Shell steun Johan se stempeltog

Van Platjan tot Zanzibar, Ongeluksnek tot Oshoek en McCarthy’s Rest tot Onseepkans… Dit is ‘n paar van die name van grensposte wat Johan Rothmann van Kaapstad begeester het om ‘n epiese stempeltog te onderneem.
Aangedryf deur Shell se Diesel Extra gaan hy en sy vrou, Marietta, van 1 Oktober af in ‘n Toyota Hilux by al 72 grensposte in Suid-Afrika besoek aflê en hulle ervarings neerstip. Die uiteinde gaan ‘n reisverhaal wees met interessanthede oor die omgewing en ontstaan van elke grenspos, maar ook om uit te vind wat ‘n reisiger alles moet deurmaak om by ‘n grenspos ‘n stempel in sy paspoort te kry.
Johan sê: “Ek kry dikwels die idee dat die personeel doelbewus opgelei word om bot en onbehulpsaam te wees. Daar is nie gebruikersvriendelike aanwysings of hulp by grensposte nie. Reisigers moet maar self uitsnuffel watter vorms ingevul moet word en waar dit ingedien moet word. En as jy in die verkeerde ry staan, gaan niemand jou reghelp tot jy voorkom en dan weer na die agterkant van ‘n ander ry stuur nie.”
Hy wil gaan kyk of dit orals dieselfde is, maar moontlik as voorbode van die diens wat hy te wagte kan wees, wag hy nou al weke lank vir ‘n brief van Binnelandse Sake waarin sy stempeltog bevestig word, sodat hy nie by die eerste grenspos agter tralies beland nie!

Die reis is ongeveer 12 000 kilometer lank en Johan het uitgewerk dat dit tussen ses en agt weke sal neem om te voltooi. Dit is nie moontlik om te voorspel hoe lank hulle by elke grenspos gaan toustaan nie, so hy en Marietta sal maar hulle slaapplek reël soos wat hulle vorder.
Johan sê paaie en plekke se name wat hy op kaarte sien, sit sy verbeelding aan die werk. “Dan volg die drome en planne totdat ek daarheen kan reis.”
Hy sê hy het na sy uittrede uit ‘n vaste korporatiewe loopbaan heelwat navorsing gedoen om ‘n reis deur Suid-Afrika te vind wat nog nie vantevore onderneem is nie. So is die stempeltog gebore.
Dit is nie die eerste baanbrekerswerk wat Johan doen nie; hy was betrokke by die skryf van rekenaarbestuursprogramme vir boere lank voor rekenaars mode geword het. Dit het bekend gestaan as Properdata en hy dink daar is nou nog boere wat sy Finvloei-program gebruik.
Die tipe inligting wat tydens die reis per grenspos ingesamel en gepubliseer sal word, sluit die volgende in:
· Geografiese grens (berg, rivier, brug, see)
· Naaste dorp aan grenspos
· Geriewe in die omgewing (medies, brandstof, verblyf)
· Toestand van geriewe by grenspos
· Ontstaan van grenspos
· Mees geskikte gebruik vir grenspos
· Personeel (aantal, houding, bekwaamheid)
· Operasionele inligting (ure, aantal besoekers)
· Oorgrens-inligting
Met al hoe meer boere en landboumaatskappye wat belange in boerdery noord van die Limpopo ontwikkel, kan die inligting ook vir die landboubedryf waardevol wees.
Belangstellendes kan die verloop van die reis volg op www.proagri.co.za of op ons ProAgri-bakkiesblad. Druk net op die “F” hierbo om ‘n vriend te word.

Foto’s en grafika deur Johan Rothmann verskaf. Besoek gerus sy blog by http://saportsofentry.blogspot.com