Pruimmense-stel-die-standaard
Die steenvrugteprodusente-organisasie doen baie moeite om pruime se gewildheid onder jan-publiek te laat toeneem. Hulle is reeds vyf jaar met ‘n promosieveldtog besig en vanjaar val die klem op die informele handelaar.
Hierdie kleinskaal-ondernemers koop hulle pruime op die varsproduktemarkte en smous dit dan by taxi-staanplekke, treinstasies, op besige straathoeke van die middestad of enige plek waar baie mense verby loop.
As deel van die veldtog word die informele handelaars nie net geleer hoe voedsaam pruime is nie maar ook hoe om die vrugte te hanteer en te bemark. Volgens Marianne van der Laarse van die Produce Marketing Association is een van hulle hoofdoelstellings om inligting deur middel van die handelaars by verbruikers uit te kry.
Voedingskundiges is baie beïndruk met die voedingswaarde van pruime. Hulle meen dat pruime dieselfde waarde vir geld as die sogenaamde “super kos” soos bloubessies en brame bied.
Dit is ook waarom die steenvrugteprodusente-organisasie, in samewerking met die Tswane-varsproduktemark, ‘n vindingryke kompetisie vir informele handelaars van stapel gestuur stuur het. Om te kon deelneem moes die handelaars in besit wees van ‘n mark-aankoopkaart en moes hulle uiteraard pruime te koop aanbied.
Ongeveer 80 infomele handelaars het deelgeneem. Die beoordeelaars wou sien dat die vrugte mooi aangebied word en dat dit netjies rondom die stalletjie was. Indien daar ‘n dak oor die stalletjie was om die vrugte teen son te beskerm het dit meer punte vir die deelnemer beteken.
Die wenner, Sophie Langa van Denneboomstasie in Mamelodi, was baie in haar noppies met die R3 000 wat op haar markaankoopkaart gelaai is. Sophie stel ‘n uitstekende voorbeeld aan die ander handelaars, sê Marianne: “Haar stalletjie is netjies en al die vrugte wat sy te koop aanbied, is vars”.