Oliepryse en laat reën hou landbou op sy tone
Daar is maar altyd die klein, of groot, jakkalsies wat die vermoë het om ooglopende gunstige omstandighede deurmekaar te krap.
Absa se hoof van Agribesigheid, Ernst Janovsky, sê die gemiddelde ru-olieprys sal na verwagting op $100 tot $105 bly staan en kan selfs effens verswak, berig OFM. Hy sê met die huidige wisselkoers, wat waarskynlik nie voor die middel van die jaar gaan versterk nie, gaan brandstofpryse hoog bly en boere moet hulle staal vir nog ’n knyptangjaar van hoë insetkoste.
Voedselsekerheid is ook in die gedrang vir die nuwe produksiejaar. Dit is nie ’n uitgemaakte saak dat daar genoeg kos geproduseer sal kan word in gebiede waar reën laat geval en boere laat geplant het nie.
Graan SA se president, Louw Steytler, sê van die aangeplantings lyk goed, maar daar is dele waar te min grondvog tot probleme kan lei. Goeie reën gaan die enigste redding wees.