Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 20th July 2018

Bednar-werktuie werk kliphard in klipharde grond

By 3 min read

Vertikale bewerking is ’n uitstekende benadering, maar in harde turfgrond skep dit maklik ’n kopseer vir boere en daar is heelwat streke in die land wat daarmee sukkel. Bednar Africa het hierdie probleem by die horings gepak deur Bednar-werktuie wat vir Oos-Europa ontwikkel is, in te voer.

“Ons voer die Bednar werktuie uit die Tseggiese Republiek in en sit dit in ons fabriek in Frankfort aanmekaar vanwaar ons dit deur ’n handelaarsnetwerk versprei,” sê Frikkie Hefer, sake- en bemarkingsdirekteur van Bednar Africa. “Hierdie is nou ons vierde bestaansjaar in Suid-Afrika. Bednar Africa is die alleen invoerders van Bednar-masjiene vir Afrika tot heel noord in Nigerië. Die onderneming word deur Frikkie Hefer en Michael de Klerk besit.

“Die rede hoekom ons Bednar gekies het, is omdat hulle wye masjiene bou en wanneer jy wye masjiene bou, bou jy outomaties swaar masjiene waarvan die rame baie sterker is as dié van ligter werktuie wat uit Wes-Europa kom. In die ooste van Europa is daar baie turf en swaar grond en die grondtoestande vergelyk baie met ons s’n. Die ander rede is dat hulle masjiene bou wat diep werk. So, ons het ’n hele reeks beskikbaar wat vlak tot diep kan werk en van 3 tot 18 meter wyd is,” sê Frikkie.

Bednar is ’n familie-onderneming in die dorp, Rychnov nad Kněžnou, wat deur die Bednářs, ’n pa en twee seuns, besit word. Al drie het doktorsgrade in Landbou. Hulle het die werktuie self begin vervaardig nadat hulle verskaffers nie vir hulle geskikte werktuie vir hulle streek kon verskaf nie.

Dié goudgeel werktuie het vanjaar baie aandag getrek toe hulle hulle staal tydens die Val Boeredag gewys het.

bednar

Die Atlas HO 6000-sleepwerktuig is swaar, kort en kompak, maar sal beslis nie die grond kompakteer nie. Dié grondbewerker is gebou vir swaar en droë grond. Dit sny en werk oesreste tot 18 cm onder die grond in, en maak dit lekker los en gereed vir die volgende bewerking. “X-precise” en “Cross Control” is die naam van die funksies wat die x-vormige voorste snyskyfseksie beheer. Dit verander die hoek van die snyskywe sodat dit deurlopend die trekker se wiele volg. ’n Geïntegreerde as verseker dat die werktuig stabiel bly, selfs op die hoë spoed waarteen dit werk of deur ’n klein draaisirkel. Die agterste drukwiele kan verstel word vir verskillende grondtoestande.

bednar

Vir ’n uitstekende beitelploeg hoef ’n boer nie verder as die Terraland TN 4000 HD9R Profi te soek nie. Twee rye tande, twee roltandêe en twee rye snyskywe doen saam ’n paar bewerkings om ’n land plantgereed te maak. Die tande voor maak die grond los om vasgetrapte lae op te breek, terwyl oesreste doeltreffend ingemeng word. Laastens werk die roltandêe en snyskywe saam om die kluite te verkrummel en ’n plat en gekonsolideerde saadbed te vorm.

bednar

Die Terraland TO 5000 HM sal sy man staan as ’n boer sy grond tot 55 cm diep wil losmaak en bewerk. Twee rye tande voor skrik nie vir die hardste, swaarste grondtipes nie en groot kluite en materiaal kan lag-lag onderdeur die 79-cm hoë raam deurbeweeg voordat die twee roltandêe agter dit fynmaak. Vier balke vorm die konstruksie van die sentrale raam en die vervoeras is tussen die twee vleuels geplaas sodat die roltandêe agter opgetel kan word om in baie nat toestande te werk. ’n Vinnige beitelwisselstelsel maak dit moontlik om die beitels maklik te vervang.

Kontak vir Frikkie Hefer by 060-976-2200 of frikkie@bednar-machinery.co.za, of Werner Strydom by 082-797-2441 of werner@bednar-machinery.co.za. Besoek ook hulle webwerf by www.bednar-machinery.com.

 

0
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0
0