Categories: NewsPublished On: 12th July 2016

Mahindra Suid-Afrika se verkope groei ondanks dalende marktendens

By 5 min read
971 words

mahindra

Mahindra Suid-Afrika, ’n filiaal van die Indiese motorreus, Mahindra & Mahindra Bpk, laat hom nie deur die huidige negatiewe voertuigverkope neiging in Suid-Afrika van stryk bring nie.

Die maatskappy se resultate vir die finansiële jaar wat in Maart 2016 geëindig het, dui ’n groeikoers van 4% aan, ondanks ’n daling van 6,7% in die algehele motormark. Dié positiewe resultate bewys hoe sterk die Mahindra-naam in SA reeds is, asook die groeiende vraag na voertuie wat buitengewone waarde bied.

Die goeie nuus het met nog ’n belangrike mylpaal vir Mahindra SA saamgeval: die maatskappy se algehele verkoopsyfer sedert 2004, toe die maatskappy begin sake doen het, het die 30 000-kerf verbygesteek.

Dié mylpale het die toon aangegee toe Mahindra SA onlangs sy netwerk handelaars vir hul verkope- en naverkope-prestasies beloon het. Die maatskappy het terselfdertyd opwindende planne vir die uitbreiding van sy handelaarnetwerk aangekondig, wat veral daarop gemik is om Mahindra se aandeel in die SA voertuigmark te vergroot.

Mahindra SA het ook van die geleentheid gebruik gemaak om verskeie nuwe Mahindra-voertuie te vertoon, onder meer die nuwe KUV100 kompakte sportnutsvoertuig wat reeds heelwat positiewe kommentaar onder die motormedia uitgelok het.

Mahindra SA beskou die 30 000-verkopekerf as ’n geskiedkundige mylpaal wat die maatskappy se toenemende betrokkenheid by die SA mark benadruk, en ook die groei in die getal plaaslike Mahindra-klante onderstreep, ondanks ’n mark wat nou meer mededingend as ooit tevore is.

Sanjoy Gupta, hoofuitvoerende beampte van Mahindra SA, sê dit is nie net ’n trotse geleentheid vir die plaasllike maatskappy nie, maar ook vir die Mahindra-handelsmerk in die algemeen.

“Toe ons 12 jaar gelede in SA begin sake doen het, was hierdie mylpaal amper onbereikbaar ver. Daarom is die feit dat ons 30 000 verkope kon behaal, nie net ’n welverdiende beloning vir die hele Mahindra SA-span se harde werk nie, maar regverdig ook ons moedermaatskappy se vertroue en geloof in SA, en in die Afrika-kontinent.”

Volgens Sanjoy word Mahindra SA se welslae verder benadruk deur die maatskappy se voortgesette groei, ondanks die negatiewe verkopetendens wat die motorbedryf tans kniehalter.

“Gegewe die afname van 6,7% wat die bedryf ondervind het, is die 4% groei wat Mahindra behaal het, besonder beduidend. Dit beklemtoon nie net die groeiende vraag na waardegerigte voertuie nie, maar ook die toenemende vertroue in die Mahindra-naam.”

Mahindra SA is ’n volfiliaal van Mahindra & Mahindra in Indië, en ondanks die plaaslike maatskappy se beskeie begin, versnel die groeitempo sedertdien voortdurend. Vandag bestaan die plaaslik beskikbare Mahindra-produkreeks uit nege modelreekse wat ’n verskeidenheid marksegmente verteenwoordig – van werkesel-bakkies tot weelderige SNVs.

“Ons produkte het die afgelope 12 jaar aan hul belofte van uitsonderlike waarde en betroubaarheid getrou gebly, en ons uiters geesdriftige en getroue klantetal groei steeds,” merk Sanjoy op.

“Sonder die verbintenis van ons handelaarnetwerk sou daardie groei egter onmoontlik gewees het. Hulle geesdrif en diensgerigte benadering was van kritieke belang om die Mahindra-naam en sy produkreeks plaaslik te vestig.”

