Categories: Resource managementPublished On: 20th June 2017

Aquadam na 10 jaar weer by NAMPO: Berg water nog beter

By 4 min read
753 words
aquadam

aquadam 1

Elke boer het die behoefte om water op te gaar en Aquadam gee die boer die vermoë om dit ekonomies, bekostigbaar en doeltreffend te doen met hulle 700 verskillende groottes produkte.

Na ’n afwesigheid van tien jaar was Aquadam vanjaar terug op die NAMPO-terrein en het hulle seker gemaak niemand loop hulle groot groen tenk mis nie. Hulle het NAMPO toegerus met ’n Smart Tenk wat 114 000 liter hou en op NAMPO-park gaan bly staan om water te verskaf.

“Dit is die eerste jaar wat ons terug is. Ons boere is baie bly daaroor en ek het my hele verkoopspan hier dat ons by ons kliënte kan uitkom,” sê Ronald van Lochem, besturende direkteur van Aquadam. Hulle het gratis hoede en koffie vir die boere by NAMPO gegee.

Daar was eers ses watertenks van altesaam 60 000 liter by NAMPO, toe begin hulle verweer en lek en daarom moes hulle vervang word. “’n Plastiektenk het ’n korter leeftydperk. NAMPO het ons genader om die tenks te vervang met ’n meer permanente oplossing en groter kapasiteit,” sê Ronald.

Dit is nie die eerste keer wat Aquadam ’n dam op NAMPO opgerig het nie. Twintig jaar gelede het daar ’n Gunite-betondam van Aquadam by NAMPO gestaan. “Oor hierdie tydperk het ons al 4 000 van hierdie damme vir boere gebou. Dit was ’n duur proses. Toe begin boere kyk na goedkoper opsies en daarom het ons staaltenks begin bou,” sê Ronald.

Aquadam glo in gehalte en duursaamheid, en daarom is hulle die enigste maatskappy wat ’n rollermasjien ingevoer het wat geboë plate vorm. Die plate pas presies oormekaar om tenks volkome waterdig te maak.

“Ons tenks word deur ’n professionele ingenieur ontwerp volgens SABS-standaarde wat vir die tenk ’n 50 jaar leeftyd kan gee en wat ons dan vir 10 jaar waarborg,” sê Ronald

Hulle gaan regoor die land na boere se plase om hulle tenks op te rig en ook reg te maak as daar dalk ’n probleem sou wees. As dit in die waarborgtydperk is, is dit gratis. “As ’n tenk as gevolg van natuurlike verweer lek of breek maak ons reg, maar as die boer self vir skade aan die tenk verantwoordelik is, moet hy vir die herstelwerk betaal,” sê Ronald.

Kommersiële boere kies gewoonlik Aquadam se groter tenks. “Enige boer, van besproeiing, vee, vark, hoender tot akwaponika stel belang in ons produkte en gebruik dit, want jy kan nooit genoeg water hê nie.”

Boerdery en natuurbewaring lê Aquadam se mense na aan die hart. “Ons wil die omgewing help in die droogtetyd. Veral nou in die Kaap met die droogte het baie meer mense damme gekoop.”

As jy ’n dam of tenk by Aquadam bestel, word hy binne twee weke gelewer, afhangende van die werklading ten tyde van die bestelling, dalk nog gouer. Ronald vertel: “Party kliënte bestel vandag en môre het hy sy tenk. Die veiligheid en ontwerp van die dam is vir ons baie belangrik. Ons staan agter ons produk.”

Meer oor die Smart Tenk:

Die Smart Tenk kan in verskillende hoogtes verskaf word en is vervoerbaar. Die tenk kan bo oopgelos word, maar die boer het ook ’n keuse om dit met ’n dak of ’n dekkleed wat beskerming teen UV-strale en vuilheid bied, te bedek. Die tenk is van duursame, versinkte staalplate gemaak. Smart Tenk word teen wind en weer beskerm deur ’n poeierdeklaag. Die kleur kan gekies word om aan te pas by die omgewing. Elke tenk word verskaf met ’n voering wat gesertifiseer is dat die water wat daarin gehou word geskik vir gebruik deur mens en dier is.

Vir meer inligting oor hierdie duursame en bekostigbare tenks vir waterberging, kontak Aquadam by 012-810-0940 of stuur ’n e-pos na: sales@aquadam.co.za.

Hooffoto:  Rudi Schoeman, verkoopskonsultant vir die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Gauteng; Willie Palm, verkoopskonsultant vir Mpumalanga, Limpopo en Noordwes; Ronald van Lochem, besturende direkteur van Aquadam; en Willem Noordman, verkoopskonsultant vir die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap by NAMPO.

Aquadam

Rudi Schoeman, Willie Palm, Ronald van Lochem en Willem Noordman by die groot Smart Tenk wat Aquadam by NAMPO opgerig het.

Aquadam

Die Smart Tenk Express is 10,47 x 2,4 m en het ’n 50-ml uitlaat met ’n kraan. Sonbeskermingstroke en aflewering is ingesluit by hierdie tenk en dit is by die boer se naaste koöperasie beskikbaar. “Dit is ’n doen-dit-self tenk wat die boer self op die plaas kan oprig om geld te bespaar. Ons gee wel vir boere ’n handleiding en lei die koöperasies op om ons produk te verkoop en boere by te staan,” sê Ronald.

0
Views: 614Comments Off on Aquadam na 10 jaar weer by NAMPO: Berg water nog beter

Deel hierdie artikel.

0