondwetlike reg en ‘n verantwoordelikheid om hulle vee te versorg en te beskerm teen alle potensiële bedreigings soos uiterste klimaatstoestande (koue, hitte, droogtes, vloede en brande), asook teen diefstal en uiteraard teen roofdiere. Hierdie raamwerk van beste praktyke handel oor roofdierbestuur en -beheer. Dit noem ‘n aantal van die metodes wat boere as riglyn kan gebruik (alleen of in kombinasie) om hulle vee teen roofdiere te beskerm.
Alle moontlike bestuursmaatreëls moet ingespan word om probleemdiere op ‘n sosiaal aanvaarbare ekonomies verantwoordbare/bekostigbare; ekologies versoenbare en wettige wyse te beheer.
Verlede keer is die voorkomende bestuursmaatreëls uitgelig wat gebruik moet word, hierdie keer fokus ons op die regstellende bestuursmaatreëls.
Skiet
- Onmiddellike optrede. Dit is nodig om onmiddellik nadat ‘n roofdier toegeslaan het, te skiet om die spesifieke roofdier wat die skade veroorsaak uit te skakel.
- Daar moet net geskiet word op die spesifieke plek waar roofdiere vee vang.
- Presisie. Gebruik slegs ervare probleemdierjagters.
- Spesie-identifisering. Probleemdierjagters moet spesies korrek identifiseer voordat daar op hulle geskiet word.
- Noukeurige gebruik van roepapparaat. Slegs ervare probleemdierjagters behoort roepapparaat te gebruik.
- Slegs rooi soekligte moet gebruik word omdat wit lig diere skugter en ontwykend maak.
- Skiet vanuit helikopters of mikroligte vliegtuie. Slegs professionele probleemdierjagters behoort van helikopters gebruik te maak.
- Grondeienaars oor wie se eiendom daar gevlieg gaan word, moet vooraf verwittig word en ook hulle toestemming skriftelik verleen dat roofdiere wel op hulle grond vanuit ‘n helikopter gejag mag word.
Vangysters met verstelbare snellerplate
- Slegs mense wat opgelei is om vangysters te gebruik, moet sulke apparate stel.
- Vangysters moet verstelbare snellerplate hê.
- Die ideale snellermassa is 1,8 kg.
- Vangysters se kake moet ‘n opening van minstens 5 cm hê om beenbreuke aan die teikendier se bene te voorkom.
- Vangysters moet nie in die normale looppaadjies van diere gestel word nie, maar so gestel word dat dit uit die sig en uit die looppad van ander diere is. Dit moet ook nie in voertuigpaadjies, langs grensheinings, onder deurloopplekke of langs drinkplekke gestel word nie.
- ‘n Anker moet gebruik word om die slagyster vas te pen sodat die dier wat daarmee gevang is, nie daarmee wegloop nie. Die anker moet met ‘n ketting onderaan die slagyster geheg word. Die ketting moet twee draaiskywe bevat sodat die slagyster vryelik kan beweeg.
- Vangysters moet minstens een keer elke dag nagegaan word sodat diere nie langer as ‘n paar uur daarin sal vassit nie.
- ‘n Geskikte lokmiddel soos uriene of mis van die teikendierspesies, moet gebruik word. Verkry sulke materiaal van diere wat wettig aangehou word of versamel dit van diere wat vankant gemaak is. Soek ook na vars mis elders op die plaas waar die diere mag wees. Roofdiere mag nie vir die doeleindes van mis-en urienversameling aangehou word nie.
Inloopvanghokke
- Vanghokke moet van stewige metaal vervaardig word en nie skerp kante hê wat diere sal beseer nie.
- Vanghokke moet so gestel word dat daar skaduwee is gedurende die warm tye van die dag.
- Vanghokke moet minstens een keer elke dag nagegaan word.
Spesifieke vereistes vir vanghokke verskillende spesies:
Rooikat
- Die hok moet langs die rooikat se looppad geplaas word en net aan die sykante met takke toegepak word.
- ‘n Opgerolde bolletjie aluminiumfoelie moet in die vanggedeelte van die hok opgehang word.
- Lokaas in die vorm van skaapvleis of bokvleis is die aangewese manier om die rooikatte na die hokke te lok.
- Dit is ook sinvol om urine van ‘n rooikat te versamel en as reuklokmiddel in ‘n sandbak in die hok te plaas. Uriene kan bekom word vanaf dieretuine wat rooikatte aanhou en ook vanaf rooikatte wat desnoods vankant gemaak moet word.
