Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 25th November 2021

TLU SA maan boere: Fnuik veediefstal in dié feesseisoen

By 3 min read
669 words

tlu sa 1

deur Andrea van Wyk

 ’n Groot kopseer vir Suid-Afrika se boere is veediefstal, veral tydens die feesseisoen waartydens misdadigers van boere se vee “krismisbokse” maak.

“Die huidige situasie is reeds onaan­vaarbaar en die werklikheid is dat voorvalle van veediefstal met die fees­seisoen wat kom gaan vermeerder,” het TLU SA onlangs in ’n mediaverklaring gewaarsku.

Alhoewel statistiek toon dat daar die afgelope tyd in verskeie provinsies ’n afname in veediefstal is, sê dié land­bouorganisasie dat die getalle mislei­dend kan wees. Boere verloor al hoe meer vertroue in die polisie en meld bloot nie meer sake aan nie weens frustrasie omdat die polisie nie teen veediewe optree nie.

“Boere het vertroue in die polisie verloor, en nie sonder rede nie,” sê Mort Mortssagne, voorsitter van TLU SA se veiligheidskomitee in die verklaring. “Baie van die polisiebeamptes is deel van die veediefstalsindikate. Veediefstal is ’n groot, georganiseerde bedryf en groot geld is ter sprake.

 “Tans word slegs sowat 20% van sake aangemeld en ’n skamele 4% daarvan word suksesvol ondersoek. “Die kanse om die oortreders vas te trek is reeds so klein en dan is die forensiese werk op veediefstal nie op standaard nie.”

Volgens hom word 2 tot 5% van alle kalwers in Suid-Afrika gesteel. Willie Clack, voorsitter van die Na­sionale Veediefstalvoorkomingsforum, bevestig dat veediefstal oor die feestyd toeneem, veral in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Vrystaat. In Mpuma­langa en Noordwes is daar oor dié tyd gewoonlik ’n effense toename in die aan­tal vee wat gesteel word, maar nie in die aantal sake wat aangemeld word nie.

Dr Theo de Jager, direksievoorsitter van die organisasie Saai, sê ’n rede vir die toename is dat meer feesvieringe plaasvind, dat daar ’n vraag na vleis is en dat mense meer geld nodig het.

“Oktober en November is ook ge­woonlik planttyd en boere het min tyd om self hulle vee te tel. Hulle kom dan in Desember agter dat hulle vee gesteel is.” Sy raad aan boere is om gereeld self vee te tel. “Een maal per week is nie genoeg nie. Moenie veewagters vertrou nie en sorg dat al jou vee gebrandmerk of getatoeëer is. Patrol­lering en die gebruik van tegnologie soos halsbande en kameras, kan ook help om die misdaad te stuit.”

Willie Clack sê dit is belangrik dat boere hulle roetine verander. “Jou roetine maak dat jy baie maklik aan misdaad blootgestel word. Die misda­digers hou jou dop en stel jou roetine vas. Hulle slaan dan toe sodra hulle jou roetine vasgestel het. Ons moet onthou dat misdaad nie altyd op die ingewing van die oomblik plaasvind nie, maar dat dit eintlik haarfyn beplan word oor bepaalde periodes.”

Dr De Jager sê die impak van veediefstal op boere is geweldig groot. “Veediewe raak al hoe meer gewelddadig. Daar word op veewagters en boere geskiet en hulle word selfs vermoor. Volgens Statistiek SA word 70,7% van veediefstalgevalle nie aangemeld nie.

“Unisa beraam die waarde van vee wat in die 2019/21-boekjaar gesteel is op meer as R1,1 miljoen. Dié bedrag kan drie keer vermeerder word om by die ware gemiddelde waarde uit te kom. Daar word daagliks 182 beeste, 282 skape en 138 bokke in Suid-Afrika gesteel, en dit is net dié wat aangemeld word. Die ekonomiese waarde is enorm.”

Ronnie Schilling, TLU SA se streek­bestuurder: Oos en Natal, raai boere aan om tydens die feesseisoen byko­mende maatreëls te tref om diefstal te voorkom.

“Hulle moet – en hierdie is van uiter­ste belang – aansluit by hulle plaaslike sekerheidstrukture. Indien hulle sake aanmeld, moet hulle deurlopend met die ondersoekbeampte in aanraking bly totdat die saak hof toe geneem word.”

Dr De Jager sê die polisie behoort meer landelike patrollies te doen en padblokkades te stel. “Voertuie wat vee vervoer se Artikel 6- en Artikel 8-dokumente moet nagegaan word om te verseker dat dit korrek en volledig ingevul is en die polisie moet verseker dat die vee se merke ooreenstem met die verwydersingsertifikaat. Afsetpunte se dokumentasie moet ook nagegaan word en die polisie moet hierdie wette streng toepas.”

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0