Nog ’n nuutjie van John Deere: Ontmoet die 6B-reeks

john deere 3
Op soek na ’n eenvoudige, betroubare, middelgrootte, ratse en kostedoeltreffende trekker? Dan sal die spiksplinternuwe 6B-reeks trekkers van John Deere perfek in jou boerdery pas. Die nuwe 6B-reeks is deeglik regdeur Afrika getoets en word nou in die Suid-Afrikaanse mark bekendgestel.
Die trekkers is beskikbaar met toe- of oopstasie-kajuite en die volgende kragopsies: 71 kW (95 pk), 81 kW (110 pk), 88 kW (120 pk) en 99 kW (135 pk), aangedryf deur bewese John Deere 4,5-liter PowerTechTM turbo-aangedrewe dieselenjins.

Die 6095B-model word aangevuur deur ’n meganiese-rotasiedieselinspui-tingenjin, terwyl die groter manne in die reeks, die 6110B, 6120B en 6135B spog met ’n elektroniese drukbuisbrandstofinspuiting met ’n lug-tot-lug verkoelingstelsel vir uitstekende pre-stasie.
Boere kan kies uit ’n verskeidenheid kostedoeltreffende en gerieflike pakkette. Alle modelle is beskikbaar met meganiese voorwielaandrywing en bied al die krag en vastrap vir die taaiste take. Die 6B’s is gebou om ’n verskeidenheid werktuie te hanteer, insluitend grondbewerkers, hooimaak-, saai- en planttoerusting, en is ook geskik vir ’n verskeidenheid spesialiteitstoepassings.
Dit is ’n goeie pasmaat vir John Deere 563-laaiers om algemene laaiwerk te doen en sal ’n staatmakerrol in die beesvleis- en melkbedryf kan speel met betrekking tot die hantering van voer. Die driepunthyser van die 6095B kan 2 500 kg lig en dié van die 6110B, 6120B en 6135B ’n allemintige 3 300 kg. Die trekkers is ook perfek vir algemene sleepwerk soos graanaftapkarre en om suikerriet aan te ry.

6B oopstasie
Die 6B oopstasie (OOS = open operator station) is beskikbaar in standaard- en luukse konfigurasies.
Die standaardpakkette word almal aangedryf met ’n droëkoppelaarbo-as gesinkroniseerde kragoordragstelsel met 12 vorentoe- en 4 truratte. Die maksimum spoed is 30 km/u met meganiese voorwielaandrywing en kragaftakkerstelsels. Die standaardmodelle het almal vaste stuurkolomme, verstelbare sitplekke, twee rolstawe en ’n dak met twee ligte vir nagwerk.
Die standaardpakket sluit ook hidrouliese vloei van 50 liter per minuut in. Dit word gelewer deur twee eksterne meganiese kleppe wat beheer word deur hefbome op die regteragtermodderskerm.
Die Deluxe-pakket bied ’n 24 vorentoe- en 12 truratnatkoppelaar hoë-/lae kragomkeer transmissie, wat maksimum spoed van 30 km/u vir die 6095B- en 40 km/u vir die 6110B-, 6120B- en 6135B-modelle lewer. Die voorwielaandrywing is meganies en die kragaftakker word beheer met ’n skakelaar op die regterhandse beheerkonsole.
Die operateur in die luukse model geniet die voordeel van ’n verstelbare stuurkolom en ’n gerieflike, luukse sitplek met armleunings om moegheid te bekamp. Die trekker is toegerus met twee voorste en twee agterste ligte vir werk tot in die laatnag of vroegoggend.
Die Deluxe oopkajuitmodelle het ook twee rolstawe vir beskerming, met ’n dak en modderskerms oor die voorwiele. Die hidrouliese stelsel van die luukse pakket lewer 60 liter per minuut deur drie beheerkleppe wat met kleurkodes aangedui word om meer hidrouliese krag aan veeleisende werktuie te gee.

6B toekajuit
Vir boere wat meer gerief en gemak verkies, word die 6B-reeks ook met ’n toekajuit met HVAC (verwarming, ventilasie en lugversorging) aangebied, wat nuttig is in streke waar dit regtig warm of koud word.
Die toekajuitmodel is ook in twee pakkette beskikbaar, naamlik die standaardmodel (Premium) en die luukse model (Deluxe). Die Premium-modelle word aangedryf deur 24 vorentoe- en 8 trurat gesinkroniseerde transmissie met ’n maksimum spoed van 30 km/u vir die 6095B en 40 km/u vir die 6110B, 6120B en die 6135B, met meganiese voorwielaandrywing en ’n elektrieshidrouliese kragaftakkerstelsel. In die Premium Cab kry die operateur ’n vaste stuurkolom en verstelbare sitplek.
Die 6095B Premium-model bied ’n hidrouliese vloei van 50 liter per minuut deur twee eksterne meganiese hidrouliese kleppe, terwyl die 6110B, 6120B en 6135B 60 liter per minuut deur drie eksterne beheerkleppe lewer. Die driepunthyser word deur eenvoudige beheerhefbome op die modderskerm regs agter beheer.
Die Deluxe Cab-pakket bied 24 vorentoe- en 12 truratte met ’n nat koppelaar en hoog-laagkragomkeertransmissie. Die 6095B haal ’n topspoed van 30 km/u, en die 6110B, 6120B en 6135B en 40 km/u. Die voorwielaandrywing is meganies en die kragaftakker word met ’n skakelaar op die regterhandse beheerpaneel beheer.

Die Delux Cab bied ook die gerief van ’n verstelbare stuurkolom en ’n gemaklike luukse sitplek met armleunings om lang ure agter die stuur geriefliker te maak. Die trekker is toegerus met twee voorste en twee agterste ligte vir werk tot in die laatnag, en die Deluxemodel spog ook met voorste modderskerms.
Die hidrouliese stelsel van die Deluxe Cab het drie beheerkleppe met ’n hidrouliese pomp wat 60 liter per minuut se olievloei lewer.
Die 6B-reeks sal vanaf Julie 2020 in die handel beskikbaar wees. Kontak jou naaste handelaar vir meer inligting en ’n demonstrasie.