- Wanneer ‘n rooikat wel gevang is, moet dit op menslike wyse vankant gemaak word indien dit nie losgelaat word nie. ‘n Enkele kopskoot met ‘n mediumkaliber vuurwapen is die vinnigste en beste manier om so ‘n dier vankant te maak.
Luiperd
- Die hok moet baie sterk en stewig wees. Dit moet verkieslik naby die luiperd se krapboom geplaas word en glad nie met enige materiaal bedek word nie.
- Stukke verrottende lokaas moet in die vanghok geplaas word en dit moet met draad vasgemaak word.
- Bloedspore moet met die lokaas uit verskillende rigtings vanaf 100 meter van die hok af na die hok gesleep word.
- Die hok moet verkieslik ook met penne in die grond geanker word.
- Wanneer ‘n luiperd gevang is, moet die hok met ‘n dik seil bedek word sodat die dier kalm bly.
- ‘n Veearts behoort die dier te verdoof voordat dit vervoer word om te keer dat die luiperd beserings in die hok opdoen.
- Wanneer ‘n wyfie wat oënskynlik soog gevang word, moet alles moontlik gedoen word om die kleintjies op te spoor sodat hulle na geregistreerde rehabilitasiesentrum vir grootmaak en vrylating geneem kan word.
- Wanneer ‘n luiperd vrygelaat word, moet alle mense binne die veiligheid van voertuie wees om aanvalle van die geïrriteerde luiperd te ontkom.
Jagluiperd
- Jagluiperds word geredelik gevang deur ‘n takkraal van ongeveer 20 meter in deursnee te bou en ‘n inloop vanghok as die enigste ingang in die kraal te voorsien.
- Vangkrale moet opgerig word waar die diere aktief is soos by hulle speelbome.
- Die inloopvanghok moet aan die agterkant oop wees en bo-op met stewige doringbosse bedek wees.
- Die lokaas is ten beste ‘n lewende boerboklam of selfs volwasse boerbok.
- Wanneer ‘n jagluiperd gevang is, moet die hok bedek word en die dier kan gemaklik vervoer word.
- Wanneer ‘n wyfie wat oënskynlik soog gevang word, moet alles moontlik gedoen word om die kleintjies op te spoor sodat hulle na geregistreerde rehabilitasiesentrum vir grootmaak en vrylating geneem kan word.
- Jagluiperds mag nie doodgemaak word nie en moet hervestig word.
Bruin hiëna
- Luiperdvanghokke is noodsaaklik vir bruin hiënas omdat die diere geweldig sterk is en swak hokke maklik oopbreek.
- Die hokke kan naby die plek waar die dier vee gevang het, opgerig word en kan sonder enige bedekking gestel word.
- Die beste lokaas is lammerkarkasse of selfs dooie hoenders.
- Reukspore kan ook na die hok gesleep word om die bruin hiëna nader te lok.
- Wanneer bruin hiënas gevang word, moet hulle hervestig word en nie vankant gemaak word nie.
- Wanneer ‘n wyfie wat oënskynlik soog gevang word, moet alles moontlik gedoen word om die kleintjies op te spoor sodat hulle na geregistreerde rehabilitasiesentrum vir grootmaak en vrylating geneem kan word.
- Hokke hoef nie met enige plante verskans te word nie, maar maar moet wel bedek word nadat die diere gevang is om hulle kalm te hou.
- Dit is wenslik om hulle deur ‘n veearts te laat verdoof voordat hulle vervoer word.
Otters
- Otters word maklik met rooikatvanghokke gevang.
- Gebruik reste van eende, ganse of klein lammers as lokaas.
- Vanghokke moet langs visdamme opgerig word en moet stewig geanker word sodat die dier se beweging in die hok nie daartoe lei dat die hok in die water val nie.
- Wanneer otters gevang word, moet hulle hervestig word en nie vankant gemaak word nie.
Silwervos en groukat
- Gewone rooikatvanghokke met lammerreste as lokaas werk baie goed vir albei diere.
- Wanneer hulle wel gevang word, is dit wenslik om hulle in klein (5 meter by 5 meter) draadkampies met draadbedekking bo-oor aan te hou tot tyd en wyl lammers te groot is om deur hulle gevang te word. Let wel: Alvorens so iets aangepak word, moet die grondeienaar eers ‘n permit by die provinsiale natuurbewaringsowerheid bekom.
