Categories: News, SafetyPublished On: 31st May 2017

Securex skitter met veiligheidsplanne

By 4 min read

Van die nuutste kommunikasie- en kamerategnologie, tot stewige heinings en ondeurdringbare deure, kan tans by die Securex-skou by Gallagher Estate in Midrand gesien word.  Dit is die grootste internasionale veiligheidskou in die land en ProAgri het gaan inloer om te kyk wat is daar vir boere. Die skou maak more (Donderdag 1 Junie) klaar. Die gehalte van die uitstallings en die tegnologie is uit die boonste rakke!

Stafix

Stafix word gereeld in ProAgri gesien en hulle het ‘n verskeidenheid oplossings vir boere. Shaun Williamson sê die skou bied vir hulle ‘n geleentheid om na ander lande uit te reik en hulle het al belangstelling ontvang vanuit Angola, Nigierië, Zambië, Zimbabwe, Swaziland en Mosambiek. Hy sê Stafix bied veiligheidsoplossings en nie net produkte nie. Van elektriese heinings, tot kontrolekamers en afstandkommunikasie is deel van hulle pakkette. Een van hulle produkte wat veral gewild is onder boere is Roboguard wat jy op enige plek op die plaas kan laat waghou. Besoek gerus www.stafix.co.za om te sien watter een van hulle 22 kantore is naby jou.

 

 

 

Miro Distribution

Marco Rademan van Miro sê hulle kan boere help met afstandkommunikasie, soos om pompe van die huis af aan en af te skakel en ook kamera’s wat oral ‘n ogie kan hou, tot in die stikdonkerte. Hy sê veral wildboere maak deesdae van hulle tegnologie gebruik om voerplekke en soutblokke dop te hou. Marco sê boere sal verbaas wees oor die bekostigbaarheid, gehalte en gerief van die nuwe tegnologie. Elke kamera het sy eie “brein” en jy kan dit ook stel om jou te waarsku as iemand met die kamera probeer lol. Kry meer inligting by www.miro.co.za.

ZKTeco

ZKTeco spesialiseer in toegangsbeheer vir mense, maar dieselfde tegnologie kan aangepas word om diere te bestuur. ZKBiofarm is die produk waarvoor boere op die uitkyk moet wees. Dit lyk soos ‘n gewone oorplaatjie wat boere gebruik om beeste te merk, maar met die nodige sagteware en afstandkommunikasie word dit ‘n hele bestuurstelsel waardeur elke dier se gewig, bewegings en dragtigheid byvoorbeeld aangedui kan word. Johannes Tlhabi van ZKTeco is self ook ‘n boer en hy sê nog ‘n nuttige produk wat hulle vir boere het is die mobiele klokmasjien. Nou kan jy net met die masjien op oesdag langs die land gaan staan en elke werker laat inklok en uitklok om te help met die uitwerk van lone. Besoek www.zkteco.co.za vir meer besonderhede.

 

Great Door Company

Lukas Krasauskas is oorspronklik van Litoue en hy sê dit is vir hom ontstellend dat boere in Suid-Afrika die gevaarlikste beroep in die wêreld het. Hy sê sekuriteit by enige huis begin met ‘n goeie deur en daarom vervaardig hulle deure wat nie oopgebreek kan word nie en ook koeëls kan stop. Dit hoef egter nie soos ‘n kluis se deur te lyk nie, en daar is verskillende style waaruit mense kan kies. Hy meen so ‘n deur is ideaal vir ‘n veilige vertrek in ‘n plaashuis waar die hele familie kan skuil tot hulp opdaag wanneer daar ‘n aanval is. Kry meer inligting by www.greatdoorcompany.co.za.

Truteq

Truteq spesialiseer in draadlose kommunikasie en het heelwat afstandbeheeroplossings vir boere. Derick Roberts sê hulle het op die oomblik ‘n spesiale aanbod op ‘n alarmstelsel sonder enige drade waarvan die infrarooi ogies ‘n honderd meter ver van die paneel af kan wees. Die paneel kan met 64 ogies gelyk werk wat beteken dat jy die hele werf, skuur en huis kan dophou. Jy sit ‘n SIM-kaart in, programmeer die paneel om die ogies dop te hou wat jy in daardie stadium wil laat werk en gaan aan met jou ander take. Die paneel kan ‘n teksboodskap na drie selfone uitstuur en vyf ander fone elk ‘n “missed call” gee, sodat die bure kan kom help as dit nodig is. Die paneel en twee ogies is tans beskikbaar vir net R699! Derick sê hulle het al interessante stories gehoor van waar mense orals die ogies neersit…soos in ‘n geparkeerde voertuig, buitekant jou tent as jy uitkamp tussen die hiënas of selfs net om die koekieblik in die spens dop te hou. Stuur vir hom ‘n e-pos na derick@truteqdevices.com  om jou mobiele alarmstelsel te bestel.

 

Views: 94Comments Off on Securex skitter met veiligheidsplanne

Deel hierdie artikel.