Categories: NewsPublished On: 27th January 2017

Baie meer mielies is aangeplant

By 2 min read
466 words
maize

omnia-feature-za

Die voorlopige skatting van die oppervlakte onder mielies is 30,95% meer is as wat die vorige seisoen aangeplant is en die voorlopige oppervlak onder witmielies is ook 53,46% meer as die vorige seisoen.

Die voorlopige oppervlakteskatting van somergewasse is hoofsaaklik gegrond op die resultate van ’n nie-ewekansige opname onderneem deur die Direktoraat vir Statistiek en Ekonomiese Analise van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en weerspieël die situasie soos gedurende die 3 de week van Januarie 2017.

Die hersiene aangeplante oppervlakte en produksiesyfers sal deur die Oesskattingskomitee op 28 Februarie 2017 vrygestel word en sal hoofsaaklik gegrond wees op inligting verkry vanaf die “PICES”-opname vir die Noord-Kaap, Vrystaat, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en Noordwes-provinsies.

Kommersiële mielies:

Die voorlopige skatting van die oppervlakte onder mielies beloop 2,549 miljoen ha, wat 30,95% of 602 450 ha meer is as die 1,947 miljoen ha wat verlede seisoen aangeplant is, en ook 3,50% of 86 200 ha meer as die voornemens om te plant syfer van 2,463 miljoen ha soos vrygestel in Oktober 2016.

Die voorlopige oppervlak onder witmielies is 1,557 miljoen ha, wat ’n toename van 53,46% of 542 450 ha verteenwoordig vergeleke met die 1,015 miljoen ha die vorige seisoen. In die geval van geelmielies is die oppervlakteskatting 992 000 ha, wat ook 6,44% of 60 000 ha meer is as die 932 000 ha geplant die vorige seisoen.

Ander somergewasse:

Die voorlopige oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 665 800 ha, wat omtrent 7,33% of 52 700 ha minder is as die 718 500 ha aangeplant die vorige seisoen.

Die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 542 200 ha, wat ’n toename van 7,84% of 39 400 ha verteenwoordig vergeleke met die 502 800 ha geplant die vorige seisoen. Vir grondbone is die oppervlakteskatting 45 500 ha, wat 101,33% of 22 900 ha meer is as die 22 600 ha geplant vir die vorige seisoen.

Die oppervlakteskatting vir sorghum het afgeneem met 24,12%, van 48 500 ha tot 36 800 ha teenoor die vorige seisoen. Vir droëbone is die geskatte oppervlakte beplant 45 000 ha, wat 30,81% of 10 600 ha meer is as die 34 400 ha geplant vir die vorige seisoen.

Wintergewasse – 2016 produksieseisoen

Die verwagte kommersiële produksie vir koring is 1,893 miljoen ton, wat 0,95% of 17 850 ton meer is as die vorige skatting van 1,876 miljoen ton, terwyl die verwagte opbrengs 3,72 t/ha is. Die hoofrede vir die toename in koringproduksie is as gevolg van produsente wat beter as verwagte opbrengste gestroop het, veral in die Wes-Kaap.

Die verwagte produksie in die Wes-Kaap het met 1,52 % of 16 150 ton toegeneem, van 1,066 miljoen ton tot 1,082 miljoen ton teenoor die vorige skatting. Die produksieskatting vir die Vrystaat is onveranderd gelaat op 308 000 ton. In die Noord-Kaap is die verwagte produksie ook onveranderd gelaat op 266 000 ton. Die oppervlakteskatting vir koring is 508 365 ha.

Ander gewasse:

Die produksieskatting vir moutgars is 354 065 ton, wat 4,4% of 14 930 ton meer is as die vorige skatting van 339 135 ton. Die oppervlakte beplant is beraam op 88 695 ha, terwyl die verwagte opbrengs 3,99 t/ha beloop. Die verwagte kanola-oes is afwaarts aangepas met 3,12% of 3 400 ton na 105 460 ton. Die oppervlakteskatting vir kanola is 68 075 ha, met ʼn verwagte opbrengs van 1,55 t/ha.

Bron: Oesskattingskomitee

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0