Categories: NewsPublished On: 20th April 2016

Suiwelboere werk saam in nuwe sakemodel

By 2 min read
356 words

melkkoeieeet

Dertig suiwelboere in KwaZulu-Natal het saamgespan en drie ondernemings geskep waardeur hulle die verskaffing van suiwelprodukte aan kleinhandelaars kan waarborg. Die organisasie, bekend as Dairy Day, kan nou 600 000 liter melk daagliks verwerk.

Bertie Hamman, hoofbestuurder van Landbou vir Standard Bank, Dairy Day se primêre bankier, glo dat hulle sakemodel ‘n paar kwessies rakende die suiwelsektor en landbou in die algemeen oplos. Dus ondersteun hulle Dairy Day.

Deur die samespanning beskerm die boere hulleself teen pryswisselings en kry hulle ‘n groter deel van die uiteindelike verbruikersbesteding.

Elke boer se aandeelhouding in Dairy Day is in verhouding met die aantal liter melk wat hy kan lewer. Dairy Day besit op sy beurt 85% van die aandele in twee melkerye, Honeydew en Stonelees en ‘n nuwe verwerkingsaanleg wat pas in Howick opgerig is teen ‘n koste van R100-miljoen. Die aanleg van 22 000 m2  kan melk verwerk en verpak met verskillende handelsname vir verskillende leweransiers of handelaars. Hulle eie produkte word onder die handelsnaam, Honeydew, verkoop. 

In totaal kan Dairy Day 600 000 liter vars melk daagliks bottel of verwerkte produkte lewer soos maas, jogurt, room, botter en poeiermelk. Werk word verskaf aan 1 200 mense.

Die oorblywende 15% van die aandele behoort aan ‘n werknemersorganisasie, die Dairy Day Workers Trust.

Paul Marshall, uitvoerende direkteur van Dairy Day sê: “Anders as ander organisasies of koöperatiewe ondernemings wat aan boere behoort, glo ons daaraan om ‘n diens te lewer en nie net ‘n produk nie. Ons doen dit deur lewering aan handelaars te waarborg.”

“Ons weet presies hoeveel ons boere kan lewer en dus wat die fabriek se lewering kan wees, en omdat die boere ook die voordeel van inkomste uit die aanleg geniet, is dit tot hulle voordeel om aan te hou lewer en nie van koper te verander nie.”

Boere weet ook dat hulle nie in die steek gelaat sal word in tye wanneer daar ‘n ooraanbod van melk is en ander kopers pryse verlaag nie.

Bertie Hamman van Standard Bank sê dit is baie goed dat boere hulle risiko versprei en inkomste verhoog deur betrokke te raak by die verwerking van hulle eie produkte. Dit is waarom hulle die Dairy Day-konsep ondersteun.

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0