Agri SA se besturende direkteur vereer

omri-van-zyl-agri-sa
Omri van Zyl, besturende direkteur van Agri SA is hierdie jaar deur CEO Global as ‘n “Continental Winner” op hulle prestige Gala-dinee by die Midrand Konferensie-sentrum aangewys. CEO Global, ‘n organisasie- en professionele dienstemaatskappy, fokus daarop om Afrika se voorste talent te identifiseer.
Omri van Zyl is die kontinentale wenner in die kategorie Landbou in hulle ‘Leading African Recognition Program.’
Die doel van die program is om uitnemendheid in die private en openbare sektor te eer. Hierdie program dek 23 ekonomiese sektore wat leiers in hulle onderskeie bedrywe uitwys. Benoemings word verkry uit die sakegemeenskap en van individue oor ‘n tydperk van ongeveer 13 maande. Daar was uiteindelik net minder as 5 000 benoemings.
Die beoordelaarspaneel bestaan uit vier vlakke en 24 verteenwoordigers van regoor Afrika met leiers in die sake- en openbare sektor.
Wenners word ook beloon deur die geleentheid om die Network of Influence te nader, wat hulle toegang tot ontwikkelingshulpmiddels en dienste sal gee.
“Agri SA is baie trots op en opgewonde oor hierdie gesogte toekenning wat Omri gewen het. Dit is inderdaad ‘n beduidende prestasie in ‘n mens se loopbaan en ons wens hom geluk met hierdie uitsonderlike prestasie,” sê Johannes Möller, president van Agri SA.
“Ek wil CEO Global bedank vir hierdie toekenning, dit is ‘n eer om ‘n kontinentale wenner in hierdie dinamiese sektor te wees,” sê Omri.
Bron: Agri SA