Categories: News, WheelsPublished On: 7th December 2017

2018 BMW X3: Beter as die res?

By 6 min read
1116 words

bmw 2

Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive

Teen hierdie tyd behoort dit algemene kennis te wees dat verkope van sportsnutvoertuie wêreldwyd die toon aangee. Met die dat dit wil lyk asof die sedanmotor stadig saam met die sakkende son oor die horison  in die vergetelheid wegry, skarrel motorvervaardigers om soveel as moontlik verskillende opsies van nutsvoertuie aan ‘n immergroeiende kopersmark beskikbaar te stel.

Vir BMW is sy X-reeks voertuie wêreldwyd ‘n sukses en word die reeks eersdaags verder uitgebrei met ‘n groter X7 en ‘n klein X2. Die X3 waarvan die derde generasie nou onlangs in die pragtige Tuinroete van die Suidkaap bekendgestel is, is uiteraard vir BMW belangrik, want dit is een van die beste verkopers in daardie segment met  wêreldwyd 1,5 miljoen eenhede wat sedert die eerste model se bekendstelling van die hand gesit is.

Wat die nuwe X3 vir Suid-Afrika belangrik maak, is die feit dat BMW SA aangewys is om ook die nuwe X3 vanaf begin 2018 in die vervaardiger se Rosslyn aanleg te bou, vanwaar dit plaaslik sowel as in Europa verkoop gaan word. Die bekroonde aanleg buite Pretoria het tot vanjaar nog BMW se 3-reeks daar vervaardiger, maar die model gaan voortaan in Mexiko gebou word. Die X3-modelle waarmee ons tydens die amptelike bekendstelling gery het is egter in die die VSA se Spartanburg aanleg in Suid Carolina vervaardiger.

bmw

Voorkoms

Buite vertoon die nuweling veel groter as die uitgaande model en is die bakwerk  dan ook 78 mm langer gemaak terwyl die wielbasis met 54 mm gerek is. Terwyl die baggasieruim  se 550 liter (vergroot na 1600 liter met die agtersitplekke platgevou) dieselfde is as die uitgaande model, het die groter afmetings gesorg vir meer ruimte in die kajuit. Sterker lyne, skerper hoeke en ‘n forser vooraansig met  ‘n groter niertjierooster bring ‘n meer aggressiewe voorkoms, terwyl die groter wiele  bydra  tot die 204 mm grondvryhoogte. Die eindproduk kan maklik met sy groter boet, die X5 verwar word. Nuwe LED ligte voor en agter verleen ‘n 3D effek en die voorste misligte het ‘n treffende heksagonale ontwerp. BMW SA het die 2018 model beskikbaar gestel met vier afwerkingsvlakke, naamlik Standaard, X-Line, Luxury Line asook die sportiewe M-Sport. ‘n Pragtige nuwe Pythonic Blue bakkleur is ook spesiaal en uniek vir die nuwe X3-reeks beskikbaar.

Binnekant is die kajuit tipies van die moderne geslag BMW’s.  Afwerking is luuks, weelderig en van hoogstaande gehalte met die uitleg, skakelaars en voorkoms wat jou herinner aan wat gebruik word in die vervaardiger se luukse 5- en 7-reeks sedanmotors. Die moderne digitale instrumentasie en info/vermaak stelsel se iDrive beheerknop is byvoorbeeld soortgelyk as wat  in die luukse sedanmotors gebruik word. Hoë definisie volkleur raakskerm middel bo in die voorpaneel werk intuïtief en kan nou met behulp van die beheerknop, stemopdragte of handgebare  gebruik word! Die nuwe X3 bied ook  drie-sone klimaatbeheer met die agterste passasiers wat self hulle temperatuur kan kies en verstel. Die agterste ry sitplekke  kan in ‘n 40:20:40 verdeling platgevou word.

Enjins

BMW SA het by die bekendstelling vier enjin opsies beskikbaar gestel wat  twee dieselenjins en twee petrol modelle insluit. ‘n xDrive 2.0i petrolenjin weergawe kom later wat as agterwiel aangedrewe (sDrive) of vierwiel (xDrive) beskikbaar sal wees. Die X3 20d word aangedryf met ‘n viersilinder 2,0 turbodiesel wat  140 kW en 400 Nm se piekverrigting lewer en amptelik slegs  5.4 L/100 km se diesel in ‘n gemengde siklus verbruik. Die X3 30d se fris turbodiesel reguit 6-silinderenjin skop 195 kW en 620 Nm se krag uit met ‘n amptelike verbruik van slegs 6.0L/100 km. Die 0-100 kpu lopie word aangegee as 5,8 sekondes en topspoed is 240 kpu.

