AFGRI brei finansiële dienste uit na Noord-Kaap

AFGRI-Logo
AFGRI, die toonaangewende landboudienste-, voedselverwerkings- en graanmaatskappy brei sy finansiële dienste uit na die Noord-Kaap deur ‘n samewerkingsooreenkoms tussen UNIGRO Finansiële Dienste en KLK Landbou. UNIGRO Finansiële Dienste, een van die ondernemings in AFGRI se finansiëledienste-portefeulje, het vroeg vanjaar ‘n samewerkingsooreenkoms gesluit met die Noord-Kaapse KLK Landbou Beperk.
Met dié ooreenkoms sprei AFGRI sy vlerke na die Noord-Kaap, in pas met sy strategie om uit te brei na streke waar hy nie tans sake bedryf nie.
Die ooreenkoms is gesluit om KLK se dienste aan kliënte uit te brei en aan te vul deur UNIGRO se verhoudings met verskeie versekeraars te benut. Ingevolge die ooreenkoms sal UNIGRO se leningsprodukte nou ook beskikbaar wees aan KLK se kliënte.
UNIGRO verskaf oesversekering, wat insluit dekking teen haelskade, wind, vervoer, brand, ryp en multi-risiko’s, asook bate- en gesondheidsversekering sowel as finansiëlebeplanningsdienste en welvaartbestuursdienste. Kredietlewensversekering is ook beskikbaar om boere se produksielenings te dek.
Die tradisionele leningsprodukte soos termynlenings, huurkoopfasiliteite en produksielenings word aangevul deur innoverende finansiële produkte soos UNIGRO se wentelkredietfasiliteit.
Theo Potgieter, direkteur van Versekeringsprodukte by UNIGRO, sê die ooreenkoms bied nuwe geleenthede aan albei die betrokke partye. “Saam sal UNIGRO en KLK sy oes- en bateversekeringsdienste kan uitbrei na gevestigde en opkomende boere in die streek, terwyl KLK met die hulp van UNIGRO sy visier kan stel op groot korporatiewe kliënte. Die samewerkingsooreenkoms is gemik op veral die kliënte van KLK wat nie deur KLK verseker is nie.
Die samewerkingsooreenkoms met KLK is in Februarie opgevolg deur ‘n verdere ooreenkoms tussen UNIGRO en Indwe Risk Services, ‘n vooraanstaande versekeringsmakelaar vir persoonlike en ondernemingsversekering asook vir spesiale risiko’s.
Ingevolge dié ooreenkoms kry Indwe toegang tot UNIGRO se kundigheid met betrekking tot landbouversekering en finansiële produkte, terwyl UNIGRO sal baat vind by die volle reeks adviesdienste wat Indwe aanbied.
Theo sê die samewerkingsooreenkoms met Indwe skep vir UNIGRO die geleentheid om na Afrika uit te brei danksy Indwe se geïntegreerde netwerk van onafhanklike versekeringsmakelaars op die kontinent.
Ten slotte wys Theo daarop dat mense in moeilike tye, soos wat tans in die landboubedryf ervaar word, heel eerste terugsny op uitgawes aan versekering – ongelukkig tot groot nadeel vir hulself sou die onvoorsiene gebeur. “In moeilike tye is dit raadsaam om liewer met jou makelaar of verhoudingsbestuurder te praat oor moontlike oplossings, pleks daarvan om polisse en versekeringsdekking voor die voet te kanselleer,” sê Theo.
Bron: UNIGRO Finansiële Dienste