Categories: NewsPublished On: 6th June 2011

Zimbabwiese boere wen hofstryd in Pretoria

By 1 min read

Die Hooggeregshof in Pretoria het in die guns van drie Zimbabwiese boere uitspraak gelewer in die saak oor die beslaglegging op Zimbabwiese bates in Kaapstad.

Die Zimbabwiese regering het verlede jaar probeer om die beslaglegging op hulle eiendomme in Suid-Afrika deur boere wat hulle plase in Zimbabwe verloor het, tersyde te stel.
 
Die saak het gevolg toe die Tribunaal van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) in November 2008 beslis het dat Zimbabwe se grondhervorming rassisties en onwettig was en dat boere vir die onteiening van hulle plase vergoed moes word. 
 
Bevele van die Tribunaal kan in die ledelande van die SAOG geregistreer en afgedwing word.
 
Die burgerregte-organisasie, AfriForum het die boere bygestaan om die bevinding van die Tribunaal in die Noord-Gautengse Hooggeregshof te laat registreer. Kort na die registrasie het die boere op drie eiendomme van die Zimbabwiese regering beslag gelê. 
 
Nie lank daarna nie het die Zimbabwiese regering met ’n reeks hofaansoeke begin om die beslaglegging van sy eiendomme en die registrasie van die SAOG tribunaal-bevinding tersyde te laat stel.
 
AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, wat as prokureur van die boere opgetree het, het in ’n verklaring gesê dat Zimbabwiese eiendom in Kaapstad waarop verlede jaar beslag gelê is, nou verkoop gaan word.
 
“Die uitspraak is van historiese belang omdat dit waarskynlik die eerste maal in internasionale regsgeskiedenis is dat ‘n hof gelas dat die bates van ‘n land wat skuldig is aan menseregte-vergrype in ‘n openbare veiling verkoop moet word,” het hy gesê.
 
“Reëlings vir ‘n openbare veiling van die eiendom sal onverwyld getref word,” het meneer Spies gesê.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0