AgriTechnica wys die wêreld se beste landboutoerusting
Die grootste landbouskou in die wêreld is onlangs in Hanover, Duitsland, gehou en uitstallers vanuit die verre Ooste tot Suid-Amerika het hulle vernuf en nuwighede met die afwagtende skougangers gedeel. Die skou vind plaas op die grootste skouterrein, Messe, buite Hanover en fokus streng op meganiese tegnologie. ProAgri het ook ‘n opwindende tyd daar beleef en is baie opgewonde oor die nuwe trekkers en werktuie wat op pad is Suid-Afrika toe. Hier is ‘n paar fotos van handelsmerke wat al diep spore op Suid-Afrikaanse bodem getrap het.
Horsch het ‘n paar veranderinge aan hulle Focus 6 TD planter aangebring. Dit sluit ‘n eenry-tandseksie in met ‘n tandspasiëring van 75 cm tot 90 cm, spesiaal vir mielies plant in Suid-Afrika.
Die Strautmann Asperion 2401 tapkar se vloer is van versterkte belde gemaak en maak aflaai ‘n fees.
Die Azurit 9 van LEMKEN is hulle eerste mielieplanter wat ook binnekort in Suid-Afrika gaan lyf wys.
Krone het vanjaar ‘n goue medalje by die skou gewen met hulle Premos 5000, wat tydens die stroopproses hooi, bedmateriaal en ruvoer sommer op die land in 16 mm-pille saamdruk.
Siloking kon met hulle nuwe selfaangedrewe SelfLine 4.0 System 500+ by Agritechnica spog. Hierdie gehalte voermenger is gebou vir kontrakteurs en groot melkplase met kampe wyd uitmekaar omdat dit vinnig op ‘n teerpad of maklik op ‘n ruwe grondpad kan beweeg. Anna Perederii, Mari Dandl en Margit Mayer het rede om trots te wees op hierdie bulperd.