Categories: NewsPublished On: 29th June 2017

Monsanto se saadpryse vir 2017 – Kleiner pitte staan hulle man

By 2 min read
saadsakke

Monsanto saadsakke

Boere kan ‘n gemiddelde prysstyging van 5,5% vir Monsanto se mieliesaad vir die komende seisoen verwag. Van die gewildste basters se verhoging sal ongeveer 3,6% wees.

Kobus Steenekamp, landhoof, Monsanto Suid-Afrika, sê hulle is bewus daarvan dat baie boere uit ‘n moeilike situasie kom met betrekking tot die onlangse droogte en hulle het die prysstygings so konserwatief as moontlik gehou. Die maatskappy het boere ook bygestaan met betalingsterme ter waarde van R200 miljoen, sodat boere eers inkomste kon kry in die stroopseisoen.

Die grootste persentasieverhoging is by die klein sade wat minder as 8% van die totale saadvoorraad uitmaak. Pieter Taljaard, inkomste optimiseringsbestuurder vir Monsanto Afrika, verduidelik dat Monsanto besig is om na ‘n eenvormige prysstelsel vir sade te beweeg, sodat boere per pit en nie meer per sak betaal nie.

Vroeër het boere minder betaal vir kleiner sade, want hulle het geglo dat kleiner sade minder groeikrag het. Pieter sê: “Die enigste verskil tussen kleiner pitte en groter pitte is net die grootte. Elke saad het dieselfde vlak van genetiese tegnologie en ontkiemingskrag. Monsanto sal nie swak saad verkoop nie.”

Al die DEKALB-saad wat in Suid-Afrika verkoop word, word plaaslik geproduseer en die saadproduksie is met ander woorde ook onderhewig aan omgewingsfaktore. Verskillende hibriede reageer verskillend op faktore soos hitte-eenhede.

Daar is ook in die verlede voorsiening gemaak vir 16 verskillende saadgroottes, wat die bestuur van die stelsel baie gekompliseer het. Van nou af is daar agt klasgroottes wat genoeg is sodat ‘n boer die regte kultivar en pitgrootte vir sy planter kan kies. Die plat pitte en ronde pitte kom elk in vier groottes, naamlik klein, medium, groot en ekstra-groot.

Vorentoe gaan die verpakking van die sade ook eenvormig wees. Elke sak sal 80 000 sade inhê ongeag die grootte van die pitte. Tans is daar sakke met 60 000 pitte ook. Kleiner boere sal steeds hulle sakkies van 2, 5 en 10 kg kan kry.

Genoeg saad vir die seisoen

Kobus Steenekamp

Kobus Steenekamp

Kobus sê hulle voorsien geen tekort aan saad vir die nuwe seisoen nie. Daar was in sekere streke onderproduksie, soos in die Groblersdalgebied langs die Krokodilrivier waar daar vloedskade was. Herfskommandowurms het ook ‘n invloed gehad, veral op konvensionele mielies wat in die telingsproses gebruik word en daar was ook streepsiekte op sekere plase.

Kobus sê: “Elke saadproduksieplaas het ‘n risikofaktor, maar ons werk dit in wanneer ons aanplantings beplan en daar sal genoeg saad wees vir normale aanplantings van 2,6 tot 2,7 miljoen hektaar.”

Dit is wel moontlik dat al die saadmaatskappye minder buffersaad as gewoonlik sal hê wat oorgedra kan word na die volgende seisoen.

0
0
Views: 70Comments Off on Monsanto se saadpryse vir 2017 – Kleiner pitte staan hulle man

Deel hierdie artikel.

0
0