Praat-vir-veiligheid
Twee landboudistrikte het pas voordeel getrek uit ‘n geldelike skenking van die Agri Securitas Trustfonds. Die fonds sê in ‘n verklaring in die Ellisras (Lephalale)-omgewing sal nagenoeg 720 boere en 6500 plaaswerkers se veiligheid ‘n hupstoot kry deur die oprigting van ‘n radio-kommunikasienetwerk. Radiotoerusting is ook aan die Van Zylsrus-landbouvereniging in die Noord-Kaap geskenk om die plaaslike polisie in staat te stel om met boere in die gebied te kan kommunikeer.
Mnr Japie Grobler, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds sê die Landelike Beveiligingsplan vir die Lephalale- gebied maak voorsiening vir ‘n Landelike Veiligheidsforum wat ‘n gesamentlike krisisbeheersentrum en operasionele sentrum op die been gebring het. Die werksaamhede van die forum in belang van die boerderygemeenskap word deur die plaaslike polisie ondersteun en die kommunikasienetwerk sal die werk van die polisie en nooddienste in die gebied aansienlik verbeter. Die netwerk sal die gemeenskap in staat stel om vinnig te reageer in noodsituasies soos plaasaanvalle, vee- en wilddiefstal en selfs renosterstropery. Die grootte van die gebied (nagenoeg 19 000 km²) noodsaak ‘n gemoderniseerde radiokommunikasienetwerk om onder andere lugondersteuning te aktiveer wanneer nodig.
In die Van Zylsrus-omgewing was kommunikasie met die polisie ‘n probleem aangesien die polisie nie oor die nodige radiotoerusting beskik om doeltreffend met die boerderygemeenskap te kommunikeer nie. Goeie werksverhoudinge bestaan tussen die boerderygemeenskap en die polisie en daarom het die Trustfonds radio’s aan die landbouvereniging beskikbaar gestel vir aanwending deur die polisie om met boere te kan kommunikeer. Die gebied grens aan Botswana en veediefstal asook diefstal van koper kom gereeld voor.
Luidens die verklaring is die Agri Securitas Trustfonds ook vir die afgelope 5 jaar aktief betrokke by die finansiering van trauma werkswinkels wat deur Reformanda Beradingsdienste aan boeregemeenskappe verskaf word. Werkswinkels wat pas in Leeudoringstad en Ermelo gehou is, is finansieel ondersteun deur die fonds.
Die Agri Securitas Trustfonds is by meer as 100 projekte landswyd betrokke in ‘n poging om landelike misdaad te bekamp en ‘n veiliger omgewing vir die boerderygemeenskap te skep.