Ammoniak (NH3): Die volhoubare dienskneg
Die uitdrukking “Diens aan die landbou” word dikwels gehoor en meestal nagestreef. As daar uit almal en alles ’n enkele produk is wat hierdie uitdrukking ten volle en volhoubaar verwesenlik, is dit ammoniak.
Ammoniak is die basiese grondstof vir die totale stikstofkunsmisbedryf en sluit alle stroomaf stikstofprodukte soos ureum, nitrate (AN en KAN) en ook indirek UAN en NPK-mengsels in. Daarmee saam word ammoniak (as ’n gas) ook regstreeks in die grond toegedien en hou veral hier groot voordele ten opsigte van opbrengs en kwaliteit in.
Ammoniak is ’n vloeistof onder druk en word in spesiale drukhouers gehou wat gereeld deur onafhanklike partye getoets word om veiligheid te verseker. Hierdie drukhouers word op ’’n tandwerktuig soos ’n skeurploeg of beitelploeg geplaas waarmee plasing in die grond geskied via pypies wat agter die werktuig se tande gemonteer is. Hiermee saam word ammoniaktenks verskaf wat langs die land staan en as voedingsbron vir die toedieningswerktuig dien.
Ammoniak word hoofsaaklik voor plant met groot sukses op ’n wye verskeidenheid gewasse soos mielies, koring, graansorghum, sonneblom, bone, suikerriet en groentegewasse soos aartappels, pampoene, kool en ander, toegedien. Feitlik alle grondtipes (behalwe waar baie klip voorkom) is geskik vir ammoniaktoediening; vanaf sandgronde tot gronde met ’n hoë kleipersentasie.
Eienskappe en voordele van ammoniak:
1. Hoogs gekonsentreerde N-bron – 82%! Groot besparing ten opsigte van vervoer.
2. Ideale toedieningsdiepte is 150 – 300 mm en verseker minimale vervlugtigingsverliese.
3. Toediening kan gekombineer word met die bestaande primêre bewerking.
4. Ammoniak kan met gemoedsrus tot 6 maande voor plant toegedien word – beter verspreiding van werk.
5. Differensiële (wisselende) toediening volgens grondpotensiaal is moontlik en baie doeltreffend.
6. Wagtydperk na toediening voor die plantproses kan begin, beloop 4 dae. Indien vog ideaal is en die ammoniak dieper as 200 mm is, verkort die tydperk en kan selfs direk na toediening, geplant word.
7. Ammoniak werk ook uitstekend as topbemesting en gepaardgaande deurlugting van grond is ’n bykomstige voordeel.
8. Groot besparing op arbeid – maklik hanteerbaar, dus word enkele mense benodig.
9. Minimale logingsverliese – ammoniak reageer met grondvog en word direk na ammonium (NH4+) omgeskakel, wat aan klei en organiese materiaal vassit. Navorsingswerk in Nebraska toon dat 25% van die toegediende ammoniak na 132 dae steeds in die NH4 + voorkom.
10.Ammoniak dra by tot die beheer van grondgedraagde siektes soos wortelvrot. Ammoniak steriliseer grond in ’n groot mate in die toedieningsband, deurdat die meeste mikrobes, fungi en aalwurm gedood word. Verskeie navorsers het egter bewys dat hierdie organismes binne 6 weke herstel na minstens dieselfde en selfs meer as die oorspronklike aantal. Gunstigeaalwurm herstel is ook tot 3 weke vinniger, wat ’n beter verhouding tussen gunstige en ongunstige aalwurm skep.
11.Puik opbrengste en verbeterde gehalte loop hand-aan-hand met die gebruik van ammoniak. Oor die langtermyn is daar geen ander N-bron wat met ammoniak kan kersvashou nie.
Mites en feite
1. Mite: Ammoniak versuur grond meer as ander N-bronne.
Feit: Alle N-bronne versuur grond. Ammoniak versuur grond in dieselfde mate as ureum en AN (KAN uitgesluit).
2. Mite: Ammoniak vernietig erdwurms en mikrobelewe van die grond.
Feit: Verskeie navorsers het bewys dat daar geen langtermyn negatiewe effek op grondlewe is nie (Michigan State University).
3. Mite: Ammoniak het ’n nadelige uitwerking (meer as ander N-bronne) op die fisiese- en chemiese eienskappe van grond.
Feit: Verskeie navorsers is dit eens dat daar geen verskil tussen verskillende N-bronne ten opsigte van ’n langtermyn negatiewe effek op grondeienskappe is nie (behalwe versuring deur alle N-bronne) en wel ook dat die effek van N-bronne minimaal is.
Uitdagings:
Enige produk het ’n paar uitdagings en dié van ammoniak is soos volg:
1. Doeltreffende toediening is afhanklik van die korrekte grondvog.
2. Beskikbaarheid van tenks en toerusting weens die feit dat dit gespesialiseerd is.
Gelukkig gaan die lekkerte, voordele en suksesse met ammoniak die uitdagings ver te bowe. Pro Gas Solutions, die deskundiges van ammoniak, in kombinasie met die beste N-bron, verseker dat die uitdrukking van “Diens aan die landbou” voorwaar verwesenlik word. Kontak Hein Barnard by hein@progassolutions.co.za vir meer inligting.