Categories: NewsPublished On: 17th February 2017

SA handskeerder weer met wêreldtitel bekroon

By 1 min read
258 words
SA handskeerder

IMG_3107

Die handskeerder, Mayenseke Shweni, is verlede week as die wêreldkampioen op die Wêreld Skaapskeer- en Wolhanteringskampioenskap bekroon. Dit het in Invercargill, Southland, Nieu-Seeland plaasgevind.

Hy het die Southland All Nations Opekampioenskap- sowel as die Wêreldkampioenskap-titel in die handskeer-afdeling gewen. Dit is sy tweede wêreldtitel nadat hy naaswenner was in die 2011-kampioenskappe. Sy spanmaat, Bongani Joel, het vierde plek in die finaal verower.

Die Suid-Afrikaanse span het ‘n week voor die kompetisie ‘n twee-en-‘n-half-dae oefensessie ondergaan om 1 000 ooie te skeer in die plaasskuur van Chris en Robin O’Connell in Orepuki.  Hier is hulle blootgestel aan die tipe skaap wat baie sterk wol (tussen 36 – 40 mikron) lewer en wat lyk soos ou bokhaar. Hierdie sessie is ook goed benut ter voorbereiding van hulle skaapskêre vir die kompetisie.

Volgens die skeerspanbestuurder, Izak Klopper, is Suid-Afrikaanse skeerders fisies sterker as hulle Australiese en Nieu-Seelandse mededingers as gevolg van die feit dat hulle baie meer skape skeer.  Hulle voorarms en handspiere is meer gelouter en hulle uithouvermoë is baie sterker gevestig.

Suider-Afrika oorheers die handskeerafdeling sedert 1996 toe Elliot Ntsobo van Lesotho as eerste deelnemer uit Afrika gekroon is as wêreldkampioen. Zweliwile Hans het die titel al vier keer verower, die eerste keer in 1998 in Gorey, Ierland.

Die Nasionale Wolkwekersvereniging van Suid-Afrika (NWKV) juig oor die prestasies van Shweni en Joel en kan met trots verkondig dat die standaard van skeer in Suid-Afrika, van wêreldgehalte is. Die emosies wat gepaard gegaan het met die aankondiging en oorhandiging van die titel, getuig van ware ambassadeurskap.

Bron: NWKV

SA handskeerder

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0