Wees eers 'n goeie boer, bring dan tegnologie in
Presisietegnologie kan opbrengste verhoog en die gehalte van produksie verbeter, maar dit kan ook bedrywighede belemmer as dit nie deel van ‘n geïntegreerde plan is nie.
“Te dikwels word tegnologie in werking gestel op ‘n lukraak manier en dan kos dit meer as die voordele wat dit moet voorsien of beland eintlik in die pad van die normale bedrywighede,” sê Nico Groenewald, hoof van Agri by Standard Bank.
“Sommige van ons kliënte gebruik tegnologie so fyn dat hulle hul opbrengs per millimeter water wat nodig is, kan voorspel. Hulle het tegnologie oor die volle spektrum van hulle bedrywighede ingevoer op so ‘n manier dat dit wat hulle doen in een gedeelte van die plaas die res van die boerdery ondersteun.
“Maar hulle het dit reggekry net omdat hulle klaar goeie boere is. Hulle was suksesvol voordat hulle nuwe tegnologie ingespan het. Hulle gebruik net tegnologie om te doen wat hulle nog altyd goed gedoen het, maar nou net meer doeltreffend en meer kostedoeltreffend.
“Tegnologie maak nie van jou ‘n beter boer nie. Van ‘n trekker tot selfs ‘n tuinvurk bly net ‘n instrument. Dit moet ondersteun eerder as domineer. “
Op groot plase kan sekere tegnologie tyd en moeite verminder, maar op kleiner plase kan dieselfde tegnologie ‘n finansiële las word. Dit is dus belangrik om behoorlike marknavorsing te doen en tegnologie te kies wat by jou opset pas.
“Die punt is om nie verblind word deur die glans van tegnologie nie. Weeg die voor- en nadele versigtig op, in die konteks van jou algehele beplanning. In ‘n langtermynbedryf soos boerdery, is tegnologie nie ‘n kortpad na sukses nie. Dit is ‘n vennoot wat die langtermyn makliker maak. “
Die behoefte aan ‘n beplande en holistiese benadering tot die gebruik van tegnologie word onderstreep deur die feit dat die tegnologie van vandag nie beperk is tot toerusting en rekenaarprogramme nie. Dit sluit ook biologiese tegnologie in die vorm van saad en kunsmis, genetika en nuwe metodes van teling vir spesifieke eienskappe van vee in, die produksie en gebruik van energie, veral hernubare energie, en grondkunde, om net ‘n paar te noem.
Mnr Groenewald sê: “Ons aanbeveling is dus dat, in plaas daarvan om op ‘n ad hoc basis ‘n stukkie tegnologie te kies om ‘n onmiddellike behoefte te bevredig, neem die tyd om die langtermyn-invloed van jou keuse te verstaan.
Presisie-besproeiing, byvoorbeeld, vra vir die akkurate toepassing van spesifieke tipes kunsmis en planttye van besondere gewasse.
“‘n Nuttige vergelyking is dié van ‘n stuk lap plat op ‘n oppervlak. Maak nie saak waar jy dit optel, in die middel, op ‘n hoek of langs ‘n kant nie, die hele doek sal beweeg. Op dieselfde manier, maak nie saak waar jy jou plaas aanraak met tegnologie nie, jy sal die hele plaas beïnvloed. Maak strategiese eerder as net taktiese keuses.”