Partex: Klein komponente wat ’n groot verskil maak

Partex
In ’n myn, aanleg of werkswinkel waar honderde kabels, drade en komponente saamwerk, kan duidelike identifikasie ’n groot verskil maak aan veiligheid en doeltreffendheid. Dit is presies waar Partex Marking Systems sy stempel afdruk.
ProAgri het tydens Electra Mining Africa 2026 by Partex se uitstalling gaan kuier om meer te leer oor die onderneming se duursame industriële merk- en identifikasie-oplossings en die diens waarmee Partex kliënte in veeleisende bedrywe ondersteun.
Die onderneming het vanjaar in Saal 2 uitgestal, waar hy sy oplossings vir onder meer die myn-, elektriese, outomatiserings-, vervoer- en infrastruktuurbedrywe ten toon gestel het.
Meer as 75 jaar se ervaring
Partex se verhaal strek terug na 1948, toe die onderneming as Electro-Lööf in Gullspång, Swede, deur Tore Lööf gestig is. Die eerste PX-kabelmerker het in 1951 gevolg en teen 1973 het die onderneming sy naam na Partex verander. Vandag is dit steeds ’n familieonderneming, met meer as 75 jaar se ervaring in industriële merkstelsels.
Partex het ook ’n gevestigde Suid-Afrikaanse teenwoordigheid nadat 70% van die voormalige plaaslike verspreider, Haley’s Electrical Engineering, in 2015 aangeskaf is.
Die onderneming vervaardig oplossings waarmee drade, kabels, pype en komponente duidelik geïdentifiseer kan word. Die produkreeks strek van kabel- en draadmerkers tot etikette en gegraveerde plate, kabelbinders en bevestigingsprodukte, drukkers, gereedskap en ander kabelbestuursoplossings.
Dit klink dalk na klein komponente, maar in groot industriële omgewings is betroubare identifikasie allesbehalwe ’n geringe saak. Duidelike en permanente merke maak foutopsporing en instandhouding makliker en help om veiligheid en produktiwiteit te verbeter.

Gebou om moeilike werk te hanteer
Vir Partex gaan dit nie net oor ’n naam of ’n nommer op ’n kabel nie. Die produk moet steeds leesbaar en bruikbaar wees nadat dit aan moeilike werksomstandighede blootgestel word.
Dit is veral belangrik in die mynbedryf, waar hitte, stof, vibrasie, olie, chemikalieë en algemene slytasie deel van die werksomgewing kan wees. Partex sê sy industriële oplossings word spesiaal ontwikkel vir duursaamheid, presisie en veiligheid en dat sy merkstelsels reeds dekades lank in swaar nywerhede, waaronder mynbou, gebruik word.
Dié fokus op gehalte en langtermynbetroubaarheid vorm ook deel van die onderneming se kernwaardes. Partex plaas gehalte, langtermynverhoudings en toeganklikheid aan sy kliënte en handelsvennote sentraal tot sy benadering.
Dit beteken kliënte kry nie net ’n duursame produk nie, maar ook die ondersteuning en diens om die regte merkoplossing vir ’n spesifieke toepassing te kies.
Ook ’n plek op die plaas
Partex se merkoplossings is nie net van toepassing op myne en groot nywerheidsaanlegte nie. Op ’n plaas kan goeie identifikasie net so waardevol wees, veral waar elektriese stelsels, besproeiing, pompe, beheerpanele, sonkraginstallasies en landboumasjinerie gebruik word.
Kabels, drade, pype en komponente kan duidelik gemerk word om dit makliker te maak om stelsels te identifiseer wanneer onderhoud, herstelwerk of foutopsporing nodig is.
In ’n omgewing waar toerusting aan stof, vog, hitte en algemene slytasie blootgestel word, bied Partex se fokus op duursame merkprodukte ’n praktiese oplossing wat boere en tegnici kan help om installasies netjieser, veiliger en makliker om te bestuur hou.
Van dennebome tot industriële kabelmerkers
Een van die interessantste aspekte van Partex se ontwikkeling lê egter in die materiaal waarvan van sy plastiekprodukte gemaak word.
Partex het in 2023 begin om van tradisionele fossielgebaseerde PVC na ’n meer volhoubare bio-sirkulêre PVC oor te skakel. ’n Groot gedeelte van die hernubare grondstof wat daarvoor gebruik word, is afkomstig van denne-olie uit die bosboubedryf. Dit is waarskynlik die “boomsap” waarna daar tydens die gesprek by die ekspo verwys is.
Die slim deel is dat Partex nie duursaamheid hoef prys te gee om die materiaal meer volhoubaar te maak nie. Volgens die onderneming toon die bio-gebaseerde grondstof baie soortgelyke eienskappe as sy fossielgebaseerde voorganger. Dit beteken dat die materiaal steeds geskik is vir die langdurige, veeleisende toepassings waarvoor Partex se produkte bekend is.
Van die bekende PA-kabelmerkers word byvoorbeeld reeds as PVC afkomstig van biogebaseerde grondstowwe (bio-attributed PVC) gespesifiseer en is ontwerp om eksterne faktore te weerstaan terwyl die merke duidelik sigbaar en leesbaar bly.
Volgens Partex kan die volle implementering van die nuwe materiaal die CO₂-impak van sy produkte met tot 80% verminder. Die onderneming skat ook dat sy oorgang van fossielgebaseerde na PVC afkomstig van biogebaseerde grondstowwe ’n jaarlikse CO₂-vermindering van ongeveer 470 ton tot gevolg kan hê.
Betroubaarheid gaan hand aan hand met goeie diens
Ná meer as 75 jaar bly Partex se uitgangspunt eenvoudig: ’n merkstelsel moet maklik wees om te gebruik, duidelik leesbaar wees en lank genoeg hou om sy werk te doen.
Vir die myn-, elektriese en industriële sektore beteken dit duursame produkte, betroubare gehalte en goeie diens, wat ondersteun word deur ’n onderneming wat voortdurend nuwe materiale en vervaardigingstegnieke ondersoek.
Partex wys daarmee dat selfs een van die kleinste komponente in ’n groot industriële stelsel ruimte bied vir innovasie, van ’n eenvoudige kabelmerker tot ’n produk waarvan die grondstof vandag gedeeltelik sy oorsprong in die bosboubedryf het.
Kontak Partex
Op soek na ’n duursame en betroubare merk- of kabelbestuursoplossing vir jou myn, aanleg of onderneming? Kontak Partex Marking Systems South Africa by (+27)31-700-2432 of sales@partex.co.za, of besoek https://www.partex.co.za/ om meer inligting te bekom oor die volledige produkreeks.


