Aygo nog meer opwindend met nuwe X-Cite

aygo_068_cmyk-1_1800x1800
Die Toyota Aygo is sinoniem met styl sowel as oorspronklikheid. Die gewilde kleurskema, wat gekenmerk word deur die bekende klavierswart X wat die voorkant van die motor oorheers, is werklik iets om te sien, sê Toyota in hulle bekendstellingsverklaring.
Hoewel die Aygo reeds die karakter het, was Toyota Suid-Afrika Motors nog nie klaar met hom nie en het hy nou die nuwe Aygo X-Cite by die reeks gevoeg. Ander modelle sluit in die Aygo en Aygo X-Play Black.
Die X-Cite bied Suid-Afrikaanse kopers die keuse van ’n bekostigbare, kompakte oopdak-luikrug met ’n nuwe wegvou-sagtekap. Die X-Cite-sagtekap is in swart afgewerk en is in die fabriek gemonteer. Die dak werk elektries en met ‘n skakelaar langs die kaartleesliggie in die plafon. Die wegvoudak, wat die volle lengte strek, verseker dat selfs diegene wat in die agterste sitplekke ry, ook die wind-in-die-hare-ervaring geniet.
Die nuweling word deur die bekende eenliter-VVT-i-petrolenjin wat aan ’n handratkas gekoppel is, aangedryf. Die X-Cite is ook met voertuigstabiliteitsbeheer, ligdiode-dagligryligte, 15″-allooi-sierwiele, lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier, kantlugsakke en lugsakgordyne sowel as ’n kort daklugdraad toegerus.
Prys:
Aygo: R159 100
Aygo X-Cite Black: R161 500
Aygo X-Cite: R189 500
Bron: Toyota Motormaatskappy