Categories: News, TillingPublished On: 21st July 2014

Meer soja met minder bewerking

By 2 min read

Die klem val op sojaproduksie by vanjaar se Bewaringslandboukonferensie wat deur die Geenbewerkingsklub van Bergville aangebied word. Die konferensie word van 2 tot 4 September by die ATKV Drakensville-oord aangebied.   

Die tema van die eerste dag se lesings is: Breek die ses ton per hektaar hindernis in opbrengs van sojaboonproduksie: Is dit prakties en ekonomies uitvoerbaar? Mnr Gerhard Scholtemeijer, voorsitter van die Proteïennavorsingstigting, praat oor huidige sojaboonproduksie en -vereistes in Suid-Afrika en geleenthede vir uitbreiding van die bedryf. 

Die invloed van genotipe, rypheidsgroep, plantdatum, rywydtes en plantdigtheid op sojaboongewasopbrengs word deur dr Antony Jarvie van PANNAR bespreek en mnr Wessel van Wyk van die Proteïen Navorsingstigting hanteer onderwerpe soos bemesting, kalktoediening en blaarvoeding. Ander onderwerpe wat bespreek word is die invloed van hitte- en vogstres asook die potensiële voordele van biologiese stikstofbinding en die bestuur van sojaboonsiektes in Suidelike Afrika. 

Die volgende dag praat boere self oor hulle ondervinding met sojaboonproduksie in ‘n geenbewerking- sowel as ‘n strookbewerkingstelsel op verskillende plekke in die land. Onkruid- en plaagbeheer word bespreek asook die verbetering van verswakte grond. 

Die Donderdag se lesings gaan oor die integrasie van lewendehawe met geenbewerking. 

Op al drie dae is daar ‘n uitstalling en demonstrasies van toerusting wat vir geenbewerking gebruik kan word. Daar is ook ‘n verskeidenheid plaasbesoeke om die uitwerking van bepaalde boerderypraktyke te bekyk. 

Die organiseerders sê die konferensie is saamgestel deur boere vir boere, dit is prakties van aard met tegnologie wat op datum is, met aanmoediging vir boere se selfvertroue om geenbewerking te beoefen en motivering vir toekomstige volhoubaarheid. 

Besprekings vir die konferensie is noodsaaklik en daar is ‘n afslagtarief vir besprekings voor 15 Augustus 2014. 

Kontak Sandra by 082-472-5987 of 033-330-2062 of ntcsandra@gmail.com. Meer besonderhede is op www.notillclub.com te kry. 

Bespreek akkommodasie regstreeks by ATKV Drakensville naby Bergville by 036-438-6287 of drakensville@atkv.org.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0