V Medisyne: Strategiese winterbehandeling kan duisende rande bespaar
MaaV-Medisyne-Strategiese-winterbehandeling-kan-duisende-rande-bespaar/p>
Die belangrikste faktor is koue (<10°C) en hierdie jaar was dit veral die geval.
Hierdie spesifieke omstandighede (koue winter) skep ’n gulde geleentheid vir strategiese beheer van die parasiete wat in die diere oorwinter.
Twee parasiete wat strategies beheer moet word, is neuswurm by skape en lewerslak by beeste en skape.
Neuswurm
Gedurende die somer is dit baie moeilik om neuswurm doeltreffend te beheer. Die lewensiklus is baie kort (20 tot 30 dae) en daar is nie middels geregistreer met ’n bewese nawerking spesifiek teen neuswurm nie.
Baie gevalle het verlede somer voorgekom waar skape behandel is om net weer binne 3 weke neusuitloopsels en aantasting te wys. Die meeste boere vermoed dan weerstand teen die middel wat gebruik word, maar tot op hede is daar nog nie weerstand bewys nie.
Die rede is baie eenvoudig. Die “neuswurm” is in werklikheid ’n vlieg wat tot 500 lewende larwes in en om ’n skaap se neusgate lê. Die larwes kruip in die neusgange op, voed op die neusafskeiding en vervel twee maal voordat hulle groot is om dan uitgenies te word. Hierdie derdestadiumlarwe ontwikkel in die grond as ’n papie, waaruit die vlieg dan weer broei om die siklus voort te sit.
Koue veroorsaak dat al die papies in die grond doodgaan. Die enigste manier waarop die parasiet in die koue kan oorleef, is in die skaap se neus.
Die parasiet is so aangepas dat larwes gedurende die winter nie verder ontwikkel nie, maar in die neusgange en sinusholtes oorleef. Hulle sal dan eers aan die einde van die winter verder ontwikkel om uitgenies te word.
Die strategie
Behandel dus alle skape tydens die winter teen neuswurm. Enigeen van die bekdoserings of inspuitbare middels wat vir neuswurmbeheer geregistreer is kan gebruik word .
Hierdie strategie is net nodig indien neuswurm ’n bewese probleem is wat produksieverliese op die spesifieke plaas veroorsaak.
Dit is altyd belangrik om te onthou dat strategiese behandelings hoogs selektief is vir seleksie van weerstand. Dit is omdat die enigste parasiete wat die volgende somer gaan voorkom, die parasiete is wat die strategiese behandeling oorleef het.
Omdat die strategie net een maal per jaar gevolg word, en omdat dit so ’n groot vermindering in die neuswurmprobleem in die somer en herfs teweeg bring, bly dit ’n gewenste strategie in die geval van neuswurmbeheer.
In samewerking met die veearts moet daar jaarliks besluit word watter middel gebruik gaan word en waarmee dit oor ’n jaar afgewissel gaan word vir die volgende behandeling.
Lewerslak
Die ander parasiet waarvan die lewensiklus net in die laatwinter onderbreek kan word, is lewerslak.
Die laaste groot besmetting vind in die herfs plaas indien die winter baie koud en straf is, soos hierdie jaar die geval is. Die rede daarvoor is dat die varswaterslak, wat die tussengasheer is, verdwyn (kruip in die modder) sodra die minimum temperatuur laer as 10°C daal en eers weer te voorskyn kom in die lente wanneer die minimum temperatuur oor die10°C styg.
Voordat die varswaterslak in die modder gaan wegkruip, word omtrent al die lewerslakkies wat in die slak vermenigvuldig het uitgeskei, en groot getalle van die lewerslakkies gaan klou dan aan waterplante vas.
Hierdie besmetlike stadium van lewerslak het ’n doppie om wat dit in ’n taamlike mate teen uitdroging en koue beskerm, daarom kan lewerslakbesmette vleigebiede nog selfs in die vroeë winter gevaarlik wees vir beweiding.