- Die diere moet van koelte (takke oor ‘n deel van die hok), vars water en daaglikse kos soos springhaas- en haasreste voorsien word.
- Wanneer die rooftyd verby is, moet hulle weer in hulle eie gebied vrygelaat word.
Bykomende veiligheidsmaatreëls vir vanghokke
- Diere met lang sterte soos luiperds en jagluiperds se sterte word soms erg beseer wanneer die valhekke daarop val. Dit is dus wenslik om die onderkant van die valhek met dik, sponsagtige rubber te bedek om sulke beserings te voorkom.
- Ongebruikte vanghokke moet nie in die veld gelaat word en moet veilig op die plaaswerf in ‘n skuur gebêre word sodat dit nie in die hande van stropers val nie.
Gebruik van gifstowwe
Giflokaas
- Geen vergiftigde lokaas mag in Suid-Afrika gebruik word nie.
- Regulasie R1716 van 26 Julie 1991 van die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels, 1947 (Wet 36 van 1947) verbied die gebruik van enige plaagdoders vir doeleindes anders as dit wat op etikette aangedui word. Daar is geen plaagdoders vir die doodmaak van roofdiere geregistreer nie en dus mag geen plaagdoders daarvoor aangewend word nie.
Gifhalsbande
- Gifhalsbande wat met natriummonofluoorasetaat gevul is, mag wel gebruik word om skadeveroorsaakende roofdiere selektief mee vankant te maak. Geen ander gifstowwe mag in gifhalsbande gebruik word nie.
- Gifhalsbande mag ook slegs gevul en voorsien word deur mense wat die nodige permitte ingevolge die Wet op Gevaarhoudende Stowwe, 1973 (Wet 15 van 1973) daarvoor het.
- In ’n kamp waar roofdierbedrywighede plaasvind word ‘n aantal jong lammers met gifhalsbande toegerus en saam met volwasse skaap laat loop.
- Enige roofdier wat met gif vankant gemaak is, moet onmiddellik baie diep begrawe of totaal verbrand word om sekondêre vergiftiging te voorkom.
Jag met honde
Soek, vind en vankant maak.
- Slegs opgeleide jaghonde moet gebruik word.
- Honde moet nie vryelik in die veld rondhardloop nie en aan leibande gehou word totdat die teikendier sigbaar word.
- Jaghonde moet baie goed versorg word sodat hulle nie uit hongersnood agter wild aanhardloop en op die manier jag nie.
- Jaghonde moet gereeld ingeënt word en deur ‘n veearts ondersoek word om optimale gesondheid te verseker.
- Soek en vind. Dis waar honde gebruik word om die roofdier se spoor te vat en die dier te vind waarna die roofdier dan doodgeskiet word.
- Honde moet as spoorhonde opgelei word.
- Honde moet nie losgelaat word om self die roofdier dood te maak nie.
- Indien die roofdier opgespoor word, moet dit geskiet word.
- Opspoor te perd en dan doodmaak. Dis waar perderuiters die roofdier se spoor vat en die roofdier dan in ‘n skuiling, soos ‘n erdvarkgat, injaag.
Opleiding deur gekwalifiseerde persone en geloofwaardige instansies
Beginsels van roofdierbestuur, identifisering van roofdiere verantwoordelik vir veeverliese en die gebruik van geskikte beheermaatreëls is onontbeerlik. Skakel gerus met die sekretariaat van die Predasiebestuursforum vir verdere inligting in die verband of om ‘n kursus aan te vra. Opleiding is belangrik vir sowel die boer as die plaaspersoneel wat by veebestuur en -produksie betrokke is.
Samevatting
Die omvattende verskeidenheid metodes om roofdiere mee te bestuur gee vir veeboere en wildboere genoeg opsies om die roofdierprobleem redelik doeltreffend te bestuur. Dit is belangrik om alle opsies te oorweeg en verskeie metodes gelyktydig te ontplooi.
Voorkomende maatreëls is meestal goedkoper as regstellende maatreëls en beskerm ook die boer se vee en wild teen aanvalle van roofdiere.
Verdermeer behoort boere binne gemeenskapsverband saam te werk omdat roofdiere oor baie groot gebiede beweeg en ‘n enkele dier op verskeie plase skade sal aanrig.
Die algehele uitwissing van roofdiere is nie haalbaar nie maar die probleem kan wel beheer word met goeie beplanning en die ekologies sensitiewe aanwending van bestuursmaatreëls.
Bron: Predasiebestuursforum