Pro-Agri Forum* is die jongste korporatiewe lid by Agri SA

Agri SA logo Kleur NUWE
“Agri SA is verheug om Pro-Agri Forum te verwelkom as sy jongste korporatiewe lid,” sê Johannes Möller, president van Agri SA.
Pro-Agri Forum, as ‘n groep kommersiële mega-boere, is ‘n leier in die landbousektor waar hulle in opkomende boere belê en hulle bemagtig deur vaardigheidsontwikkeling en die deel van kennis. “Dit is vir ons opwindend om saam met Agri SA te werk en ons glo daar is nog heelwat om te leer. Ons waardeer wat Agri SA in belang van die boer doen. Nou is die tyd vir ons almal in die waardeketting om saam te werk,” aldus Charl Senekal van Pro-Agri Forum.
Agri SA se korporatiewe lidmaatskap bied aan lede uitstekende voordele binne die bedryf en toegang tot sentrums van uitnemendheid vir die hantering van kwessies wat verband hou met grond, natuurlike hulpbronne, arbeid, handel, veiligheid en sekuriteit en transformasie, asook toegang tot die Korporatiewe Kamer. Agri SA bied ook toegang tot sy wye netwerk en kundigheid in die landboubedryf, oplossings vir unieke behoeftes en insigte in die agribesigheid-waardeketting as geheel.
Agri SA sê hulle sien uit daarna om met Pro-Agri Forum saam te werk en om hierdie opwindende nuwe strategiese vennootskap verder the ontwikkel.
*LET WEL: Daar is geen verband tussen ProAgri en die Pro-Agri Forum nie. ProAgri is die geregistreerde handelsnaam van die tydskrif, ProAgri, wat al sedert 1994 bestaan.
Bron: Agri SA