In die laat winter is daar baie min van die besmetlike stadium wat buite die dier kan oorleef en die besmetting wat wel in die herfs opgedoen is, het nou so gevorder dat die meeste of al die lewerslakke in die galbuise van die bees of skaap se lewer in die volwasse stadium is.
Geen verdere besmetting van die omgewing kan gedurende die laatwinter plaasvind nie, omdat daar nie tussengasheerslakkies is nie en omdat die lewerslakeiers wat deur die gal in die bees se mis uitgeskei word, nie kan uitbroei as die minimum temperatuur laer as 10°C is nie.
Die strategie
Deur so ver as moontlik nou alle volwasse lewerslakke in die beeste of skape te dood, kan seker gemaak word dat die belangrikste bron van nuwe besmetting in die volgende reënseisoen uitgeskakel is. Daar sal wel nog ’n paar lewerslakke binne die varswaterslakkies oorleef en selfs die stadium op die waterplante met die doppie om kan ook oorleef, maar dit is baie min.
Deur hierdie winter hierdie behandelingstrategie te volg, kan daar van die grootste besmetting ontslae geraak word. Die verdere groot voordeel is dat die beeste en skape ook die vleigebiede in die laatwinter en tot in die lente kan benut sonder dat dit die lewerslak se voorkoms bevoordeel.
Praat met jou veearts oor die middel wat gebruik moet word. Indien dit ’n probleem binne ’n groter gebied is, is dit ook koste-voordelig vir boere om ’n gemeenskaplike bestelling deur die veearts te plaas.
Peervormige maagslak
Die een parasiet waarvoor veeboere altyd op hulle hoede moet wees indien vleigebiede in die winter bewei word, is peervormige maagslak.
Hierdie parasiet se lewensiklus vind ook plaas deur ’n spesifieke varswaterslak wat as tussengasheer dien. Die groot verskil is dat die varswaterslak nie so gevoelig is vir koue water nie. Hy is dus baie langer in die winter teenwoordig om die besmetlike stadia van peervormige maagslak te kan uitskei.
Die grootste besmetting vind gewoonlik in die laatherfs of winter plaas en veroorsaak ’n geweldig stinkende en waterige diarree, veral by jonger beeste en skape. Die maagwerk word veroorsaak deur die onvolwasse stadium in die dunderm, wat dan later op migreer na die grootpens waar dit vir jare kan oorleef en eiers produseer.
Behandeling
Daar word min van ’n strategiese behandeling gebruik gemaak en dit word net gedoen op die paar plase waar dit jaarliks voorkom. Strategiese behandeling sal baie laat in die winter of vroeë lente gedoen word met ’n middel wat doeltreffend is teen die volwasse peervormige maagslak.
In meeste gevalle vind die behandeling plaas sodra die siektetekens gesien word. Hier is dit altyd nodig om eers die hulp van ’n veearts in te roep om die diagnose te bevestig, omdat daar ook ander oorsake van erge diarree in die winter kan wees.
Vir behandeling word ’n middel gebruik wat die onvolwasse slakkies vinnig dood om die diere se lewe te red.
Al die aanbevelings soos hierbo bespreek mag van distrik tot distrik verskil en moet altyd eers met jou plaaslike veearts bespreek word voordat dit toegepas word.
Daar is ’n baie groot behoefte aan ’n vroeë waarskuwingstelsel ten opsigte van veegesondheid en elke boer word uitgenooi om enige vreemde waarnemings of hoë voorkoms van ’n spesifieke siekte te stuur aan danie.odendaal@veearts.netof faks dit na 0866-123-222.
Ek het 3 maande gelede my bees met Levoxi gedosseer. Hoofsaaklik om lewerslak en peervormige maagslak te behandel. Het nou een van die ou koeie geslag en haar pens is vol peervormige maagslak. Moet ek dieselfde produk weer gebruik of is daar iets anders wat aanbeveel kan word wat beide die parasiete kan behandel. Dalk iets inspuitbaar wat eksterne parasiete ook sal beheer?