Die maatskappy het onlangs sy voorste handelaars by ’n glansgeleentheid getrakteer, waartydens Mahindra SA se toppresterende handelaars in drie afdelings – vir groot-, medium- en klein handelaars – aangewys is.

Mahindra Bethal het die goue toekenning in die afdeling vir klein handelaars losgeslaan, terwyl Mahindra Heidelberg die silwer toekenning verower het. Brons is aan Mahindra Tzaneen toegeken.

Wat die afdeling vir mediumgrootte handelaars betref, was dit Mahindra Vaal wat goud ontvang het, terwyl Mahindra Nelspruit die silwer ingepalm het. Die brons het aan Mahindra Alberton behoort.

Mahindra Bloemfontein het die goue toekenning vir groot handelaars ontvang, met silwer vir Mahindra Montana, en die bronstoekenning vir Mahindra Centurion.

Die toekennings vir die uiters belangrike naverkopediens is by dieselfde geleentheid aangekondig. Wat klein handelaars betref, was dit Mahindra Heidelberg wat die goud ontvang het, gevolg deur die silwer vir Mahindra Brits, en ’n bronstoekenning vir Mahindra Tzaneen.

Mahindra Pietermartizburg was die goudwenner in die afdeling vir mediumgrootte handelaars, gevolg deur silwer vir Mahindra Vaal, en brons vir Mahindra Rustenburg. Mahindra Pinetown was die toppresteerder in die afdeling vir groot handelaars, gevolg deur Mahindra Polokwane met silwer, en brons vir Mahindra Bloemfontein.

Wat die voorste onderedeleverkope betref, was dit Mahindra Brits wat onder die klein handelaars geseëvier het, terwyl Mahindra Oosrand die beste van die mediumhandelaars was. Mahindra Polokwane was die voorste onderdeleverkope in die afdeling vir groot handelaars.

Die spanning het hoog geloop toe Mahindra se algehele Handelaar Van Die Jaar-wenners aangekondig is. Dié gesogte toekenning het vanjaar aan Mahindra Bloemfontein in die afdeling vir groot handelaars behoort, met Mahindra Vaal wat as die wenner in die afdeling vir mediumgrootte handelaars aangewys is. Wat klein handelaars betref, het Mahindra Heidelberg met die louere weggestap.

“Die voortgesette groei in die vraag na Mahindra-voertuie het gesorg dat ons ons netwerk handelaars verder kon uitbrei, wat nie net die beskikbaarheid van ons voertuie verbeter het nie, maar ook ons vermoë om op nasionale vlak naverkopediens en –ondersteuning te bied,” het Sanjoy opgemerk.

Die Mahindra-handelaarnetwerk behels tans meer as 60 handelaars wat verkope, naverkopediens en onderdeleverkope aan klante in al nege SA provinsies lewer, asook in die SADC-streek. Dit beteken al hoe meer gerieflike toegang tot verkope- en dienssorg. Die maatskappy is toenemend ook in ander sub-Saharalande aktief.

Mahindra SA baat steeds by die omvattende steun van sy moedermaatskappy. Mahindra & Mahindra is ’n multinasionale maatskappy met verteenwoordiging in meer as 100 lande wêreldwyd, en met ’n arbeidsmag van meer as 200 000 mense.

As ’n toekomsgerigte maatskappy wat mense bemagtig, volg die Mahindra-groep die beginsels van drie sleutelpilare: moenie beperkinge aanvaar nie; dink alternatief; en bevorder positiewe verandering.

Mahindra SA is ten nouste tot dié drie sleutelpilare verbind, en werk onverpoosd om waardegerigte vervoeroplossings aan SA verbruikers te bied, met ’n spesifieke klem op klantesorg.

“Ons glo hierdie mylpaal bewys dat SA se uiters kieskeurige motorkopers Mahindra toenemend aanvaar. Ons is ook oortuig dat Mahindra-verkope in SA en Suider-Afrika verder sal toeneem namate ons teenwoordigheid groei, en ons produkreeks verder uitgebrei word,” het Sanjoy afgesluit.

Bron: Mahindra

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0