Categories: NewsPublished On: 29th June 2017

Moderne persaanleg in Noordwes nou in produksie

By 1 min read
267 words

Epko Oil Seed Crushing

’n Opgegradeerde sonneblomsaad-persaanleg met die kapasiteit om die volle sonneblomoes wat in Noordwes geproduseer word – en nog meer – te verwerk, is onlangs op Lichtenburg deur Epko Oil Seed Curshing (Edms) Bpk in bedryf gestel.

Na ’n gesamentlike onderneming tussen die wêreldwye landboubesigheidsleier, Louis Dreyfus Company (Edms) Bpk en die landbou-onderneming, NWK, in 2014 gevorm is, het die aandeelhouers die opgradering van Epko se sonneblomsaad-verwerkingskapasiteit goedgekeur. ’n Wesenlike deel van die aanleg is in 2015 deur ’n brand vernietig. Die herbou en opgradering het teen September 2016 begin, en die eerste ruolie van die nuwe aanleg is in Junie 2017 onttrek.

As ’n betroubare vervaardiger en verskaffer van kwaliteit sonneblomruolie en sonneblomoliekoek sedert 1997 het Epko dit as doelwit gestel om in een van die doeltreffendste sonneblomsaadpersaanlegte in die bedryf te ontwikkel. Die aanleg se sentrale ligging vir Noordwes en die Vrystaat as die vernaamste sonneblomsaad-produksiegebiede bied ook verdere voordele.

Die aanleg word tans as een van die modernste oliesaadpersaanlegte in Suider-Afrika beskou, en het ’n skoonmaak-, uitdop-, kondisionering-, pers-, ekstraksie- en oorgietafdeling. Na ekstraksie word ruolie in grootmaat aan verskeie raffinaderye in Gauteng verskaf, terwyl oliekoek as neweproduk deur veevoervervaardigers gebruik word. Die sonneblomsaaddoppe word vir stoomproduksie in die aanleg gebruik, of as beddegoed in braaikuikenhuise verkoop.

Hoogtepunte

  • Perskapasiteit: 600 metrieke ton per dag
  • Geprojekteerde jaarlikse produksie van ruolie: 66 000 ton
  • Geprojekteerde jaarlikse produksie van sonneblomoliekoek: 75 000 ton
  • Werknemers per skof: 14
  • Totale arbeidsmag: 91
  • Bergingskapasiteit: 2 miljoen liter ruolie
  • 2 400 ton sonneblomoliekoek
  • Twee wêreldklas-aandeelhouers wat kundige ondersteuning kan verskaf:

o             Louis Dreyfus Company met internasionale verhandelingskundigheid.

o             NWK met graanhanteringsgeriewe reg langs die aanleg.

Uitgereik namens Epko Oil Seed Crushing deur Infoworks op 28 Junie 2017.

 

0
Views: 427Comments Off on Moderne persaanleg in Noordwes nou in produksie

Deel hierdie artikel.

0