Reënval vir Februariemaand lyk belowend

reenfoto
Deur Johan van den Berg, Santam Landbou
Gegewe die huidige stand van beide die Stille Oseaan (Nino-areas) en die Indiese Oseaan is die reënvalverwagting gemiddeld tot selfs bogemiddeld vir veral Februarie en Maart oor die grootste gedeelte van die somerreënvalgebied. Somerreënvalstelsels kan selfs so sterk wes ontwikkel en dan suidooswaarts draai om somerreënval in die winterreënvalgebied te veroorsaak.
Die normale winterreën vir die winterreënvalgebied kan egter later as normaal kom en ‘n droër eerste deel van die winter veroorsaak.
Stand van see-oppervlaktemperature
Swak La Nina-toestande tot meer neutrale see-oppervlaktemperature domineer steeds in die sentrale Stille Oseaan. Die Indiese Oseaan Dipool Indeks (IOD) het teruggekeer na baie naby aan neutraal nadat dit vir ‘n lang periode baie sterk negatief was. ‘n Negatiewe IOD word geassosieer met koeler oppervlakte water nader aan die Afrika kontinent en warmer water nader aan Australië en Suid-oos Asië. Negatiewe tot neutrale IOD fases is gewoonlik verantwoordelik vir ‘n laer frekwensie van tropiese siklone nader aan die Afrika kontinent.
Stand van droogte
Wat die somerreënvalgebied betref is daar verligting van die droogte oor groot gebiede. Dit is veral die somergraanoes wat teen einde Januarie in ‘n baie goeie toestand is as gevolg van die baie goeie reënvaltotale asook verspreiding oor tyd, opgevolg met sonskynweer. Indien min of swak reën egter in Februarie en Maart gaan voorkom kan dit nog groot droogteskades aan die oes veroorsaak. Die stelling kan egter gemaak word dat indien daar 50 mm tot 100 mm oor die somergraangebied gaan voorkom in die eerste helfte van Februarie, daar ‘n baie goeie somergraanoes gaan kom omdat baie mielies en ander grane in hierdie periode in die sensitiewe blomstadium gaan wees.
Wat weidingstoestande betref is herstel tans aan die gang maar daar is nog ‘n ver pad na volledige herstel. Indien Februarie en Maart gemiddelde tot bogemiddelde reënval kry en die verspreiding oor tyd is goed, kan die droogte tot ‘n groot mate gebreek wees vir die weidingsgebiede maar volledige herstel sal nie net in een seisoen plaasvind nie. Veegetalle moet dus steeds aanpas by beskikbare weiding met inagneming van die winterstoestande wat voorlê. Ondergrondse water asook oppervlakwater in damme het nog baie min herstel getoon. Bogemiddelde reën is nodig vir die res van die somerreënvalseisoen om genoeg aanvulling te gee.
Om op te som:
- Tans duur die neutrale tot effens La Nina toestande voort maar neig al meer na neutraal vir die volgende maande.
- Toestande vir opvolgreën lyk steeds goed vir Februarie en Maart oor groot dele van die land, veral oor die sentrale tot westelike dele.
- Wat die winterreënvalgebied betref kan baie diep en sterk somerreënvalstelsels selfs somerreën oor hierdie gebiede veroorsaak. Die kanse is egter goed dat daar ‘n versteuring kan kom in die normale winterreënvalpatroon.
- Wat weidingstoestande in die somerreënvalgebied betref gaan Februarie en Maart bepalend wees of die droogte gebreek gaan word. Februarie en Maart is histories van die hoogste en mees betroubare reënvalmaande oor groot gedeeltes van die land en is die verwagting dus daar dat ‘n verdere wegswaai van droogtetoestande kan voorkom.
- Die eerste twee weke van Februarie gaan bepalend wees vir Somergraanproduksie om te bepaal of daar rekordopbrengste gaan wees. Meer as 50 mm in hierdie periode gaan verseker dat die gevaar vir droogtestremming baie skraal is en daar ‘n baie hoë potensiaal gaan wees.
- Aanvulling van damme en ondergrondse water hang af van wat in Februarie en Maart gaan gebeur in terme van reënval.
Vrywaring: Die inligting in hierdie verslag word gebruik op eie risiko en die opsteller neem geen verantwoordelikheid vir die akkuraatheid of toepaslikheid van hierdie inligting nie.