Die X3 30i is die intree petrolmodel en die  viersilinder reguit turboaangejaagde enjin lewer ‘n wakker 185 kW met ‘n amptelike verbruiksyfer van 7.4L/100 km. Topmodel in die reeks is die X3 M40i, BMW se eerste M-verrigtingsmodel in die X3 en lewer ‘n kragtige 265 kW en 500 Nm se piekverrigting. Die reguit turboaangejaagde 6 silinder enjin draf die 0-100kpu lopie af in ‘n verstommende en klasleidende 4,8 sekondes terwyl topspoed elektronies tot 250 kpu beperk word!

Al die modelle is standaard met BMW se xDrive-stelsel wat krag via ‘n 8-spoed outomatiese ratkas na al vier wiele stuur. Ons roete tydens die bekendstelling het ons oor verskeie bergpasse geneem waarvan die teerpaaie asemrowend mooi en die grondpasse indrukwekkend en uitdagend was.

Die nuwe X3 is 55 kg ligter as sy voorganger en bied nou gewigverspreiding van 50/50 voor en agter.  Koppel dit aan ‘n uitstekende onderstel met ‘n dinamiese veerstelsel, goeie stuur en vierwieltraksie en jy het byna ideale paddinamika vir ‘n bevredigende bestuurservaring.

Ek kon oor die twee dae ongelukkig slegs die 20d en M40i bestuur, maar was ten spyte van die M40i se imponerende verrigting, werklik beïndruk met die klein diesel. Tot so ‘n mate dat dit my keuse is uit die huidige modelreeks na afloop van meer as 200 km per dag se rywerk. Die 3.0 diesel se fantasiese wringkrag is heerlik vir verbygaan en stadsverkeer, maar die bykans R200 000 pryspremie vir die groter diesel is in my opinie net te veel.

Ry indrukke

Op die teer, wat bergpasse en snelweë ingesluit het, was die X3 M40i ‘n fees van bestuursgenot. Hantering, verrigting, balans deur draaie na harde remming en stuurgevoel was meer soos die van ‘n blitsbuks as van ‘n sportsnuts. Die krag, versnelling en greep het soos ‘n rasegte sportmotor gevoel. Met groot lae-profiel bande was ek baie skepties of die kragtige topmodel hoegenaamd die losserige grond en ongelykte oppervlaktes van die grondpadpasse hoegenaamd sal kon hanteer. Tot my verbasing het die onderstel en uitstekende vering die slaggate en sinkplaatgedeeltes van selfs die slegste oppervlaktes en kort u-draaie lag-lag opgeslurp, tot so ‘n mate dit bykans geensins steurend of ongemaklik in die kajuit was nie. Die xDrive stelsel het ook die klomp warm perde onder die enjinkap uitstekend deur die Sewepasse – pad se  skerp haarnaaldbogge hanteer, selfs wanneer ek soos ‘n wafferse tydrenjaer  die pad vorentoe deur die kantvenster beloer het!

Tog was dit die 2.0 diesel wat my die meeste beïndruk het en veral op die grondpad en deur die bergpasse. Die  voertuig het skerper, ligter en ratser gevoel. Nooit het ek ooit die gevoel gekry dat die enjin meer woema kort, of  gebrek gaan aan oemf wanneer daar uit kort draaie vanuit lae spoed vinnig versnel moes word nie. Die klein diesel enjin is ‘n juweel en is saam met die 8-spoed outokas ‘n ideale paartjie. Terwyl ek graag so af en toe met die witwarm M40i sal wil speel, is die 2018 X3 2.0d my keuse vir elke dag se loutere bestuursgenot.  Beter as die res? Gaan toetsbestuur die nuwe model en oordeel self.

Pryse

xDrive20d  R684 200
xDrive30i R739 800
xDrive30d R868 300
X3 M40i R991 100

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0