Nog hoop in die droogte

hoop gras 3
Stedelinge kan nou ook fisies bydra om boere te help om hulle diere in die droogte te voer. Al wat hulle hoef te doen, is om Saterdagmiddag se grassnysels bymekaar te maak en te gaan aflaai.
Die droogte het veroorsaak dat daar verskeie nie-winsgewende organisasies soos Boere in Nood en Caring Daisies gestig is wat die boere wil help. Hoop Gras Projek is ook ‘n organisasie wat pas die lig gesien het en hulle werk saam met Agri SA om voer aan die boere te voorsien. Soos hulle leuse sê: “Miskien sien jy net ‘n hoop GRAS, maar vir baie boere is dit HOOP.”
“Soos almal weet is dit die ergste droogte in 30 jaar en ons in die stad is nie altyd bewus van wat op die plase aangaan nie. Diere baklei elke dag van hulle lewe om te oorleef. Daarom vra ons vir mense om grassnysels te skenk,” sê Annelize Geldenhuys, stigter van die Hoop Gras Projek.
Daar is 17 aflaaipunte in die Pretoria- en Johannesburg-omgewing, twee in Noordwes, een in KwaZulu-Natal, een in Bloemfontein en een in die Kaap. “Infrastruktuur is wel nog ‘n uitdaging,” sê Annelize.
Kyk hier waar is jou naaste aflaaipunt: https://www.facebook.com/notes/hope-grass-project-hoop-gras-projek/hope-grass-project-need-to-know/1962136997344023
Sy voeg ook by dat die gras verkieslik afgelaai moet word op dieselfde dag wat dit gesny word. Hulle sprei dit oop by die aflaaipunte in ‘n dun laag totdat dit droog genoeg is om in sakke geplaas te word. Of dit word dadelik verwerk tot voerpille. Die gras word gemeng met ander materiaal soos lusern. Die pille kan dan gebêre word vir die winter of dadelik aan die boere gestuur word. Een sak voerpille (50 kg) kan ‘n skaap vir ‘n maand lank voed.
“Die verspreiding word gedoen deur AgriSA en mense skenk ook bale voer. Ons het al 3 000 bale versprei deur die projek,” sê sy.
“Ons probeer regtig almal help wat dit nodig het.”
Daar is verskeie moets en moenies wat in ag geneem moet word voor jy die gras kan skenk:
- Moenie gras skenk wat onlangs met kunsmis bewerk is nie.
- Verwyder eers al die ontlasting van diere, soos honde.
- Probeer om die gras self droog te maak.
- Moenie die gras in groot hope los nie, dit moet uitgesprei lê.
- Moenie die gras dadelik in ‘n plastieksak sit indien jy dit nie onmiddellik by die afsetpunte gaan afgee nie.
- Moenie toegemaakte plastieksakke met vars gras in die son los nie.
Bankbesonderhede (indien jy nie gras het om by te dra tot die projek nie):
ABSA, Takkode 632005, Tjekrekening 406 854 0775, verwysing: HOOP GRAS

