Categories: NewsPublished On: 5th November 2014

Agri Securitas Trustfonds span tegnologie in vir plaasbeskerming

By 2 min read
396 words

foto: www.freephoto.com

Landelike misdaad is ’n nasionale krisis wat net nie opgelos kan of wil word nie en die Agri Securitas Trustfonds het besluit om tegnologiese hulpmiddels aan te wend in die stryd.

Die Trustfonds het weer geldelike steun aan verskeie boerderygemeenskappe bewillig om hulle in staat te stel om hulle veiligheid te verbeter. Misdadigheid in landelike gebiede noodsaak dié gemeenskappe om al meer te doen om hulle boerderye teen misdadigers te beskerm. Die geld sal aangewend word vir die oprigting van kamerastelsels om nommerplaatidentifikasie te bewerkstelling in die distrikte van Smithfield en Graaff-Reinet, die oprigting van ‘n herhaler in die Reitz-distrik asook die aanwending van radio’s om teenmisdaadaksies in die Bothaville-distrik te help koördineer.

“Met konstruktiewe optrede bly die Trustfonds verbind om ‘n veiliger landelike omgewing daar te stel sodat landbouproduksie kan voortgaan en werksgeleenthede ontwikkel kan word. Hoewel die misdaadprobleem ingewikkeld en moeilik is om op te los, vertrou ons dat die geldelike hulp sal bydra om landbou as ‘n bate te help beskerm,” sê Japie Grobler, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds.

Die kamerastelsels sal aangewend word om toegangspaaie te moniteer en vanweë die afskrikwaarde daarvan by te dra tot die beveiliging van boere en plaaswerkers. Die monitering van voertuigbeweging sal bydra om die stryd teen veediefstal te verskerp en misdadigers af te skrik om die gebied binne te kom. Inligting oor verdagte voertuie en persone wat deur die stelsel verkry word, sal die gemeenskap in staat stel om optrede binne bestaande landelike beveiligingsprosedures te beplan.

Onvoldoende kommunikasie veroorsaak tekortkominge in die voorkoming van misdaad en die koördinering van landelike beveilingsoptrede. Die voorsiening van ‘n herhaler en handradio’s sal die probleem oplos en lei tot meer doeltreffende noodkommunikasie en die bespoediging van beveilingsoptredes.

Die beveiliging van boere en plaaswerkers is die belangrikste aspek van die Trustfonds en al sy aksies is daarop ingestel om voorkomende hulp aan boerderygemeenskappe beskikbaar te stel om hulle kwesbaarheid teen misdaad te help verminder.

“Landbouers moet daagliks verskeie uitdagings in hulle boerderye die hoof bied en die Trustfonds sal voortgaan om, saam met sy borge, in verdienstelike gevalle hulp te verleen om in van die uitdagings verligting te bied,” sê Grobler.

Die Trustfonds gee erkenning aan sy sakevennote; Vodacom, Nissan SA, Sanlam, CrisisOnCall en sy borge; Afgri, GWK, Senwes, NWK en OFM, wat op verskeie vlakke van die Trustfonds ‘n bydrae lewer.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0