Sakeliga KragDag gaan jaar na jaar van krag tot krag

DJI_20220813120041_0004.00_00_43_45.Still001
KragDag 2022 vanuit die lug.
՚n Groot en geesdriftige toeloop van belangstellendes het weer vanjaar se KragDag-landbouskou naby Rayton, oos van Pretoria, gekenmerk.
Die Sakeliga KragDag-ekspo se getal uitstallers het sedert verlede jaar met 23% gegroei, van 470 ondernemings tot 580 vanjaar. Net so het die bywoningsyfer met 47% gegroei van 21 000 tot 30 900 vanjaar.

KragDag se welbekende leuse, Doen jou eie ding, het jaar na jaar ՚n saadjie by al hoe meer mense begin plant. By KragDag vind jy oplossings vir die uitdagings van energie, water, veiligheid, gesondheid, voedselproduksie, opvoedkunde, vervoer en konstruksie, en word ՚n lewensingesteldheid van skeppingskrag en ondernemerskap aangewakker.
KragDag begeester ons mense om ՚n doen-jou-eie-ding-leefstyl aan te neem. Dit sluit selfstandigheid, alternatiewe energie, en oplossings vir ՚n alternatiewe vryweesbestaan in. KragDag huisves ook die grootste landbouskou in Gauteng.
Volgens die organiseerders kan dit nie net mense se lewensgehalte verbeter nie, maar ook werkloosheid in Suid-Afrika hokslaan en armoede verbreek. Volgens Sakeliga gaan groter selfstandigheid veral in die volgende dekade belangrik wees.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, vertel: “Mense en ondernemings is ongelukkig toenemend geïsoleerd en word gedwing om werk en sake te doen binne ՚n vyandige, vervallende, staatsoorheersde ekonomie. Om jou eie ding te doen, is die vinnige manier om staatsverval te omseil, en KragDag fasiliteer presies dit — selfstandigheidsoplossings.”
Prof Willie Cronjé van die Departement Elektriese Ingenieurswese van die Universiteit van Witwatersrand, het in lesing aan die publiek genoem dat mense wat selfonderhoudend wil wees dikwels die fout maak om alles op een slag te wil doen. “My heel eerste projek was om my sekerheidsheining se ligte na sonkrag oor te skakel, en nou het ek die gemoedsrus dat, selfs wanneer daar kragonderbrekings is, my sekerheidsligte steeds in werking is. Deur die proses leer jy hoe dit werk en dan kan jy van daar af uitbrei.”
KragDag was vanjaar weer volgepak met nuwighede wat ՚n snuffelmark, ՚n wye verskeidenheid uitstallers, en verskeie aktiwiteite in die arena wat vertonings met perde en berede boogskiet, vee-rastentoonstellings en hommeltuigdemonstrasies ingesluit het. Daar was ook talle lesings en paneelbesprekings deur bekendes en kenners.

In samewerking met Solidariteit Helpende Hand is die eerste Kou- en Kunsmark aangebied, waar ՚n groot verskeidenheid handgemaakte produkte verkoop is.
Teken solank die datum aan: Met 9 Augustus se openbare vakansiedag wat volgende jaar op ՚n Woensdag val, word die Sakeliga KragDagekspo van 2023 vir die eerste keer na vier dae verleng en dit sal DV plaasvind van 9 tot 12 Augustus 2023 Voornemende uitstallers sal binnekort kan begin aansoek doen. Vir enige navrae, kontak Sonè Saunders by sone@kragdag.co.za.