Categories: NewsPublished On: 1st August 2016

Sangsensasie van Villiersdorp wen Agri’s got Talent 2016

By 3 min read
578 words

agris got talent

Die soektog na ‘n goue stem vanuit die vrugte- en wynbedryf het Vrydagaand op ‘n hoogtepunt geëindig toe Neville Fortuin as die wenner van Agri’s got Talent 2016 aangewys is.

Tien finaliste het tydens ‘n gala-aand op die Kronenburg-landgoed net buite die Paarl, met hart en siel gesing om die beoordelaarspaneel te beïndruk, maar uiteindelik was dit Neville van Little Oaks by Villiersdorp wat die trofee huis toe geneem het.

Neville wat maar ‘n skrale 19 jaar oud is, sê musiek is sy lewe. “Ek studeer musiek net waar ek gaan… op die TV, internet … oral waar die geleentheid homself voordoen. As ek die heeldag oor musiek kan praat, is ek gelukkig.”

Neville het ‘n kontantprys van R5 000 gewen en sal oor die volgende jaar die geleentheid kry om by landbougeleenthede op te tree. Abraham Erasmus van Zandvliet Indigo Fruit Farming buite Ashton was in die tweede plek, en Josephine Karelse van Robertson Winery, by Robertson, was derde. Die beoordelaars was dit eens dat die kompetisie vanjaar uiters straf was, met elke finalis wat duidelik baie talent het.

Agri’s got Talent is ‘n sangkompetisie vir landbouwerkers in die vrugte- en wynbedryf. Dit was die derde jaar wat die kompetisie gehou is, en is vanjaar gesamentlik deur HORTGRO, die VinPro Stigting en die Wes-Kaapse Departement van Landbou geborg.

Die sangeres, Andriëtte Norman, die rymkletser, HemelBesem, en musikant, Frieda van den Heever, het saam met die tien finaliste die Bolandse berge laat dreun. Die vorige twee wenners, Ayabonga Mhobo (2014-wenner) en Armando Baartman (2015-wenner) het ook die gehoor vermaak. Die finaliste is uit 75 video-inskrywings gekies en het verlede week reeds in die Paarl bymekaar gekom vir intensiewe sang- en verhoogopleiding onder die bekwame hand van Frieda van den Heever en haar span. ‘n Lewensvaardighedekomponent, wat deur Procare Wes-Kaap aangebied is, het interpersoonlike vaardighede, asook konflik-en stresbestuur ingesluit.

“Die Agri’s got Talent projek bied aan vrugte- en wynbedryfwerkers ‘n platform om hul talent ten toon te stel, en terselfdertyd lewensvaardighede te ontwikkel, waarmee hulle ‘n verskil in hul onderskeie gemeenskappe kan maak,” sê Anton Rabe, uitvoerende direkteur van HORTGRO, die sagtevrugtebedryfdiensorganisasie van Suid-Afrika. Rabe het aanvanklik op die idee van ‘n talentkompetisie vir plaas- en pakhuis/kelderwerkers gekom. Rabe se visie is dat hierdie kompetisie mettertyd na die breër landboubedryf op nasionale vlak kan uitbrei.

Dit is volgens hom ‘n voorbeeld van die multi-dimensionele aard van die sektor waardeur die landbou en landelike gemeenskappe as geheel kan bydra tot die ontsluiting van die land se volle potensiaal. “Gegewe die gewildheid van realiteitstelevisie en die geleenthede wat agterna vir finaliste oopgaan, is ‘n volgende droom om ‘n album van die laaste drie jaar se top 3 wenners te maak. Wie weet wat daarna kan gebeur en waar die kompetisie kan eindig?”

Rabe het ook veral werkgewers bedank wat plaaswerkers die geleentheid bied om hulle ander talente te ontwikkel en daardeur hul groei, menswaardigheid en selfvertroue te bevorder. Volgens Jana Loots van VinPro en organiseerder van die projek, is Agri’s got Talent ‘n projek wat op verskillende vlakke deur grense breek. “Van die vorige jare se finaliste het ware ambassadeurs vir hul plase en gemeenskappe geword, en maak werklik ‘n verskil deur onder andere musiekprogramme vir die jeug of ander opheffingsprojekte op die been te bring.”

Agri’s got Talent is ‘n gesamentlike sosiale opheffingsprojek deur HORTGRO, die VinPro Stigting en die Wes-Kaap Regering se Departement Landbou.

Foto: Abraham Erasmus (2de), Neville Fortuin (2016 wenner) en Josephine Karelse (3de).

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0