Categories: NewsPublished On: 28th July 2016

Om die wêreld in ‘n balon en ‘n Hilux

By 2 min read
339 words

toyota-hilux_1_1800x1800

Sedert Jules Verne se klassieke verhaal, Rondom die wêreld in 80 dae, in 1873 die lig gesien het, is daar ‘n soort romanse aan die uitdaging om met unieke vervoermiddels rondom die wêreld te reis, onder andere met ‘n lugballon. ‘n Bekende 65-jarige Russiese avonturier, Fedor Konyukhov, het pas die uitdaging met vlieënde vaandels geslaag en boonop die wêreldrekord gebreek.

Fedor het ‘n paar dae gelede by die klein dorpie, Bonnie Rock in Australië, geland, 11 dae nadat hy vertrek het. Die vorige rekord deur die Amerikaner, Steve Fosset, 14 jaar gelede, is met amper twee dae geklop.

Alle grondbystand vir die poging is deur ‘n nuwe Toyota Hilux-bakkie verleen. Die bakkie het in al die vooraf vlugbedrywighede deelgeneem en het Fedor by die landingspunt gekry as die amptelike voertuig van die om-die-wêreld-ballonvaartprojek.

Die Toyota Hilux was by vanaf die opleidingsfase in Rusland en met die vertrek op 12 Julie van Northam, Australië af, was die Hilux die anker wat die balon vasgehou het tot dit moes opstyg. Met die landing was die Hilux weer daar om Fedor te help om veilig uit te klim.

Fedor se ballon was vir 11 dae in die lug en het ‘n afstand van 34 950 km gereis. Dit het oor die Stille-, Atlantiese- en Indiese oseaan gevlieg, die roete het naby Antarktika gedraai en Fedor oor Suid-Amerika en Afrika geneem tot weer in Australië. Fedor het op ‘n hoogte van 10 600 m gevlieg terwyl hy temperature van -55°C verduur het.

Fedor se seun, Oscar Konyukhov, sê: “Ek is baie trots op my pa. Dit is moeilik om die omvang van wat hy bereik het, te begryp. Om ‘n rekord te breek in ‘n warmlugballon om die wêreld is ‘n eenkeer in ‘n leeftyd-geleentheid en hy het dit gedoen.”

“Die hele Toyota-span wens hom geluk. Sy voorbeeld van ‘n 65-jarige reisiger wat die natuur uitgedaag het, wys niks is onmoontlik vir ‘n mens nie, veral wanneer jy ware vriende en ‘n betroubare voertuig het wat jou ondersteun,” sê Tatiana Khalyavskaya, bemarkingsdirekteur van Toyota Motors Rusland.

toyota-hilux_3_1800x1800

toyota-hilux_2_1800x1800

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0