Wolmark bly goed

capewoolssa_logo
Volgens Cape Wools se weeklikse wolmarkverslag het die wolprys ‘n bietjie gedaal die week met 0,5% terwyl die Cape Wools Merino-aanwyser met 85 punte gedaal het wat gelyk is aan ’n waarde van R160,76/kg. Die Australiese mark was onveranderd.
Die wolmark is op die oomblik baie goed en 97,6% van die 15 525 bale wat op die veiling was, is verkoop. Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA (5 511), Lempriere SA (3 970, G Modiano SA (3 022) en Stucken & Co (1 248).
Die rand (R16,83) was 2,2% swakker teenoor die Amerikaanse dollar en teenoor die vorige veiling. Die rand was ook 3,3% swakker teen die euro.
Die gemiddelde skoonwolpryse binne die verskillende kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg: 18,0 mikron styg 0,2% teen R175,46/kg; 18,5 mikron verswak 2,3% teen R172,84/kg; 19,0 mikron daal 1,7% teen R168,43/kg; 19,5 mikron neem af met 0,3% en sluit op R164,42/kg; 20 mikron verswak met 1,1% tot R161,65/kg; 20,5 mikron daal met 0,4% en sluit op R160,94/kg; 21,0 mikron neem toe met 0,1% en sluit op R159,47/kg; 21,5 mikron styg met 0,3% tot R159,66/kg en 22,0 neem af met 2,3% en sluit op R154,25/kg.
Die volgende veiling wat gaan plaasvind is 27 Januarie 2016 en daar gaan min of meer 10 900 bale aangebied word.